Oortyddrempel nie voldoende verhoog

Untu is ontevrede met die gebrek aan aanpassings vir gemiddelde werkers in die wetgewing. (Argieffoto: Untu)

Die vervoervakbond Untu het die minister van arbeid en indiensneming, Thulas Nxesi, gekap vir sy versuim om die drempel vir oortyd behoorlik aan te pas.

Die land se nuwe minimum nasionale loon is Maandagaand in die Staatskoerant aangekondig.

Ingevolge die nuwe regulasies verhoog die drempel vir oortyd van R205 433,30 per jaar tot R211 596,30 per jaar – ʼn verhoging van 3%.

Steve Harris, algemene sekretaris van Untu, sê die aankondiging is kommerwekkend en teleurstellend vir alle werkers van Transnet en die Passasierspooragentskap (Prasa) omdat dit hul werkgewers gaan toelaat om hul uit te buit wanneer hulle weens die operasionele vereistes van die ondernemings oortyd moet werk.

Untu sê hy was aan die voorpunt van die stryd om die drempel met meer as R100 000 per jaar te verhoog, óf om Transnet- en Prasa-werkers daarvan kwyt te skeld.

Die vakbond het insette aan die nasionale minimumloonkommissie deur sy geaffilieerde federasie Fedusa gedoen oor waarom dit billik sou wees om Transnet- en Prasa-werkers van die drempel vry stel.

Volgens Harris staan hierdie drempel sedert 1 Julie 2014 stil op R205 433,30 per jaar.

“Deur dit vyf jaar lank nie te verhoog nie, het die regering werkgewers toegelaat om kwesbare werkers uit te buit wat nie deur die wet beskerm word wat betref oortyd nie.”

Hy het ook verwys na brandbestryders wat in 2019 in Kaapstad opgeruk het om memorandums aan die departement van arbeid te oorhandig waarin hulle billike vergoeding vir hul werk eis.

Harris sê ook by Transnet se hawens, waar werkers verseker Suid-Afrika se in- en uitvoere hou die ekonomie aan die gang, word ʼn onreg gepleeg omdat werkers gedwing word om naweke oortyd te werk vir minder as die helfte van hul gewone salarisse.

“Dit het al gelei tot verskeie onwettige stakings tot nadeel van die ekonomie,” het Harris gesê.

Hy sê ʼn 3%-verhoging gaan nie werkers – wie se skaars vaardighede dringend in die land behou moet word – teen uitbuiting beskerm nie. Dít tensy hulle die opsie gegee word om te besluit of hulle oortyd wil werk of nie en werkgewers hulle nie langer weens operasionele vereistes kan dwing om dit te doen nie. Hy sê dit geld veral vir Transnet waar bedrywighede 24 uur van die dag en sewe dae per week aan die gang is.

“Die bepalings van die huidige wet is dalk genoeg om die armstes van die armes en kwesbare werkers soos huis- en plaaswerkers te beskerm, maar is onvoldoende om die gemiddelde werker te beskerm,” sê Harris.

Transnet gebruik ʼn stelsel waar daar van werkers wat ʼn sekere bedrag per jaar verdien verwag word om oortyd teen minder as die helfte van hul gewone vergoeding te werk. ‘Dit is die kruks van die probleem,” sê Harris.

Untu sê sommige werkers word al die afgelope 20 jaar op kontrakbasis aangestel en geniet nooit die voordele van permanente indiensneming soos ʼn pensioen- of mediese fonds nie – hoewel hulle in wese wel permanent vir Transnet werk.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Hennie J ·

So tipies n piesangland minister. As die nood op sy hoogste is dan kondig hy salarisverhogings aan. Geen gevoel vir die absoluut sukkelende ekonomie nie en geen begrip vir verdere werksverliese wat dit SAL meebring nie. Die vakbonde natuurlik is gewoond daaraan om bloed uit n klip te tap en sal voort betoog en staak tot daar binnekort NIKS oorbly nie.

Anel ·

Daar is duisende wat hulle werk verloor het en die lot wat werk het eis buitensporige verhogings. Man, as jy nie gelukkig is nie, loop. Daar is duisende wat graag die werk sal wil doen.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.