Ontmoet Tinyiko Golele, koning(in) van die Kruger

Tinyiko Golele, streekswagter in die suide van die Krugerwildtuin (Foto: Anja van der Merwe/Maroela Media)

Tinyiko Golele, streekswagter in die suide van die Krugerwildtuin, is een van min vroue wat met die spreekwoordelike bloed, sweet en trane groot treë gegee het in ʼn beroepsveld wat deur “geharde mans” beheer word.

Golele het 23 jaar gelede as ʼn student by die wildtuin begin om bewaringswerk te doen en in dié tyd van veldwagter na landskorporaal, korporaal, sersant, afdelingswagter en nou tot streekswagter gevorder.

Geklee in haar veldwagteruniform en met haar R1-geweer in die hand, lyk dit of dié vrou nie ʼn bang haar op haar kop het nie. “Daar is geen uitdaging wat ek nie meer sal kan oorkom nie.”

In ʼn beroepsveld wat deur mans oorheers word, was dit egter nie ʼn maklike pad nie.

“Ek was een van vier vroue wat in 2007 as veldwagter in diens van die Krugerwildtuin was. Die mans was nog skepties om na ʼn vrou te luister,” vertel Golele.

Golele het destyds in die Woodlands-afdeling in die noordelike streek van die wildtuin as veldwagter gewerk.

“Ek het geweet ek moet die mans se vertroue wen. Ek het verskeie opleidingskursusse voltooi om te wys dat ek my sout werd is. Met die kennis wat ek opgebou het, kon ek bewys dat ek in staat is om die werk te doen wat mans verrig en mettertyd het die mans my meer respekteer.”

Tydens dié uitmergelende kursusse moes Golele in die bos oorleef en strawwe fisieke opleiding doen.

“Jy moet leer om op die vlak van die renosterstroper te funksioneer –  wat vir drie dae in die bos – met beperkte water en kos – oorleef, kilometers ver stap en onder ʼn boom slaap.

‘n Trop olifante in die Krugerwildtuin (Foto: Anja van der Merwe/Maroela Media)

“Jy leer om jou omgewing en die diere se gedragspatrone te lees. Soms is ʼn situasie só dat jy moet hardloop, maar meestal moet jy jou man staan. Jy kry waardevolle inligting uit die windrigting en son.”

Golele se afdeling het in 2012 die toekenning vir die beste afdelingswagters gewen en sy is kort daarna na die Punda Maria-gebied in die wildtuin oorgeplaas.

In Januarie 2017 is sy as streekswagter in die noorde aangestel. “Die verantwoordelikhede was heeltemal anders as dié van ʼn afdelingswagter sʼn. Ewe skielik is jy verantwoordelik vir meer as 500 000 ha en nie meer net 77 000 ha van die wildtuin nie. Dit het ander uitdagings meegebring.”

Golele is in Februarie 2022 as streekswagter in die suide aangewys.

As streeksveldwagter bestuur Golele al die afdelingswagters wat aan haar moet rapporteer. Dié veldwagters moet daagliks die wildtuin te voet en per motor patrolleer. Dit is om die veiligheid, sekerheid en gerief van toeriste en personeel te verseker en om die flora en fauna teen indringers (diewe en stropers) te beskerm.

Sy moet ook ʼn proaktiewe veiligheidsplan gereed hê en daagliks met die afdelingsveldwagter kommunikeer om op die hoogte te bly van wat in elke afdeling aangaan.

Golele sê veldwagters het nie vaste werksure nie. “Jy is hier wanneer die diere jou nodig het, dag of nag.”

Drome word waar

Tinyiko Golele (Foto: Anja van der Merwe/Maroela Media)

Dié ystervrou het al as kind in M’tititi (ʼn dorp wat grens aan die wildtuin) daarvan gedroom om die groen uniform en stewels van ʼn veldwagter te dra en by te dra tot die bewaring van die natuur.

“Ek het ʼn groot liefde vir die bos.”

Afgesien van haar werk, is Golele ook ʼn ma van drie, eggenoot en student. Sy studeer tans regte en het reeds ʼn BSc-graad in omgewingsbestuur in die sakkie.

Sy bieg vrees was een van haar swakpunte toe sy destyds in die wildtuin begin werk het, “maar wanneer jy passievol is oor iets, verander die vrees in dapperheid”.

Golele is nog nie een keer in haar loopbaan deur ʼn dier aangeval nie en volgens haar “moet jy die diere se gedrag in die bos lees en verstaan”.

“As jy die dier uitlos, sal hy jou uitlos.”

Dié storie sal Golele as streekswagter die meeste bybly: 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.