Hof moet ingryp om water op Lichtenburg te herstel

Lichtenburg. (Argieffoto: ANA)

Sakeliga vra in ʼn dringende bevel die hof om die nasionale regering te dwing om regstreeks by die beleërde Ditsobotla-munisipaliteit in te gryp sodat die gemeenskap self noodingrepe kan doen.

Die verkose komitee oor samewerkende regering en tradisionele sake, water en sanitasie, asook menslike nedersettings, het vandeesweek gesê hy het besluit om ingryping by Ditsobotla, wat Lichtenburg en Coligny bedien, goed te keur. Dit kan tot die ontbinding van die raad lei.

Die plaaslike owerheid word verlam deur voortgesette finansiële wanbestuur, onvoldoende dienslewering en swak regering.

Sakeliga vra in sy aansoek toestemming vir gemeenskapsinstellings om op ʼn tussentydse grondslag by die lewering van waterdienste in die munisipaliteit in te gryp. Die aansoek sluit ook die versoek in dat die ingrypingsproses deurlopend onder hoftoesig moet plaasvind.

Die organisasie vra ook dat ʼn spesiale meester aangestel moet word as regeringsingryping aanhou misluk.

Die hofaansoek, wat Donderdag aan die presidensie en ander regeringsfere beteken is, kom te midde van grootskaalse regeringsinploffing by die Ditsobotla-munisipaliteit.

Piet le Roux, hoof van Sakeliga, sê in die soveelste irrasionele en mislukte poging tot ingryping het die provinsiale regering verlede maand besluit om die munisipale raad ingevolge die Grondwet te ontbind.

Dít, desnieteenstaande die feit dat die munisipaliteit glo stilweg in November verlede jaar onder gedwonge administrasie geplaas is. Geen administrateur is in November 2021 aangestel nie en die provinsie het skynbaar eers begin met die proses om een aan te stel nadat die besluit in September vanjaar geneem is om die munisipale raad te ontbind, sê Le Roux.

Intussen het watervoorsiening op talle plekke tot stilstand gekom, riool en vullis bou oral op, normale besigheid is ondraaglik en medici waarsku oor ʼn moontlike gesondheidskrisis oor die gebrek aan watertoevoer aan die dorpe.

Le Roux sê die ingryping in November verlede jaar is van groot belang, omdat dit plaasgevind het te midde van die betaalmeester-hofsaak wat Sakeliga in Junie verlede jaar aanhangig gemaak het.

Nie die provinsie of enige van die ander respondente het tydens die regsproses bekend gemaak dat daar ingegryp is nie. “Almal van hulle het sowaar aangehou om Sakeliga se aansoek, dat die hof sodanige administrasie moet beveel, teen te staan,” sê Le Roux.

Sakeliga vra die hof om te bevind dat die aanvanklike ingryping misluk het – omdat die situasie die afgelope 11 maande net verder agteruitgegaan het – en om die nasionale regering te dwing om die hoogste vlak van ingryping ingevolge die Grondwet te doen.

Hy vra die hof ook om kritieke tussentydse dienslewering, spesifiek watervoorsiening, deur gemeenskapsinstellings te erken, indien nodig uit te brei, of aan ʼn spesiale meester oor te dra.

“Ná etlike staatsinstansies Sakeliga se betaalmeerstersaak sedert Junie 2021 kwaadwillig vertraag het, het die mislukking op alle vlakke van regering, om funksionele plaaslike regering te verseker, hulle ingehaal,” sê Le Roux.

“Die hofaansoek wat Sakeliga nou instel is ʼn drastiese versnelling van die strategiese munisipale litigasie waarmee Sakeliga besig is en waarmee ons regspraak vir toepassing dwarsoor die land wil skep.

“Dit eskaleer Ditsobotla se plaaslike staatsverval tot die hoogste vlak van ingryping waarvoor die Grondwet voorsiening maak en bied leiding in die skepping van regspraak waarmee die probleem, op den duur, volhoubaar opgelos kan word.”

Le Roux sê die organisasie beywer hom om ʼn regsraamwerk te skep waarbinne sakelui self hul plaaslike ekonomieë kan herstel, tot diens van plaaslike gemeenskappe en in die belang van ʼn stabiele samelewing.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Leon ·

Dankie sake liga / afriforum vir jul ingryping. Sonder jul hulp was die mooi land al lankal zimbabwe in wording

Republikein in die Wes Kaap ·

Ons is stewig op pad soontoe, met of sonder Sakeliga.

Kokerboom ·

Die belastingbetalers van Lichtenburg en omstreke moet net blatant beheer neem oor hul dorpe. Die skurk regime steur hul NIE aan regstelsel!Enigste oplossing

Republikein in die Wes Kaap ·

Sakeliga het nogal baie vertroue in die stelsel.

Hendrik ·

Dankie Sakeliga Afri Forum. Groot waardering maar ek staan daarby dat die privaatsektor sterker moet opstaan met n agressiewe stem

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.