Onverwagse goeie nuus kan Mboweni se begroting ophelder

(Argieffoto)

ʼn Paar onverwagse positiewe verwikkelinge die afgelope paar maande beteken Woensdag se nasionale begroting kan ʼn aspek bevat waaraan Suid-Afrikaners glad nie meer van die regering se kant gewoond is nie: Goeie nuus.

Die minister van finansies, Tito Mboweni, lewer môre sy begrotingsrede.

Die verwagting tot onlangs was dat Suid-Afrika se powere fiskale en makro-ekonomiese posisie, die ekonomiese gevolge van die koronavirus en die inperkingstyd, staatskaping, onbekostigbare staatsdienssalarisse, die begrotingstekort, dalende staatsinkomste en die bodemlose put van sogenaamde reddingsboeie aan staatsbeheerde ondernemings, sou moes lei tot hoër belastings en oproepe om groter besuiniging vanaf die tesourie. Dít terwyl die populiste in die ANC weier om noodsaaklike en ongewilde beleidsbesluite in die praktyk uit te voer.

Dit was die historikus CW de Kiewiet wat (sewentig jaar gelede al) geskryf het Suid-Afrika se verlede en hede toon die land gaan vooruit danksy gelukskote en agteruit weens mensgemaakte (politieke en ekonomiese) rampe.

Die eerste deel van De Kiewiet se waarneming gebeur die afgelope paar maande weer, en daar is drie betreklik nuwe verwikkelinge (waarvan twee relatiewe gelukskote is waartoe regeringsbeleid en -optrede bykans glad nie meegehelp het nie) wat waarskynlik gaan beteken dat die redelik apokaliptiese vooruitskouings wat Mboweni in Oktober tydens die mediumtermyn-bestedingsraamwerk (MTBPS) gemaak het, op kort termyn nie gaan realiseer nie.

Daardie drie aspekte is verskerpte belastinginvordering, ʼn wonderlike landboujaar en die uiters hoë prys van edelmetale op die wêreldmarkte. Al drie aspekte beteken ʼn aansienlik hoër as verwagte staatsinkomste, wat tyd en beweegruimte koop vir die staat om, minstens vir ʼn wyle, te ontsnap aan die soort pynlike besluite wat om heeltemal gegronde redes in die MTBPS voorsien is.

Hierdie goeie nuus behoort oor te spoel in ʼn aankondiging dat die inkrimping in die ekonomie tydens die afsonderingstyd nie so erg was as wat voorspel is nie.

Vir die eerste bydraende faktor tot die aansienlik hoër as verwagte staatsinkomste (die korrekte syfer sal eers uit Mboweni se begrotingsrede blyk, maar die verwagting is dat dit ongeveer R100 miljard meer as die MTBPS-projeksie kan wees) kan die regering en die staat wel krediet neem, naamlik die verskerping van die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) se fokus op belastinginvordering.

Die herstel van groter doelgerigtheid en doeltreffendheid by die SAID ná jare van slapheid en agteruitgang tydens die staatskapingsera, toe onbekwame mense soos die Zuma-meeloper Tom Moyane die SAID in die grond in bestuur het, is aan die gang en die gevolge in harde rand en sent is omvattend.

Die tweede bydraende faktor tot hoër staatsinkomste is die uitstekende landbou-opbrengs, waartoe sommige van die gunstigste weersomstandighede in die geskiedenis, sowel as beter saadtegnologie en natuurlik die strategiese besluite asook bedrewenheid van die Suid-Afrikaanse kommersiële landbousektor, grootliks bygedra het.

Die regering het ʼn mindere rol gespeel in hierdie sukses.

Die derde bydraende faktor tot aansienlik hoër staatsinkomste is die uiters hoë pryse van edelmetale en ander mynboustowwe op die wêreldmarkte. Dit is ʼn relatief langdurige en onverwagse tendens waarmee die Suid-Afrikaanse regering se gedrag bykans niks te make het nie.

Ligpunte in landbou, mynbou

mynboubedryf-02

(Argieffoto: Wilhei/Pixabay)

Dit dien ook vermeld te word – nie dat Mboweni of enigiemand in die ANC sal nie – dat die landbou en die mynbou se enorme sukses juis is omdat die rampspoedige binnelandse ekonomiese beleid van die afgelope jaar presies nié toegepas is in die landbou en die mynbou nie.

Die landbou en die mynbou is naamlik twee van die ekonomiese sektore wat die minste geraak is deur die regering se ekonomies verwoestende inperkingsmaatreëls.

Hiervoor kan baie van die krediet gaan aan die minister van landbou, Thoko Didiza, en die minister van minerale hulpbronne, Gwede Mantashe, wat van die eerste dag van die inperkingstyd soos tiere baklei het dat onderskeidelik die landbou en mynbou so min moontlik ingeperk word en produksie grootliks kan voortgaan.

