Oorsprong van varkpes-geval onbekend

Varke wat los rondloop is meer vatbaar vir varkpes. (Foto: Pascal Debrunner, Unsplash)

Ná twee jaar se afwesigheid op kommersiële plase het Afrika‑varkpes vroeër die maand in ʼn boerdery op Randfontein uitgebreek. Die Suid-Afrikaanse varkprodusente-organisasie (Sappo) sê hy is nou besig om met die departement van gesondheid in Gauteng te onderhandel om seker te maak dat die regte prosedures gevolg word sodat die virus nie na ander plase versprei nie.

Volgens dr. Thandi Chiappero, Sappo sê programbestuurder van One Health-verbruikersekerheid, is die terug- en vorentoespoor van diere- en varkvleisprodukte afkomstig van dié varkboerdery en die betrokke slagpale afgehandel en alle moontlike kontakpunte nagespeur, maar dit is hoogs onwaarskynlik dat die oorsprong van die virus gevind sal word.

Die provinsiale departement het die plaas onder kwarantyn geplaas en die perseel word streng gemonitor om te verseker dat die virus nie na ander varkboerderye versprei nie.

Chiappero sê daar is verskeie kleinskaalse varkboere in die omgewing waar varkpes sporadies uitbreek.

Die probleem word vererger omdat sommige boere wat die virus in hul kudde ontdek, die besmette varke verkwansel, wat onwettig is en die bekamping daarvan onmoontlik maak.

Afrika‑varkpes is nie besmetlik vir mense nie, maar kan deur formiete (artikels waaraan die virus kleef) oorgedra word. Dit is ʼn staatsbeheerde siekte en daar is geen entstof om varke voorkomend in te ent nie. Aangesien die siekte deur ʼn virus veroorsaak word, is daar ook geen behandeling vir siek varke beskikbaar nie.

Die enigste manier om die virus op ʼn besmette perseel te beheer, is deur vinnige diagnose, die uitslag en vernietiging van alle varke en die skoonmaak en sterilisering van die perseel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Anel ·

Hoef nie vêr te soek nie. Kyk bietjie hoeveel onwettiges is daar in diens en waar hulle vandaan kom. Et voila!!!!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.