Ontevrede werkers sny glo Rustenburg se krag

(Argieffoto: Severin D./Unsplash)

Ontevrede werknemers van die Rustenburg-munisipaliteit het kort ná middernag Donderdag die elektrisiteitstoevoer na groot dele van die stad afgesny. Die werkers staak omdat hulle oortydbetalings afgekeur is. Volgens die munisipaliteit wys ʼn interne oudit egter dat vals eise hiervoor ingedien is.

Toe inwoners vroegoggend besef dat dit nie Eskom is wat vir hul ongerief verantwoordelik is nie, was die gort op sosiale media behoorlik gaar.

“Wat is fout, weet iemand hoekom daar nie krag is nie? Dis so warm soos die hel,” het iemand douvoordag gekla.

“Wat van die Covid-19-pasiënte wat moet suurstof kry?” wou ʼn ander weet.

“Geen elektrisiteit, geen water, so geen dienste nie.”

Die uitvoerende burgemeester, Mpho Khunou, en die munisipale bestuurder, Victor Makona, het inderhaas ʼn noodvergadering met bestuurspanne van die elektriese afdeling gehou om te beraadslaag.

In ʼn verklaring wat daarna uitgereik is, sê hulle daar is met ontsteltenis verneem van die werkers se optrede. Die afsny van die kragtoevoer word as ʼn daad van sabotasie teen die inwoners van die dorp en die munisipaliteit beskou. Die betrokke mense gaan nou intern vervolg word en ʼn klag sal ook by die polisie aanhangig gemaak word.

Frans Rootman van die belangegroep My City Matters sê die betaling van oortyd is vantevore deur werknemers van die Rustenburg-munisipaliteit misbruik en hul maandelikse salarisse is in sommige gevalle met oortydbetalings verdubbel.

“Dit maak ʼn bespotting van ʼn bystandstoelaag en beplande oortyd.”

Intussen het dit aan die lig gekom dat die werkers ook eis dat ʼn Covid-19-gevaartoelaag aan hulle betaal word. Die munisipaliteit sê dit sal ʼn ongemagtigde uitgawe wees omdat daar nie vir die betaling van só ʼn toelaag begroot is nie.

Rootman sê sover hy weet, is alle munisipale werkers in die afsonderingstyd betaal, of hulle gewerk het of nie.

“Dit blyk nou dat diegene wat gewerk het bykomende betaling eis omdat ander, wat nie gewerk het nie, wel betaal is.”

Sover vasgestel kon word, is die kragtoevoer na alle woonbuurte deur die loop van die oggend herstel. Amptenare van die openbare veiligheidsdirektoraat is by al die stad se elektriese substasies ontplooi om te verseker dat daar nie verdere kragonderbrekings is nie. Nog spanne, vergesel van wetstoepassers, is ook na die geraakte buurte gestuur om te verseker die kragtoevoer is wel herstel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.