Video: Balju ry weg met Emfuleni se voertuie

Die balju het Donderdag met Emfuleni se voertuie weggery (Foto: Eskom, Twitter)

Die balju het beslag gelê op verskeie voertuie van die Emfuleni- plaaslike munisipaliteit in Gauteng nadat Eskom ’n hofbevel bekom het om R1,3 miljard se uitstaande skuld te verhaal.

Amptenare van die balju se kantoor het Donderdag die voertuie op die munisipaliteit se perseel gaan haal.

Eskom het verlede maand die hofbevel deur die Pretoriase hooggeregshof bekom.

Die munisipaliteit is tans R5,3 miljard aan Eskom verskuldig – dít ten spyte van verskeie litigasies deur Eskom sedert 2018 om dié skuld te delg.

In die Stad Tshwane het Eskom die departement van samewerkende regering en tradisionele sake (Cogta) genader vir bemiddeling oor die stad se skuld wat aan’t toeneem is.

Volgens Eskom volg die bemiddelingsproses op ’n dispuut wat in Augustus deur Eskom verklaar is ingevolge die Raamwerkwet op Interregeringsverhoudinge 13 van 2005.

“Eskom het voorheen die munisipaliteit se wisselvallige betalings op sy grootmaatrekening aangemeld en ook sy versuim om sy kragrekeninge te betaal, ondanks verskeie skakelings met die munisipaliteit,” sê die kragvoorsiener.

Tshwane se kragrekening het teen Woensdag op R1,6 miljard gestaan nadat die munisipaliteit nie sy rekening vir September of Oktober betaal het nie. Die rekening vir die twee maande het onderskeidelik R887 miljoen en R894 miljoen beloop.

“Luidens die Wet op Openbare Finansiële Bestuur word daar van instansies verwag om in te vorder wat aan hulle verskuldig is. Om hierdie rede het Eskom vir Cogta genader om in te gryp.

“Die agterstallige skuld het negatief bygedra tot die likiditeit, finansiële prestasie en volhoubaarheid van die organisasie, tot so ʼn mate dat Eskom genoop is om geld te leen om sy finansiële verpligtinge na te kom.”

Volgens Eskom maak hy staat op munisipaliteite en sy klante om hul kragrekenings te betaal sodat kragvoorsiening kan geskied.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

31 Kommentare

marius ·

Vat hulle rekenaars , tafels , stoele , teekoppies en sommer die burgemeester ketting ook !

Swerwer ·

“Eskom maak hy staat op munisipaliteite en sy klante om hul kragrekenings te betaal sodat kragvoorsiening kan geskied” Almal weet die ANC is verantwoordelik vir Eskom en die Munisipale ondergang. Hier kom bollies met faksie gevegte wat gaan uitbreek onder mekaar.

Elize ·

Stem ek saam met jou. Dit is een groot gemors en niemand voel ‘n veer vir die volgende een nie. Wat help dit mens betaal jou rekening aan Tshwane en hulle laat die geld in een van die groot slaggate val waar niemand dit kan sien nie.

Vriendelike Frikkie ·

Ek het 3 jaar gesukkel om my rekening reg te stel met Tshwane. In daai tyd het hulle my krag afgesny en hordes dreigbriewe geskryf. Toe dit uiteindelik laasmaand reggestel is was ek R18000 rand in krediet. Ek gaan nie my asem ophou vir ‘n verskoning nie.

Roek ·

Nou het hul nog ‘n beter verskoning om geen dienste te lewer nie , die saak gaan nou net vererger en die mense wat wel hul verpligtinge nagekom het ook hier onder ly !

marius ·

Hierdie voertuie moes weggesleep word want die twaksels het sekerlik geweier om die sleutels te oorhandig . Nou gaan die belasting betalers vir elke sent moet instaan .

Koos 100 ·

Ok. Ek bly in Tshwane. Laas maand bietjie te min op my rekening betaal. Ek ontvang toe ‘n finale aanmaning, uitgereik ‘n dag nadat my bietjie te min in hulle rekening wys. Die bedrag R99.67. My rekening is reeds op datum vir November ook. Nou Tshwane, wat het julle met my en Eskom se geld gedoen?????
Eskom, neem asb distribusie van Tshwane oor, sodat my geld direk na julle kan gaan, want ek betaal my rekening aan Tshwane en julle word nie betaalnie!

Tersia ·

Ek dink dit het tyd geword dat ons liewer ons maandelikse rekeninge direk aan Eskom betaal.

domheks ·

Sonkrag! Dankie tog, geen Eskom rekening. As Eskom nou net ons deposito wil terug betaal PLUS RENTE!

Mariana ·

Sommer duike en al word hulle gelaai. Maar net nog goed wat uitmekaar val onder leiding van ANC.

Marilize ·

Julle hoef net die burgemeester en kie se voertuie te laai. Dit sal die volle uitstaende bedrag dek.

Kokerboom ·

Die vervloekte ANC het stede asook dorpe in grond bestuur. Die belastingbetalers ly daaronder.

Manie ·

Stop die kragtoevoer na alle munisipaliteite en installeer koopkrag meters vir alle gebruikers. Dit sal dalk meebring dat Eskom hulle geld kan invorder.

Wondermaarnet ·

Dis ‘n druppel in die emmer. Daardie voertuie is seker so deur hul alies getrek dat dit nie veel werd is nie.

Santie ·

Einde van elke maand staan die gehuurde stoele voor hul deur. Wonder of dit vir partytjie is. En hul is verskriklik ongeskik.

Vriendelike Frikkie ·

Dis wat jy kry wanneer politici besighede probeer bestuur. Hulle het geen benul nie. Stel bestuurders aan om multi-biljoen rand besighede te bestuur. Tshwane, Johannesburg, Durban en ander munisipaliteite wat biljoene rande in ‘n maand draai. Laat die politici gaan fotos neem saam met mammas en hulle babatjies en gaan linte knip wanneer ‘n nuwe iets oopgemaak word.

Di ·

Skreiende skande om te sien hoe hierdie eens pragtige land in die afgrond in gedryf is. Kry die onbevoegde spul nie skaam nie en hoekom is daar nie LANKAL iets hieraan gedoen nie. Hulle kom mos weg met als

Genis ·

Dis eindelik die mense wat eerlik betaal se bates daai…. vat hulle rekenaars en fone, dat hulle nie korrupsie kan pleeg nie

Pinoccio ·

Aan die einde van die dag is dit weereens ‘n las op die getroue belasting betaler se sak, onbevoegde skuldiges word geensins geraak nie.

Anel ·

Ons betaal ons rekening elke einde van die maand. Nou val die einde van die maand ipn’n Vrydag. So word die geld betaal. Dondag intvang ons finale aanmaning ons rekening is agterstallig. My man stuur epos met bewys. Woensdag weer sms. Toe stuur hy vir hulle epos dat hulle van die onbevoegste lot is en dat hy klagte teen hulle gaan lê. Groot verskoning. Maar elke keer gebeur dit. Ons betaal maar wat word van die geld wat HULLE moet oorbetaal?????

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.