Oom Paul se baadjie opnuut afgestof

Paul Kruger se standbeeld op Kerkplein (Foto: FAK)

Paul Kruger staan nou weer sy plek op Kerkplein, Pretoria, vol – sy baadjie blinkskoon en sy hoed afgestof.

Die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK), met die ondersteuning van verskeie instellings en die Tshwane-metroraad, maak seker dat Oom Paul steeds fier en trots bo sy Boerekrygers op Kerkplein kan uitstyg.

’n Groep van meer as 20 erfenisbeskermers, onder wie verskeie organisasies soos die FAK-Moot-Kultuurnetwerk, die Rapportryerbeweging (RRB), AfriForum en ook politieke partye, asook lede van die publiek, het op Kerkplein in Pretoria byeengekom en opnuut besef hoe belangrik dit is om self eienaarskap van jou erfenis te neem. Jonk én oud het hand bygesit en ’n verskil gemaak.

Die groep erfenisliefhebbers – oud en jonk. (Foto: FAK)

Charles Rademeyer, die FAK se kultuurkoördineerder in die noordelike streke van die land, sê dat hierdie dag ons weer herinner aan ons voorouers se opofferings en die lesse wat ons uit ons ryk kultuurerfenis kan leer.

Oom Paul lyk weer byna splinternuut (Foto: FAK)

“Dit is ’n voorreg om ’n man te kan herdenk wat sulke diep voetspore op ons Afrikanerlandskap getrap het. Dit is van sleutelbelang dat ons as Afrikaners diegene moet onthou wat voor ons gekom het. Ons moet uit hul lewe lesse leer ter verbetering en bevordering van ons eie lewe en ons Afrikaneridentiteit, asook dankbaarheid wys vir dít wat hulle vir ons gedoen het,” sê Rademeyer.

Die RRB het ook hul bydrae gelewer tot die skoonmaakaksie. Vir Theo van Rooyen, jong lid van dié kultuurorganisasie, is erfenis en spesifiek Paul Kruger na aan sy hart.

Só word die standbeeld van Oom Paul en die Boerekrygers skoongemaak. (Foto: FAK)

“Ons is trots in wie en wat ons is en dit is my plig as trotse Afrikaner om hierdie soort goed in stand en netjies te hou – vir ons en vir geslagte wat nog kom,” sê Van Rooyen.

Hierdie skoonmaakaksie is een van verskeie nuwe verwikkelinge in en om Kerkplein om hierdie gebied as toeriste-aantreklikheid te bevorder. Verlede jaar het die FAK met trots vermeld dat Paul Kruger se kantoor op Kerkplein ook nou vir lede van die publiek oop is om te besoek. Tesame met die pogings wat die Heldeakker-Samewerkingsinisiatief aanwend in die Heldeakker, word die ou geskiedenis van Pretoria weer herleef, gevier en oorvertel.

Die FAK se kultuurnetwerke is weekliks betrokke by soortgelyke projekte en aksies.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Christian Grobler ·

Dit wil gedoen word. Baie dankie aan elkeen wat ṅ deel bygedra het tot die aksie.

Adri ·

Voel baie trots net jammer ons kinders leer nie meer van ons geskiedenis nie. Hoeveel kinders weet van oom Paul Kruger en die voortrekkers wat hulle vir ons gedoen en opgeoffer het?

Retha ·

Stem saam Adri – dis baie hartseer dat ons kinders en kleinkinders nie geleer word wat oom Paul Kruger en die Voortrekkers alles vir ons land gedoen het en van die werklike
geskiedenis van ons mooi land.

Manie ·

Indien skole nie ons geskiedenis aan ons kinders wil oordra nie, is dit ons eie plig om dit wel te doen.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.