Onveilige Tshwane-brandweerstasie tydelik toe

Foto bloot ter illustrasie. (Foto: Verskaf)

Een van Tshwane se brandweerstasies is tydelik gesluit weens ʼn elektriese fout wat dit “onveilig maak vir werkers om in die gebou te wees”.

Die Mabopane-brandweerstasie sal nou tot verdere kennisgewing gesluit wees, met naburige stasies wat eerder op die gebied se noodgevalle sal reageer.

Thabo Charles Mabaso, woordvoerder van die Tshwane-nooddienste, sê dit het onder die plaaslike regering se aandag gekom dat daar fout is met die gebou nadat werkers ʼn elektriese fout in dele van die stasie aangemeld het.

“ʼn Elektrisiën is ontbied om ondersoek in te stel en het bevind dat die elektriese toevoer na die stasie aangeskakel bly, selfs wanneer al die skakelaars op die verdeelbord afgeskakel is,” sê Mabaso.

“Die elektrisiën het werkers aangeraai om die gebou te ontruim totdat die probleem opgelos is.”

Dit is nog nie duidelik hoe lewensgevaarlik die probleem is nie, maar net dat werkers onveilig sal wees om in die gebou te wees.

Dit is nie in hierdie stadium bekend hoe lank dit sal duur om die fout reg te stel nie.

“Brandweer- en reddingspersoneel en hulpbronne van hierdie stasie sal tydelik vanaf Jabulani-brandweerstasie in Soshanguve reageer. Die personeel sal deur die Ga-Rankuwa- en Rosslyn-brandweerstasies ondersteun word totdat die fout opgeklaar is.”

Mabaso het die gemeenskap in en om Mabopane gemaan dat daar vertragings in reaksietye van die brandweer sal wees weens hierdie tydelike sluiting.

  • Brande kan tolvry by 107 aangemeld word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Jack ·

Goeie nuus vir die brandstigters. Klink meer na n geldprobleem want kan dit langer as n dag vir hierdie noodsaaklike diens vat. Iets ruik weer erg.

Waarnemer ·

Daar is mos genoeg brandweer manne en -voertuie indien n brand by die brandweer stasie uitbreek……

Werner ·

Dit gaan so lank vat soos die Delmas pad jare want daar is nie geld en ook nie vakmanskap om werk te doen nie

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.