Ooggetuie verbind Kelly Khumalo dalk met Senzo-moord  

Kelly Khumalo. (Foto: Instagram / Kelly Khumalo)

ʼn Ooggetuie sal glo kan getuig dat Kelly Khumalo die sneller van die vuurwapen getrek het waarmee sokkerster Senzo Meyiwa in 2014 doodgeskiet is.

Só het adv. Malesela Teffo, wat vier van die vyf beskuldigdes in die opspraakwekkende moord op die voormalige Bafana Bafana-kaptein verdedig, Woensdag in die hooggeregshof in Pretoria aangevoer.

Dit is die eerste keer sedert die verhoor begin het dat daar melding van dié sogenaamde ooggetuie gemaak is. Khumalo, ʼn sangeres, en Meyiwa was destyds in ʼn verhouding.

“Nie net ʼn getuie nie, maar ʼn ooggetuie, sal getuig dat Senzo Robert Meyiwa na bewering per ongeluk deur Kelly Khumalo geskiet is,” het Teffo tydens sy kruisondervraging van sers. Thabo Mosia aan die hof gesê. Mosia, ʼn forensiese beampte wat bewyse versamel, is ʼn getuie vir die staat.

Volgens Teffo sal dieselfde ooggetuie ook kan getuig dat die vuurwapen – na bewering ʼn rewolwer – glo voorheen aan Longwe Twala, seun van die musiekvervaardiger Sello “Chico” Twala, behoort het. Hy voer verder aan dat die polisie met die misdaadtoneel gepeuter het om die werklike moordenaars te beskerm.

Die staat voer aan dat Meyiwa tydens ʼn rooftog doodgeskiet is. Die vyf beskuldigdes is in Oktober 2020 in hegtenis geneem en word onder meer van moord met voorbedagte rade en roof met verswarende omstandighede aangekla.

Muzikawukhulelwa Sibiya, Bongani Sandiso Ntanzi, Mthobisi Prince Mncube, Mthokoziseni Maphisa en SifikuhleNkani Ntuli Sifiso het almal onskuldig op die aanklagte teen hulle gepleit.

Teffo hou vol dat die verkeerde mense in die beskuldigde bank sit.

Senzo Meyiwa. (Foto: soccerladuma.co.za)

Mosia wou nie kommentaar op Teffo se bewerings lewer nie. Hy voer ook aan dat hy destyds deur ʼn senior polisiebeampte mislei is om verklarings vir ʼn tweede polisiedossier af te lê, wat Khumalo glo as een van die verdagtes in Meyiwa se moord geïdentifiseer het.

Volgens Mosia was kol. Joyce Buthelezi oneerlik toe sy hom destyds gevra het om ’n beëdigde verklaring in te dien, wat sy vroeër getuienis weerspreek het dat daar nooit met die misdaadtoneel gepeuter is nie. Die tweede dossier is later in ʼn afsonderlike ondersoek na die moord deur ʼn ander taakspan geregistreer.

Die hof steun egter net op die oorspronklike dossier vir die doeleindes van dié verhoor – wat die huidige beskuldigdes met die moord verbind. Teffo het die tweede dossier Dinsdag by die hof ingedien.

Barry Batemen, kommunikasiebestuurder by AfriForum se private vervolgingseenheid, sê sover dié eenheid se kennis strek, is daar geen ooggetuie wat deel van die bewyse in die dossier is nie.

“Dis ʼn baie ernstige betoë. Ons wil weet waar dié bewyse vandaan kom en of dit voorheen van die staat weerhou is. Indien dit wel die geval is, moet dit voor die hof gebring word.

“Ons is hoopvol dat bewyse binnekort na vore sal kom wat die werklike verdagtes met die moord verbind sodat dié persone verhoor kan word,” het hy gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

JohanR ·

Kelly Khumalo in oranje……dit wil ek sien. Elke hond kry sy dag! Sy sal vir GROOT Belinda daar in die tronk moet se “ja miesies!”

domheks ·

Intressant dat daar nou ‘n ooggetuie was. Wat het die beskuldigdes daar gesoek, kom tee drink?

Lakemalawi ·

Dis jammer dis nou bekend gemaak, die arme ooggetuie is belis nie nou sy/haar lewe veilig nie.

Lakemalawi ·

Hier kom drama, ek hoop daai ooggetuie is in witness protection, anders is hy/sy ook wyle.

Annelize ·

Dit wil my voorkom of hier ‘n toesmeerdery van absolute formaat aan die gang is. En waar kom die ooggetuie nou skielik vandaan, en hoekom maak hy/sy NOU eers mond oop? Iemand sal gewis nou met een oog oop moet slaap…

Di ·

Hierdie storie is van die begin af met leuens toegesmeer! Stem saam dat die 5 wat aangekla is NIKS met die moord te doen het nie. Hulle moes IEMAND kry om die skuld op te pak en die 5 in hegtenis geneem. Boetie sorg vir boetie! IEMAND wat binne die huis was, is SKULDIG, geen rowers nie.

Chantel ·

Komplot om als te verbloem. Ek is baie bly Netflix het besluit om die verhoor by te woon. Sal graag die uiteinde ook op Netflix wil sien. Daar is GEEN manier dat NIEMAND wat in daai huis daai aand was, nie WEET wat gebeur het nie. Almal van hulle hou die waarheid opkluis. Dis vir my bitter hartseer. Sy ouers sit al hoelank en wonder wat gebeur het.
Ek hoop iewers “along the line” kom die waarheid voorendag.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.