Didiza en Mantashe se grootliks suksesvolle stryd om hul bedrywe funksionerend en produserend te hou kan egter nie deur Mboweni, pres. Cyril Ramaphosa, die kabinet of die ANC veel aangeprys word nie, want die kontras met die rampspoedige wyses waarop ministers soos byvoorbeeld Lindiwe Zulu (maatskaplike ontwikkeling), Mmamoloko Kubayi-Ngubane (toerisme) en Khumbudzo Ntshavheni (kleinsakeontwikkeling) met hul stiksienigheid, onkunde en rasbeheptheid hul bes gedoen het om die bedrywe wat aan hulle toevertrou is te vernietig in navolging van die regering se ekonomies stompsinnige inperkingsbeleid, sou net te skreiend wees.

Die harde waarheid is dat die mynbou en landbou so wonderlik suksesvol was presies omdat die regering se beleid nie daar toegepas is nie. Die dele van die ekonomie waar die regering se beleid toegepas is, het rampspoedig agteruitgegaan. Waar ekonomiese mislukking dus regstreeks vanweë die regering gebeur het, het ekonomiese sukses ten spyte van regeringsbeleid gebeur.

Die aansienlike meevaller wat die hoër staatsinkomste beteken, behoort die hoër belastings wat Mboweni tereg tydens die MTBPS in die vooruitsig gestel het, af te weer sover dit die onmiddellike toekoms betref.

Veral die afwering van die verwagte verhogings in maatskappybelasting, persoonlike belasting en selfs belasting op toegevoegde waarde (BTW) sal die ekonomie op kort termyn help omdat dit meer besteebare inkomste as verwag sal beteken.

Moeilike besluite nodig

Die minister van finansies, Tito Mboweni. (Foto: Elmond Jiyane/GCIS)

Twee enorme probleme wink egter agter die onmiddellike korttermyn-toekomskim en hoewel die presidensie, die tesourie en die ietwat helderder intellektuele ligte aan die ANC-uitspansel dit duidelik begryp en artikuleer, is daar in albei gevalle tans geen aanduiding dat die luidrugtige populiste in die ANC hoegenaamd verstaan hoe taai die situasie is, en watter duidelik omskrewe, maar ongewilde en pynlike, stappe dit gaan verg om weg te stuur van die dreigende fiskale afgrond en verlies van finansiële soewereiniteit nie.

Eerstens is daar die staatsdiens se salarisuitgawes. Met verlede jaar se begroting het Mboweni aangekondig staatsamptenare kry geen verhoging nie.

Vlammende woede het gevolg van die staatsamptenare en hul vakbonde, wat in die knus en gewaarborgde wêreld van staatsdiens-salaristjeks klaarblyklik onbewus is daarvan dat die oorgrote meerderheid mense in die private sektor se inkomste tans miskien 30% minder is as ʼn jaar gelede.

Geen vakbond het tot dusver ʼn dienooreenkomstige salarisverlaging vir die staatsdiens voorgestel nie. En wanneer werkverliese by staatsbeheerde instellings aangekondig word, gee sowel ANC-LP’s as ANC-amptenare populistiese maar onrealistiese versekerings dat geen afleggings sal plaasvind nie, soos byvoorbeeld by die SAUK gebeur het.

Hierdie populistiese ANC-aansprake is regstreeks ondermynend van die ANC-regering en skep onrealistiese verwagtinge, wat ʼn baie gevaarlike politieke skuif is: Waar ANC-LP’s en ANC-amptenare óf glad nie besef wat die situasie is nie, óf bloot te lig in die broek is om ongewilde werklikhede te erken en dan korrek op te tree.

Waar die vakbonde ʼn punt het, is dat die staat as werkgewer met Mboweni se aankondiging van ʼn nul-verhoging willens en wetens ʼn bindende driejaar-ooreenkoms betreffend salarisverhogings verbreek het en as dit toegelaat word, hoef die staat dus nooit weer woord te hou nie.

Daardie saak is tans in die hof, met die arbeidsappèlhof wat einde verlede jaar die regering gelyk gegee het. Die saak dien eersdaags voor die Konstitusionele Hof.

Indien dié hof in die guns van die vakbonde sou bevind, sou dit beteken die voortspruitende salarisverhogings sou terugwerkend betaal moes word – wat die staat se finansiële appelkar opnuut sou omgooi.

Indien die staat wen, word so ʼn situasie vermy.

Selfs belangriker as die uitkoms van die stryd oor staatsdienssalarisse is die kwessie van staatskuld en die rente op staatskuld.

Dit is noodsaaklik dat die land staatskuld begin terugbetaal, onder meer sodat die nasionale bates wat tans verkwis word op die betaling van rente op staatskuld, produktief vir landsverbetering aangewend kan word.

As hierdie proses van substantiewe soewereine skuldvermindering nie so spoedig moontlik begin nie, wag ʼn fiskale afgrond binne so min as vier jaar op Suid-Afrika.

Dit weet Mboweni, en dit is een van die sleutelkwessies waaroor die bevolking rigting en uitsluitsel verlang tydens die begrotingsrede Woensdag om 14:00.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Werner ·

Al goeie nuus vir hom is dat hulle nog verskillende soorte belastings gaan instel sodat hulle nog verder kan plunder.

Jessey ·

“Corona made us do it” gaan waarskynlik die grootste verskoning vd dag wees

Tino ·

Hoe gouer ons oor die afgrond gaan hoe gouer kan die IMF kom help en reels maak soos Swart Ekonomiese Besteling wat afgeskaf moet word

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.