Besluit oor Ditsobotla-ontbinding kom gou

Die Ditsobotla-munisipaliteit in Noordwes. (Argieffoto: ANA)

Die Ditsobotla-munisipaliteit kan binnekort ontbind word weens voortgesette finansiële wanbestuur, onvoldoende dienslewering en swak regering.

Byna alle administrasie en dienslewering het die afgelope ruk by die munisipaliteit, wat onder meer die dorpe Lichtenburg en Coligny bedien, tot stilstand gekom. Die plaaslike owerheid steier ook onder binnegevegte wat administrasie lamlê.

Die verkose komitee oor samewerkende regering en tradisionele sake, water en sanitasie, asook menslike nedersettings, het nou besluit om ingryping ingevolge die Grondwet by die owerheid goed te keur.

Die verslag oor die aanbevole ontbinding van die Ditsobotla-munisipaliteit word Woensdag ter tafel gelê.

Komiteelede het die munisipaliteit verlede week besoek en sê daar is duidelike bewyse van buitengewone omstandighede wat die besluit steun.

“Ons prioriteit was nog altyd om te verseker dat mense die beste basiese dienste ontvang en ʼn wanfunksionele munisipaliteit gaan dit nie verseker nie. Ons moet benadruk dat indien die besluit deur die nasionale raad van provinsies (NRP) goedgekeur word, die ingryping uitsluitlik moet fokus op die versekering van doeltreffende dienslewering aan mense,” sê China Dodovu, komiteevoorsitter.

Twee parallelle munisipale rade binne dieselfde owerheid, met twee burgemeesters, twee speakers en twee hoofswepe, is nog ʼn rede vir die ontbinding. LP’s sê dit maak dit haas onmoontlik om enige verpligtinge na te kom, met inwoners wat die prys daarvoor betaal.

Die komitee is ook bekommerd oor beweerde misdadige elemente in die munisipaliteit en bestempel dit as die oorsaak van versuim om aan wetgewing en beleid oor verkryging te voldoen.

Dit beteken korrupsie floreer en ampsmisdrywe word gepleeg.

“Die leierskaptwis tussen die kantoor van die burgemeester en die speaker het ʼn reeds toksiese omgewing vererger en dit het dit moeilik gemaak vir die munisipaliteit om sy grondwetlike verpligtinge na te kom,” sê Dodovu.

Daar is ook vrae oor die aanstelling van vaardige en gekwalifiseerde munisipale amptenare en die komitee het besluit dat ʼn vaardigheidsoudit gedoen moet word om te bepaal watter vaardighede reeds in die munisipaliteit is en watter versterk moet word.

Die komitee is ook nie beïndruk met die LUR vir samewerkende regering in die provinsie, Lenah Miga, se aanstelling van ʼn administrateur, selfs al is die regsproses daaroor nog nie afgehandel nie.

“Die stappe wat die LUR gedoen het om ʼn administrateur aan te stel is nie prosedureel nie en dus ongeldig omdat die NRP nog nie ʼn besluit oor die ingryping geneem het nie. Eers ná die aanvaarding van die verslag kan die LUR administrateurs aanstel,” sê Dodovu.

Die komitee meen dat Miga se optrede die regsproses ondermyn en die idee versterk dat die NRP-proses ʼn blote formaliteit is.

Die LUR moet nou binne die volgende maand voor die komitee verskyn om haar optrede te verduidelik.

Sakeliga het die nasionale en provinsiale regering vroeër daarvan beskuldig dat hy voete sleep om beheer te neem en kritieke dienslewering te herstel. Die organisasie het ook ʼn beroep op pres. Cyril Ramaphosa en die premier van Noordwes, Bushy Maape, gedoen om te verduidelik hoe hulle gaan ingryp.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Andrè ·

En so ploeter almal maar net voort solank die belastingbetaler betaal word soustrein gery

Coolbanana ·

Kan maar net nie met geld werk nie ….. geen vervolging….geen verantwoordelikheid …mislukking van die Anc Kader ontplooing on na die mense se belange om te sien…magsbehep en gierig

Manie ·

Inwoners behoort die gebou binne te gaan en die munisipale werkers uit hul kantore te verwyder. Lê beslag op alle bates, ampsvoertuie ingesluit en jaag die klomp nikswerde weg.

Heinrich ·

Hulle doen nogal ‘n beroep oor hoe die president gaan ingryp…dis juis oor sy beleid van kaderontplooing dat die plek in die toestand is wat dit is, so sy werk daar is gedoen. Doen dit eerder self.

Frank ·

Hou op om te sê dis wanbestuur!! Noem hom op sy naam; absolute ONBEKWAAMHEID soos wat deesdae die geval is op alle bestuursvlakke in SA.

Kokerboom ·

Die ou storie van wanbestuur is nou al so holrug gery SONDER enige wesentlike optredes!!!Belastingbetalers ..stel ‘n klasaksie teen staat in. Probleem ..ons is leierloos!Die gekerm sal aanhou tot koeie huistoe kom. Dlamini Zuma ignoreer alles. Mnr Ramaphosa wil nie olifant in kamer raaksien.

Casper ·

Inwoners soos myself betaal maandeliks ons munisipale rekening en daarom is ons geregtig op dienslewering soos ook bepaal deur die grondwet.Los die wanadministrasie,korrupsie en gebrek aan dienslewering op en almal wen.

Yvonne ·

Wil julle vir my se die president en sy kaders besef nie die skrif is aan die muur nie

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.