Oorlede seiljagvaarder al voorheen uit see gered

Darrol Hansen toe hy in 2014 uit die see by Oesterbaai gered is (Foto: NSRI)

Die 60-jarige seiljagvaarder wat Saterdag dood op sy seiljag naby Stilbaai in die Wes-Kaap aangetref is, het reeds in 2014 ’n noue ontkoming met die dood gehad toe sy seiljag in die rotse by Oesterbaai in die Oos-Kaap gevaar het.

Darrol Hansen van Mosselbaai is in 2014 uit die see by Oesterbaai gered toe sy seiljag, Ingrid, in onstuimige toestande op die rotse beland het. Hy het in die proses sy kunsbeen verloor. Hy het sy been jare tevore in ’n ongeluk verloor.

Sy liggaam is verlede Saterdag op sy seiljag, Panacea, in die see ongeveer 30 seemyl suidsuidwes van Stilbaai aan die Suidkus gewaar. Dit volg nadat sy seiljag in die see verdwyn het.

Daar is gevind dat die seiljag beskadig was en reeds water ingeneem het.

Volgens Craig Lambinon, woordvoerder van die Nasionale Seereddingsinstituut (NSRI), het owerhede die NSRI gevra vir hulp om die boot na Stilbaai te sleep. Daar sou hulle dan Hansen se liggaam verwyder en ondersoeke sou begin.

“Die NSRI is deur owerhede versoek om nie die kajuit of liggaam te ‘versteur’ nie, sodat ’n formele ondersoek aan boord van die seiljag gedoen kan word met die vaartuig se aankoms by Stilbaai,” bevestig Lambinon.

Die seiljag is Sondag op sleeptou geneem om na Mosselbaai-hawe te neem, maar die vaartuig het sowat 12 seemyl (sowat 22 km) van dié kusdorp gesink. Hansen se liggaam was nog op die seiljag en het saam met die vaartuig gesink.

Volgens Lambinon sou die vaartuig aanvanklik Saterdag na Mosselbaai gesleep word, maar gure weersomstandighede het dit egter nie toegelaat nie. Die polisie en Wes-Kaapse gesondheidsdienste sou dan die liggaam van die seiljagvaarder van die vaartuig verwyder.

Die operasie is toe Sondag hervat.

Volgens Lambinon was Hansen ’n jare lange familievriend van NSRI-lede.

Hy word oorleef deur sy vrou, Hesta, dogter, Lee-Lynn, sy ma, Issie (82), en broers, Ashley en Leon.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Miena ·

Daar word nie verniet gese nie… “You live by the… you die by the…”
Ek weet nou nie of ek misverstaan van die berig nie – is sy liggaam dan nou al uit die see uit geduik en van die skippie af verwyder dan?

Henning ·

Ek het die gebeurtenis van laasweek gevolg. Die boot was nie seevaardig nie en is in Saldana baai aangeraai om nie die hawe te verlaat nie
Die res van die storie weet ons
Nogtans tragies

Oshol ·

Sommige mense leer nooit nie en dit is nou te laat om iets in sy bovenkas te kry .

Swanie ·

Waneer ek sterf , wil ek ook sterf terwyl ek my passie uiteef. Sterkte aan sy al sy geliefdes, mag hy in vrede rus.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.