Onwettige myners voer skrikbewind op Pelgrimsrus

Onwettige myners het al vir jare lank Pelgrimsrus in ‘n wurggreep. (Foto: SA Tourism)

Jare se onwettige mynbedrywighede op die toeristedorpie Pelgrimsrus is besig om sy tol te eis; nie net op die omgewing en sy inwoners nie, maar ook op toerisme wat die lewensbloed van dié dorpie is.

“Toeriste is nie meer gemaklik om hierheen te kom nie. Hulle hou nie eens stil nie,” sê Willie Kruger, voorsitter van die Sabie-sakekamer in Mpumalanga.

“Inwoners leef in vrees en toeriste is bekommerd om aangeval of beroof te word. Intussen is ondernemings besig om te vou omdat niemand buiten die inwoners hul voete op die dorp sit nie.”

Die myners woon en myn onwettig vir goud al langs die rivier wat skaars ʼn paar 100 m van die dorp geleë is.

Die myners het selfs al stoorkamers opgerig en verwerkingsaanlegte ingerig wat toegerus is met kragopwekkers, suurstofbottels en groot hoeveelhede sianied en kwik.

Werner Weber, provinsiale leier van die VF Plus, sê hy het onlangs oproepe gekry van inwoners wat beweer dat onwettige mynwerkers gewapend in die strate rondloop en mense dreig.

Dié is glo jare lank al ʼn probleem, maar die polisie is skynbaar traag om dit te pak.

Brig. Selvy Mohlala, polisiewoordvoerder, sê omdat Pelgrimsrus berug is vir onwettige mynbedrywighede en misdaad wat dit tot gevolg het, spook die polisie om die situasie onder beheer te kry.

“Die provinsiale polisie het dit op hulself geneem om ʼn einde aan die onwettige bedrywighede te bring om menselewens te red en kosbare goud te beskerm,” het hy gesê.

Volgens Kruger doen owerhede te min om daadwerklike verandering te verseker, aangesien die plaaslike polisie selde intree.

“So nou en dan sal die provinsiale polisie ʼn paar van die myners in hegtenis neem of op die gebied toeslaan, maar die plaaslike polisie doen niks nie. Hulle sê hulle is magteloos teen al die onwettige mynwerkers.”

(Foto: SA Tourism)

Volgens die VF Plus het Vusi Shongwe, Mpumalanga se LUR vir gemeenskapsveiligheid, al voorheen erken dat die polisie beheer oor misdaad op die dorp verloor het, en dat die onwettige mynwerkers glo deel is van ʼn veel groter probleem.

Die polisie het net vroeër vandeesweek stropers in die omgewing vasgetrek wat die karkasse van wilde diere aan onwettige mynwerkers in en om Pelgrimsrus sou verskaf het.

Shongwe het ook al gesê die mynwerkers is sterker en beter bewapen as die provinsie se polisiemag.

ʼn Klompie mynwerkers is vroeër vanjaar in hegtenis geneem. Die meeste van hulle is Zimbabwiërs of Mosambiekers wat nie wettig in Suid-Afrika is nie. Volgens die polisie is een van die Zimbabwiërs slegs ʼn boete opgelê en vrygelaat.

“ʼn Opdrag word dikwels deur die hof gegee om die onwettige mynwerkers na hul geboorteland te deporteer, maar dit word bitter selde gedoen,” sê Kruger.

Weber sê hy het Shongwe weer vandeesweek versoek om voorkomend op te tree teen die onwettige myners en ʼn risikobestuurstrategie te ontwerp om veral plaaslike inwoners en toeriste te beskerm.

“Dit is verregaande dat die gemeenskap in vrees moet leef en die plaaslike ekonomie skade ly omdat die polisie blykbaar niks hieraan kan doen nie,” sê hy.

Hy meen plaaslike rolspelers soos veiligheidsmaatskappye moet betrek word om te help.

Onherroeplike skade

Kommer heers ook oor besoedeling van omliggende strome weens sianied en kwik wat glo reguit in die strome gestort word.

“Al die waterlewe word doodgemaak en dit is nie ongewoon om dooie wild te vind nadat diere water uit die strome gedrink het nie,” sê Weber.

Die sytak na die Blyderivier, eens ʼn taamlik standhoudende stroom, is nou skaars ʼn vloeiende stroompie. Dit is glo omdat onwettige mynwerkers vloedmure in die spruit bou om water na hul tuisgemaakte siftingsaanleg te kanaliseer.

Kruger waarsku die eerste swaar reën kan erge gronderosie veroorsaak, wat geensins gerehabiliteer kan word terwyl die onwettige myners steeds die gebied beset nie.

“Dis vreesaanjaend om te dink niks word steeds gedoen om die vernietiging te keer nie.”

Kruger sê dit is ook nie net Pelgrimsrus wat skade ly weens onwettige mynbedrywighede nie.

“Sabie sukkel met dieselfde probleem. Die riviere is met sianiet en menslike afval deurtrek. Dit is besig om alles in die omgewing te vergiftig.”

Volgens Kruger het onwettige mynwerkers ook onlangs dinamiet gebruik om gate in die klowe te skiet om goud te myn.

“Dit is angswekkend om in die aande na hul bedrywighede te luister. Ons is onrustig oor wat aan die gebeur is.”

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Ruby ·

Dit is omdat daar nie meer wet en orde in ons land is nie, nie net is Perlrimsrus nie.

Die wat die wet wil toepas moet tot vervelens toe in vergaderings sit en luister sodat iemand belangrik moet voel, pleks van die daad by die woord voeg.

So gaan baie van ons pragtige kleindorpies met ‘n ryke geskiedenis tot ‘n stilstand kom.

Cassie Carstens ·

Pelgrimsrus lyk so danksy die ANC se mislukking om die land te regeer en wat hulle weier om te erken. Nee o siesa!

Danie ·

Ons stop lankal nie meer daar nie .
Die hele plek en omliggende gebiede is n hool van onwettige bedrywighede.

Dries ·

Die polisie word omgekoop deur die onwettige myners.
Ontstellend dat onwettige buitelanders so onverskroke in die land betrokke is by omtrent alle kriminele dade.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.