Ontvoerde biokinetikus ‘veilig tuis’

Riana Pretorius. (Foto: Facebook)re

Die biokinetikus van Gqeberha wat ʼn week gelede voor haar werkplek ontvoer is, is veilig tuis.

Kapt. Yolisa Mgolodela, woordvoerder van die Valke, het bevestig dat Riana Pretorius “veilig en gesond” gevind is.

“Ongelukkig het die ondersoekbeampte in die saak nog geen verdere inligting deurgegee nie, daarom kan die besonderhede rakende die hoe, waar en wanneer nog nie bevestig word nie,” sê sy.

“Verdere besonderhede sal later bekend gemaak word, maar vir nou is ons verheug dat sy veilig tuis is.”

Pretorius is verlede week glo deur mans gegryp en in ʼn voertuig buite die Newton- mediese sentrum ingedwing.

Ander nuusblaaie het berig dat ʼn losprys vir Pretorius geëis is, maar Mgolodela kon dit nie aan Maroela Media bevestig nie, glo omdat die ondersoekspan vir Pretorius se lewe gevrees het.

Twee mans wat moontlik met haar ontvoering verbind kan word, is kort ná haar ontvoering in hegtenis geneem.

Een van dié verdagtes sal na verwagting vandag (Vrydag) weer in die hof verskyn om vir borgtog aansoek te doen, maar die ander verdagte het na wat verneem word steeds nie in die hof verskyn nie.

Sosialemediagebruikers wat die afgelope week vir Pretorius se veiligheid gebid het, was vroeg Vrydag verlig om te hoor hul gebede is beantwoord.

“Riana Pretorius is gevind en makeer absoluut niks nie,” skryf John Duckworth Kingskid op Facebook.

“Baie dankie vir almal wat saam gebid het vir haar. Ons God is ʼn God van wonders.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.