Onteiening: Organisasie eis verskoning oor ‘wanvoorstellings’ in studie

Foto ter illustrasie. (Foto: Noah Silliman/Unsplash)

Die organisasie Sakeliga het Maandag ʼn beroep op die departement van openbare werke en infrastruktuur gedoen om sy sosio-ekonomiese impakstudie oor die onteieningswetsontwerp terug te trek en om verskoning daarvoor te vra.

Dít nadat die sakegroep “die nalatige wanvoorstelling van die perspektiewe van burgerlike organisasies op die wetsontwerp” uitgewys het.

Volgens Sakeliga steun sommige organisasies glad nie die wetsontwerp op onteiening nie hoewel die regering volhou dat dit die geval is.

Sakeliga eis nou nie net ’n verskoning nie, maar ook dat die regering tydens toekomstige impakstudies kennis neem van die ernstige bekommernisse wat die burgerlike samelewing oor die nadelige en onbeplande gevolge van swak beleidsbesluite opper.

Gerhard van Onselen, ʼn senior ontleder by Sakeliga, sê verskeie groepe en burgers het terwyl hulle met die regering oor die wetsontwerp gekonsulteer het, “op die potensiaal van ekonomiese katastrofe gewys” sou die wetsontwerp saam met die grondwetwysiging om konfiskering sonder vergoeding moontlik te maak aanvaar word.

Volgens Van Onselen is nie één van hierdie bekommernisse egter in die impakstudie opgeteken nie.

“In gevalle waar die impakstudie wel besorgdheid opgemerk het, is dit eenvoudig van die hand gewys sonder eerlike konsultasie of redelike en onafhanklike ontleding.”

Van Onselen sê die geldigheid van die raadplegingsproses en die advies wat aan die kabinet verleen is op grond van die impakstudie, word nou bevraagteken.

Sakeliga het die parlementêre voorleggings van verskeie van die organisasies wat deur die impakstudie genoem en geag word as ondersteuners van die wetsontwerp op onteiening, nagegaan.

Volgens Martin van Staden, ʼn regsgenoot by Sakeliga, is dit egter duidelik dat die beoordeling “ʼn growwe wanvoorstelling” van die standpunte van die burgerlike samelewing bevat.

“Baie van die groepe wat volgens die studie die wetsontwerp ondersteun, steun eintlik nie die wetsontwerp nie.”

Dít sluit glo in Agri SA wat dit duidelik gemaak het dat hy nié die wetsontwerp op onteiening steun nie ondanks die regering se opinie dat dit wel die geval is.

Sakeliga sê die indruk wat die regering klaarblyklik hoop om te skep met die impakstudie is dat die wetsontwerp wyd ondersteun word.

“Die regering hoop om hierdie nie-bestaande ‘steun’ te gebruik om besorgde beleggers, buitelandse regerings en skeptiese burgers gerus te stel. Trouens, slegs regeringsdepartemente en burgerlike groepe wat saamstem met die ideologiese oortuigings van die regerende party, was eksplisiet oor hul goedkeuring van die wetsontwerp op onteiening.”

Van Onselen wys daarop dat die beslaglegging op eiendom ʼn skadelike beleid is.

“Deur middel van die wetsontwerp is die regering van plan om beslag te lê op eiendom van sommiges om dit vermoedelik aan ander te gee, of te beheer deur staatsvoogdyskap. Sodoende kan geselekteerde begunstigdes wel eiendom verkry, maar almal kan ly onder die nadelige en verarmende effek wat ʼn algemene aanslag op eiendomsekerheid sal meebring.

“Om ʼn netto-effek te oorweeg moet die regering sy evaluering van vermeende voordele en veral die skade van hierdie beleid nugter heroorweeg, verkieslik in ʼn heraangestelde, onafhanklike en deeglike impakstudie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Windhond ·

Alles word net deur ge-stoom roller, hulle gooi nou alles in die stryd om nasionalisasie van alle tipe privaat eiendom te bewerkstellig – ons hande is afgekap agv meerderheids stem

Dup ·

Hulle gaan die eiendom vat,al skreeu ons ook van die hoogste berge af.Niks gaan help nie.

Althes ·

God is groter as die meerderheidstem. God is groter as die ANC en EFF.
Ons moet nie vergeet waarvandaan ons krag kom nie.

Leonard ·

Sosialisme SÓÓS KUBA, WAT óns land onregeerbaar gáán MÁÁK!!

Ian ·

Hierdie is maklik n keer punt in SA waar hierdie regering werklik wetend n burgeroorlog wil aanwakker. Ontwapening en grondonteiening gaan soos boude saam met kommunisme en sosialisme. Wat baie interessant is is dat hulle nou niks meer wegsteek soos voorheen nie hulle doen nou net wat hulle wil en daai hulle is die ANC kaders. Impak studie of nie impakstudie hierdie mense doen wat hulle wil.

Nico ·

Kyk wat sê Job 24:2, Grenslyne verskyf hulle; ‘n trop vee roof hulle en laat dit wei. Die verklaring lees so, Grenslyne verlê hulle wat diefstal is.

Jakes ·

Slaan my dronk dat Ramaphosa uitgenooi is om as gas die G7 beraad by te woon. Al die vergrype waarby sy party betrokke is en die geweldige moord en misdaadsyfer in die land traak wereld leiers maar min of anders weet hulle nie daarvan nie. Ek kan aan ten minste 50 ander staatshoofde dink wat eerder genooi kon word om die G7 beraad by te woon as gas.

johann ·

“Verskoning” is nie goed genoeg nie . Die persone wat skuldig is aan die wanvoorstelling moet vervolg word vir bedrog

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.