Oorwinning oor water in Lichtenburg, Coligny

Die Ditsobotla-munisipaliteit in Lichtenburg, Noordwes. (Argieffoto: African News Agency)

Die hooggeregshof in Mahikeng het Donderdag dringende regshulp toegestaan in Sakeliga se hofaansoek oor die krisis in Lichtenburg en Coligny in die Ditsobotla- plaaslike munisipaliteit.

Die hof het die administrateur van Ditsobotla nou gelas om “watertoevoer te verseker”, onder toesig van Sakeliga. Die toevoer moet “ooreenkomstig die behoeftes van die gemeenskap” voorsien word en die administrateur moet binne 15 dae aan die hof verslag lewer oor die herstel van watertoevoer.

“Ooreenkomstig hierdie bevel het ons Vrydagoggend by die administrateur onder meer aangedring dat watertoevoer binne die volgende 24 tot 48 uur herstel word en dat ons genomineerde verteenwoordigers van die plaaslike sakekamer en andere volle toesig gegun word,” sê Piet le Roux, uitvoerende hoof van Sakeliga.

Die uitspraak vorm ʼn onderdeel van ʼn hofsaak waarmee Sakeliga en ander instansies gemeenskappe se rol by die herstel van watervoorsiening ordelik wil versterk en ingryping deur die nasionale regering wil afdwing. Donderdag se uitspraak is in Deel A van die aansoek, wat hoofsaaklik met die dringende herstel van watertoevoer aan die gemeenskappe van Ditsobotla handel.

Watertoevoer in die distrik het op verskeie plekke tot stilstand gekom ná ʼn mislukte ingryping deur die Noordwes- provinsiale regering etlike weke gelede, toe dit die munisipale raad ontbind het sonder om ʼn administrateur aan te stel, of werknemers se salarisse te betaal.

Deel B van die aansoek, waarin verdere regshulp versoek word, is geskeduleer om op 10 November aangehoor te word.

Uitspraak skiet tekort

piet-le-roux

Piet le Roux, uitvoerende hoof van Sakeliga. (Foto: Morné Prinsloo)

“Hoewel die regter se uitspraak ʼn mate van verligting bied, skiet dit tekort, omdat dit nog nie ʼn dringende, ordelike wyse voorskryf waarop gemeenskappe tydens algehele staatsineenstorting kritieke dienslewering kan herstel nie,” sê Le Roux. “Dit ken ook steeds take toe aan die provinsiale regering en die administrateur nieteenstaande hul bewese onvermoë om dit uit te voer en te midde daarvan dat die provinsie self al by herhaling onder administrasie geplaas is.”

Hy sê by wyse van die toesigrol wat die bevel aan Sakeliga toeken, beweeg die hof wél nader aan gemeenskapsbetrokkenheid, “maar ons beskou dit as onvoldoende en sal voortgaan met die ontwikkeling van verdere regspraak”.

Sakeliga meen die algehele staatsverval soos wat dit die afgelope paar weke in Ditsobotla afgespeel het, dreig in vele munisipaliteite landwyd. “Staatsverval laat ʼn magsvakuum wat gevul sal word óf deur bendes en misdadigers – gepaardgaande met ʼn uittog van sakelui en inwoners – óf deur organisasies in gemeenskappe wat sélf orde skep. Sakeliga se aansoeke is gerig op geregtelike fasilitering deur die hof, vir ʼn ordelike pad waarmee gemeenskappe met minder risiko sélf kan intree om plaaslike ekonomieë en gemeenskappe te stabiliseer.”

Intussen sal Sakeliga die oorsiggesag wat hy bekom het, in die herstel van watertoevoer deur die administrateur, nougeset en in samewerking met sakeorganisasies en ander gemeenskapsinstansies in Ditsobotla uitoefen.

Verdere regshulp
Deel B van Sakeliga se aansoek word ook op dringende grondslag aangehoor, en handel met meer omvattende mediumtermyn-regshulp. Daarin vra Sakeliga onder meer:

  1. ʼn Verklarende bevel dat die provinsiale regering nie voldoende in Ditsobotla ingegryp het nie, en gevolglik in gebreke bly om hul administrasiebevoegdhede in die Grondwet uit te oefen.
  2. ʼn Gebiedende interdik dat die nasionale uitvoerende gesag in Ditsobotla moet ingryp, kragtens artikel 139(7) van die Grondwet – die hoogste vorm van ingryping waarvoor die Grondwet uitdruklik voorsiening maak. Dit behels, onder meer, dat die nasionale uitvoerende gesag ʼn herstelplan moet instel sodat basiese munisipale verpligtinge nagekom word.

Sakeliga voorsien egter die moontlikheid dat die nasionale regering, net soos die provinsiale regering, nie doeltreffende ingrepe sal kan doen en orde herstel nie. “Daarom bied ons die hof ook die geleentheid dat Sakeliga of die hof tussentyds ʼn spesiale meester aanstel met alle nodige magte en bevoegdhede om basiese dienslewering in die dorpe te herstel, tot tyd en wyl die nasionale regering orde en dienslewering tot bevrediging van die hof herstel het,” sê Le Roux.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.