Ontmoet slaggate se grootste nagmerrie

Anco gebruik sy vrye tyd om sy woonbuurt skoon te maak [Foto: Anja van der Merwe, Maroela Media]

As jy deur die strate van Fauna in Bloemfontein ry, mag jy dalk net die 12-jarige Anco Dempers met ’n graaf of hark in die hand sien, besig om slaggate reg te maak of rommel op te tel.

Dié jong lat het in net ʼn maand al nagenoeg 100 slaggate met sand gevul sodat sy bure se motor nie beskadig word as hulle daaroor ry nie.

“Solank die woonbuurt skoon is en die mense op die paaie is veilig, is ek gelukkig,” vertel Anco aan Maroela Media.

Nie net maak Anco ’n verskil in sy gemeenskap nie, maar is hy ook stadig maar seker besig om naam te maak deur sy eie onderneming van die grond te kry. Dit is om sy ma, ʼn weduwee, finansieel by te staan. “Ek vra R40 om mense se tuine skoon te maak deur die gras te sny en bossies uit te trek.”

Anco en sy ma, Pauline [Foto: Anja van der Merwe, Maroela Media]

Anco se pa, Francois, is in 2017 dood en hy is tans die “man” in die huis. Sy driejarige broer woon by sy ma, Pauline, se ouers op Dewetsdorp in die Vrystaat.

Anco bestee al sy vrye tyd – van 16:00 tot 19:00 op weekdae en selfs tydens naweke – om sy woonbuurt op te knap. Omdat munisipale geriewe en hulp in dié buurt skaars is, gaan die netheid van die strate, sypaadjies en parkies agteruit.

Volgens Pauline het haar seun nog altyd ’n passie vir skoonmaak en tuinmaak.

“Van kleins af is Anco mal oor grassnyers en bossiekappers. Ek het gereeld sonder batterye vir die bossiekapper gesit,” vertel Pauline, terwyl sy trots na haar seun kyk.

Anco was maar vyf jaar oud toe hy die tuinwerkers by Rosenhof High School in Bloemfontein begin help het. Sy ouma was die koshuismoeder by dié skool.

Anco en Pauline het sowat ’n maand gelede van Fichardtpark na Fauna in Bloemfontein verhuis. Dit is toe dat Anco se nuwe passieprojek begin het.

“Ek was een middag verveeld en het toe besluit om die slaggate reg te maak. Die gate pla my verskriklik. Ek wil nie hê die mense se karre moet beskadig word of dat mense van hul fietse moet afval nie,” vertel Anco.

Anco Dempers het nagenoeg 100 slaggate in net ʼn maand in Bloemfontein gevul [Foto: Anja van der Merwe, Maroela Media]

Volgens sy ma het sy daardie einste middag van die werk af gekom en na Anco gesoek. “Ek het nie geweet waar om te begin soek nie, want Fauna was nog nuut en vreemd. Daar het vroegaand ’n man aan my deur kom klop en gevra of ek Anco se ma is. Hy het my meegedeel dat Anco besig is om slaggate reg te maak,” vertel Pauline.

Anco leen tyd en wyl die bure se kruiwa en harke totdat hy sy eie kan aanskaf. Volgens Pauline het hulle reeds ’n donasie vir ’n kruiwa gekry.

Voorlopig gooi Anco gewone sand in die slaggate en hark dit plat. Hy beoog om later ’n teermengsel te gebruik om die gate te vul omdat dit langer sal hou.

Anco wil ook met behulp van ’n inwoner van die buurt later die parkies se gras sny wat tans heuphoogte staan.

“Tuinwerk is my passie. Ek sal dit steeds ná skool wil doen.”

Inwoners van die gemeenskap het groot waardering vir Anco se welwillendheid en volgens die Fauna Family Neighbourhood-gemeenskapsgroep inspireer hy die gemeenskap. Hulle noem hom tot die woonbuurt se “held”.

Enigiemand wat ’n donasie wil maak of by die projek betrokke wil raak, kan e-pos aan sy ma stuur by [email protected].

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Darts girl ·

Jy is n ster ou seun, dit vat baie om in die middag na skool en huiswerk nog die buurt skoon en veilig te maak. Jy is n ware held vir jou gemeenskap. Hou so aan

Lillian ·

Ons kan so baie leer by hierdie kind. Wel gedaan Anco, Fauna is nou sommer beter daaruit sien.

SlinkseKoljander ·

Doen n 12 jarig die ANC se werk, dit is belaglik hoe swak die regering is!

Yolandie ·

Wat ‘n wonderlike gebaar. ‘n Jong mannetjie wat ‘n problem sien en self die oplossing soek…..en ‘n verskil probleem maak. Jy gaan nog ver kom Anco.

Nico ·

Dit is ‘n absolute skande dat ‘n wit seun van 12 jaar die ANC se vuilwerk moet doen, ek glo dat hy dit op sy tyd doen wat ‘n voorbeeld is vir die hele reënboog nasie se jong kinders. Anco, my boeta hou so aan en sterkte vir jou vorentoe.

Charmaine ·

Wat n awesome voorbeeld. Baie dankie Anco vir al jou harde werk.

Swerwer ·

Te dierbaar vir woorde! Jy, jonge man, stel ‘n pragtige voorbeeld vir die hele Suid Afrika. Kan die ander landsburgers tog maar kers opsteek by Anco. Jy is ‘n pragtige jong man wat nog ver in die lewe gaan kom.

Karina ·

Anco ek bewonder jou harde werk, 12 jaar oud en jy wys die regering hoe dinge gedoen moet word. Ek hoop jy kry genoeg skenkings om vir jou implimente te koop wat jy nodig het. Baie dankie vir die voorbeeld wat jy stel. Jy het ‘n hart van goud.

Johan ·

Anco hou van meganiese app. Skenk ń blaar blaser,daar is een wat met helaaibare batt werk,wat van roos plantjies mèt kompos,ens.

Ivana ·

Mamma jy kan baie trots wees op jou seun. As julle in Welkom was sou ons beslis van Anco gebruik gemaak het en beslis nie teen net R40 nie. Ek hoop mense wat hom gebruik gee hom wat hy verdien vir sy harde werk aangesien hy reeds verniet vir die munisipaliteit werk

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.