Onteiening ‘kortsigtige’ besluit wat ‘armoede, hartseer’ skep

(Argieffoto: pixabay)

Die onteiening van eiendom, hoe dit ook al “verdoesel” word, skep onsekerheid en wanneer die ideologie toegepas word, “bring dit rampspoed en ellende”, sê die Ad Hoc Groep vir die Beskerming van Eiendomsregte.

Dit nadat die uiters omstrede wetsontwerp op onteiening vandeesweek in die Nasionale Vergadering aanvaar is, ondanks die teenkanting van die DA, VF Plus, IVP, EFF en ACDP. ANC-LP’s, met die hulp van onder meer die NFP, Cope, Al Jama’ah en die NFP, het verseker dat die aanvaarding van die wetsontwerp deurgevoer word.

Die wetsontwerp sal nou na pres. Cyril Ramaphosa verwys word om dit te bekragtig. Dit sal onder meer onteiening van eiendom met nul-vergoeding onder sekere omstandighede moontlik maak.

Die Ad Hoc Groep vir die Beskerming van Eiendomsregte sê die sogenaamde Zimbabwe-opsie het die afgelope paar jaar in Suid-Afrika begin momentum kry met die ANC se nasionale konferensie in Desember 2017 rondom die aanvaarde voorstel van onteiening sonder vergoeding.

Die groep beywer hom sedert 2008 vir die beskerming van eiendomsreg en die regerende party se “volharding van onteiening op een of ander wyse”.

“Daarom betreur ons die kortsigtige volharding en beheptheid van die ANC-regering om wetgewing te stoomroller waarbinne bates by implikasie onteien kan word sonder vergoeding. Die gevolge hiervan gaan die meganismes, wat onder meer noodsaaklik is om welvaart te skep, die ekonomie te laat groei en ʼn beter toekoms vir Suid-Afrika se inwoners te skep, al meer vernietig,” sê die groep in ʼn verklaring.

Jaco Schoeman, sameroeper van die Ad Hoc Groep, sê die beheptheid met ʼn uitgediende ideologiese beskouing wat wêreldwyd nog net armoede en baie hartseer veroorsaak het, is welbekend.

“Suid-Afrika pluk vandag, en met aanvaarding van die wetsontwerp, die vrugte van die ANC se faksiegevegte wat net groter beleidsonsekerheid tot gevolg het,” sê Schoeman.

Hy sê die netwerk van organisasies in die Ad Hoc Groep het ʼn direkte belang daarby dat die land suksesvol vir al sy mense funksioneer.

“Dit kan egter nie in ʼn omgewing gedoen word wat ʼn rampspoedige uitkoms as gevolg het nie. Omdat ons ʼn baie hoë premie plaas op voedselsekuriteit, moet ons ons kommer registreer en ons stem laat hoor.”

Die groep sê die “drakoniese wetgewing” sal nou met alle mag buite die parlement beveg moet word.

“Die ANC se mislukkings kan nie meer met ondeurdagte wetgewing herstel of regbestuur word nie. Alle rolspelers wat die kommer deel, word versoek om van hulle te laat hoor. Hierdie is gewis nie iets wat maar goedsmoeds aanvaar kan word nie. Die implikasies is te groot en te verreikend.”

Die groep sê hy weet van verskeie organisasies en moontlik ook politieke partye wat reeds regstappe oorweeg.

“Waar nodig sal ons litigasie ondersteun of rolspelers koördineer ten einde litigasiekapasiteit te kombineer.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Republikein in die Wes Kaap ·

Wat is die EFF se agenda? En die MK na die verkiesing?

skurweberg ·

Aan Wie behoort alles wat ons oor jare bymekaar gemaak het?. Wie het ons as rentmeesters aangestel om na Sy besittings om te sien? Die VRYMAGTIGE en REGVERDIGE sal oordeel, want Hy bly die EIENAAR.

Mieke ·

Roekelose drewe na kommunisme.. die falende ANC probeer op hierdie tydstip steeds stemme bykry..

Alta Alleman ·

Ha ha Ek wonder wat gaan hierdie mense doen wat vir hierdie wet gestem het doen wanneeer daar gepoog gaan word om hulle eiendomme te gryp.

Jacobus ·

Laat Ramaphosa en sy kaders eers n voorbeeld stel en stel al hulle eiendomme beskikbaar om verdeel te word.

Shakespeare ·

Vergewe hulle maar want hulle besef nie wat hulle doen nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.