Oorwinning in waterregtesaak

Foto ter illustrasie. (Foto: Maroela Media)

Die Hoogste hof van Appèl het bevind dat waterreghouers die reg het om sodanige regte oor te dra ingevolge die bepalings van die Nasionale Waterwet en dat dit nie verbode of onwettig is om handel te dryf in sodanige regte nie.

Die hofuitspraak is gelewer deur regter Clive Plasket namens die meerderheid van die Appèlhof-regters (met ’n minderheidsuitspraak deur regter Tati Makgoka). Dit volg nadat die Pretoriase hooggeregshof drie aansoeke met betrekking tot Lötter, Wiid en die Suid-Afrikaanse Vereniging vir Watergebruikersverenigings (SAAFWUA) vir ’n verklarende bevel oor die korrektheid van ’n omsendbrief deur die departement van water en sanitasie (uitgestuur in Januarie 2018), van die hand gewys het. Hierin het die departement bepaal dat watergebruiksregte nie oorgedra mag word nie.

Agri SA het van die begin af die regskoste in die Lötter- en Wiid-sake met fondse uit sy Vrywillige Waterfonds gedek.

“Die uitspraak is uiters belangrik vir Agri SA en ander partye,” sê Janse Rabie, hoof van Agri SA se sentrum van uitnemendheid: natuurlike hulpbronne. “Die vermoë om waterregte wettig ingevolge die bepalings van artikel 25 van die Nasionale Waterwet oor te dra, is noodsaaklik, veral vir die besproeiingsektor. Die oordraagbaarheid van watergebruiksregte ingevolge die Nasionale Waterwet is sedert die begin deur die departement van water en sanitasie beoog en aktief ondersteun.”

Die aangeleentheid is eweneens belangrik vanuit ʼn regsoogpunt, veral met betrekking tot oordrag en verhandeling ingevolge die wet, meen Rabie. “Hierdie uitspraak deur die Appèlhof dien as regverdiging vir die posisie wat Agri SA en ander ingeneem het oor die korrekte vertolking van die Suid-Afrikaanse Wet.”

’n Moontlike besluit deur die DWS om teen die uitspraak te appelleer, word afgewag.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

SjN ·

Weereens n bewys van onbevoegdheid en dat howe hul verkeerd moet bewys, viva Anc

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.