Ooreenkoms moet wildmisdade bekamp

(Argieffoto ter illustrasie: Unsplash)

Private reservate aan die westelike grens van die Krugerwildtuin het met die regering hande gevat en hulself daartoe verbind om saam te werk om wildmisdaad proaktief te bekamp.

Wildmisdaad, veral renosterstropery, is ’n groot probleem in die bewaring en volhoubare gebruik van biodiversiteit in Suid-Afrika. Die renosterspesie, wat reeds bedreig is, word by die dag minder weens stropery. Daar is tans in die Groter Kruger-gebied minder as 3 000 renosters oor.

Barbara Creecy, minister van bosbou, vissery en omgewing, het vandeesweek met verteenwoordigers van die Vereniging van Private Natuurreservate (APNR) – wat onder die Groter Kruger Omgewingsbeskermingsforum (GKEPF) val – asook gemeenskapslede en ander belanghebbendes in Mpumalanga vergader om die kwessie van wildmisdaad te bespreek.

Volgens Sharon Haussmann, die hoof‑ uitvoerende beampte van die GKEPF, vaar die private reservate goed op grondvlak om wildmisdaad te takel, maar hulle het die departement se ondersteuning nodig om dié georganiseerde misdade op ’n hoër vlak – in die regering – te pak.

“Met private reservate se pogings van bewaring op grondvlak, is daar gedurende Mei en Junie nog nie ’n enkele geval van renosterstropery aangemeld nie,” sê Haussmann.

Daar is tydens die vergadering met die departement op drie fokuspunte ooreengekom wat met die samewerkingsooreenkoms hanteer sal word. Dit sluit in die bekamping van renosterstropery en wildmisdaad, bevordering van ekonomiese ekostelsels en die hantering van administratiewe probleme en bestuurskwessies.

“Hierdie drie punte gaan proaktief uitgevoer word om die probleem van wildmisdaad aktief te takel.”

Creecy sê in ’n verklaring van die departement dat hulle tydens die samewerkingsooreenkoms ook geleenthede wil skep vir begunstiging van gemeenskappe wat op die grense van, of naby aan reservate en die Krugerwildtuin woon, en uitbreiding van die beskermde gebiede se grond.

Haussmann beskryf die vergadering met die departement as positief. “Dit lê ’n stewige grondslag vir gesamentlike optrede in die belang van biodiversiteit en volhoubare ontwikkeling in hierdie gebied.”

Creecy het alle belanghebbendes uitgenooi om aan die beleidsprosesse deel te neem deur hul skriftelike voorleggings in te dien oor die konsepbeleid – wat handel oor die bewaring en volhoubare gebruik van biodiversiteit in Suid-Afrika – sowel as die wildsvleisstrategie-konsep, wat onlangs deur die kabinet vir openbare kommentaar goedgekeur is. Albei die konsepte sal binnekort in die Staatskoerant bekendgemaak word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.