Eise aan premier, president gestel oor Lichtenburg-krisis

Lichtenburg. (Argieffoto: ANA)

Sakeliga het dringende ingryping deur die premier van Noordwes, of indien hy versuim, die president, in die munisipale krisis in Lichtenburg geëis.

Feitlik alle administrasie en dienslewering het vandeesweek in die Ditsobotla- plaaslike munisipaliteit tot stilstand gekom. Dit nadat die provinsiale regering verlede week besluit het om ingevolge artikel 139(1) van die Grondwet by die bedrywighede van die munisipaliteit in te gryp.

Binnegevegte heers al geruime tyd in die munisipaliteit en dit het daartoe gelei dat die munisipaliteit se finansiële en operasionele bedrywighede byna heeltemal inplof.

Die jongste ingryping dra nou die verantwoordelikheid vir die munisipaliteit se bestuur aan die provinsiale regering oor, maar volgens Sakeliga is geen stappe, soos die aanstelling van ʼn administrateur om die dorp se administrasie oor te neem, gedoen nie.

“Die provinsiale owerheid het nou die laaste oorblyfsels van funksionaliteit omvergewerp sonder om iets in die plek daarvan te stel,” sê Piet le Roux, uitvoerende hoof van Sakeliga.

Sakeliga se prokureurs het Vrydag ʼn dringende aanmaning aan premier Bushy Maape en pres. Cyril Ramaphosa gerig, aangesien artikel 139(7) van die Grondwet bepaal dat die nasionale regering moet ingryp waar ʼn provinsiale regering nie sy pligte oor munisipale ingryping nakom nie.

In sy skrywe versoek Sakeliga ʼn vergadering om onder meer te verseker dat die nasionale, eerder as die provinsiale regering, by die munisipaliteit ingryp.

Sakeliga eis ook dat ʼn administrateur teen Dinsdag aangestel word om beheer oor dienslewering te neem, en dat ʼn voldoende bedrag uitbetaal word sodat munisipale werkers se salarisse betaal kan word.

“Die administrateur moet dan ook instruksies ontvang om met Sakeliga en inwoners te vergader om die probleme van die munisipaliteit te bespreek en oplossings daarvoor te vind.”

Sakeliga het die regering tot Maandagoggend gegee om op sy skrywe te reageer, waarna hy hom tot die hooggeregshof sal wend.

Intussen gaan Sakeliga se regsaak om ʼn spesiale meester in Lichtenburg en Vryburg aan te stel, ook voort. In die saak versoek Sakeliga ʼn interdik van die hof om konstitusionele toesig oor die ingryping te neem sodat bestuur van die munisipaliteit herstel kan word.

“As deel daarvan versoek Sakeliga die hof om onafhanklike ouditeure opdrag te gee om noodsaaklike finansiële administrasie oor te neem totdat ʼn behoorlike ingryping plaasgevind het,” sê Le Roux.

Die saak is reeds aan ʼn regter toegeken om oor die vordering toesig te hou en vergaderings sal na verwagting op 17 November voortgaan.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Nie Verbaas ·

En hier stoom die onbeholpe ANC alweer steeds voort. Wanneer gaan hulle agterkom dat hulle glad nie bevoeg is om enige instansie te bestuur nie?

Nico ·

‘n Regter van die Hooggeregshof het ‘n paar jaar gelede die volgende gesê: “In die die huidege Suid-Afrika geld dit wat ‘n regter dink en besluit oor vonnisse in die atmosfeer van die verhoor, blykbaar baie min by die admistratiewe burokrasie wat hulle agterna links en regs in die vonnisse inmeng.

Ronél ·

Lichtenburg is ‘n dorp van totale chaos en verval…………….

SjN ·

Ronel, nie net Lichtenburg nie, alle dorpe waar die onbevoegde anc kaders betrokke is!!

Bytjienw ·

Daar is al van die begin van Augustus geen dienslewering nie. Hoe moet die munisipaliteit funksioneer en salarisse betaal as hulle nooit hul werk doen nie? Hulle staak meer as wat hulle werk. Lisensiekantore is weke aanmekaar toe, so daar is geen inkomste nie, dieselfde met die munisipalekantore, niemand kry rekeninge nie, so niemand weet meer wat moet hulle betaal nie, verkeersbeamptes reik geen boetes uit nie, so daardie bron van inkomste bring ook niks in nie. Dis ‘n bose kringloop. Almal wil die pos hê met die salaris en voordele maar niemand wil die werk doen nie. Die feit dat daar geen geld is om salarisse te betaal nie het hulle oor hulself gebring met wan administrasie en totale swak bestuur. Elke keer wat daar ‘n nuwe raad aangestel word, vee die vorige raad al die “servers” skoon om hul bedrog weg te steek, natuurlik word al die agterstallige skuld ook uitgevee en dan moet daar kwansuis ‘n nuwe stelsel teen astronomiese bedrae aangekoop word.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.