Oorsaak van SA aktrise se dood in NY bekend

Charlbi Dean Kriek (Foto: Xavier Collin/Image Press Agency/NurPhoto via AFP)

Vier maande nadat die Suid-Afrikaanse aktrise en model Charlbi Dean Kriek aan ’n “onverwagse siekte” in New York oorlede is, is die oorsaak van haar dood uiteindelik bekend gemaak.

’n Nadoodse ondersoek het eindelik onthul dat Kriek aan bakteriële sepsis dood is. Dié sepsis is veroorsaak deur “’n komplikasie van asplenie” oftewel die afwesigheid van ’n milt nadat Kriek in ’n stadium trauma aan haar bolyf opgedoen het, berig People.

’n Woordvoerder van die lykskouer se kantoor het Woensdag aan dié publikasie gesê Kriek het sepsis ontwikkel nadat sy met ’n bakterie bekend as Capnocytophaga besmet is. Volgens die Amerikaanse sentrum vir siektebeheer en -voorkoming (CDC) word Capnocytophaga na mense versprei deur middel van ’n byt, ’n skraap, ’n lek óf ander noue aanraking met diere soos honde en katte.

Charlbi Dean Kriek in Kaapstad. (Foto: Instagram)

’n Pasiënt met outo-immuunprobleme én sonder ’n milt is veral vatbaar vir Capnocytophaga.

Dit is egter onduidelik of ’n byt of lek van ’n dier verantwoordelik was vir Kriek se infeksie. Die mediese ondersoeker het nie die volledige uitslag van die lykskouing openbaar gemaak nie.

Die mediese ondersoeker het dit wel duidelik gemaak dat Kriek, onder meer bekend vir haar rol in die Spud-rolprente, aan natuurlike oorsake dood is.

Kriek is op 29 Augustus in New York op die ouderdom van 32 oorlede. Die Suid-Afrikaanse aktrise en model is op 5 Februarie 1990 in Kaapstad gebore en ook bekend vir haar rol in die reeks Black Lightning.

Kriek verskyn saam met Woody Harrelson en Harris Dickinson in die rolprent Triangle of Sadness wat kort ná haar dood vrygestel is en by vanjaar se Cannes-rolprentfees vereer is.

Sy het ook in Don’t Sleep (2017) en Blood in the Water (2016) verskyn.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.