Oos-Kaapse leerders begin jaar sonder handboeke

‘n Skool in Xhorha in die Oos-Kaap. (Foto: Groundup/Manqulo Nyakombi.)

Die Federasie van Suid-Afrikaanse Skolebeheerliggame (Fedsas) het ʼn klag teen die Oos-Kaapse onderwysdepartement by die Menseregtekommissie (MRK) gelê. Dit nadat die departement nie betyds steunmateriaal vir onderrig en leer, insluitend handboeke en skryfbehoeftes, aan skole kon lewer vir die begin van die skooljaar nie.

“Hierdie departement het ʼn lang geskiedenis van onbevoegdheid en ʼn gebrek aan begrip van die pligte van ʼn provinsiale onderwysdepartement,” sê Juané van der Merwe, Fedsas se bestuurder van regsdienste. Van der Merwe sê dit is ironies dat die departement skole ingelig het dat handboeke in sommige gevalle eers in Mei vanjaar afgelewer sal word op dieselfde dag waarop die nasionale departement van basiese onderwys aangekondig het dat alle provinsies gereed is vir die nuwe skooljaar.

Skole aan die kus maak Woensdag oop.

“Asof dit nie erg genoeg is nie, het die departement skole ook aangesê om skryfbehoeftes van verlede jaar te gebruik. Dit ten spyte van die feit dat verlede jaar se toelaag skaars genoeg was vir die 2021-skooljaar.”

Van der Merwe sê hierdie is slegs die jongste voorval in wat ʼn gewoonte van onbevoegdheid by amptenare in die Oos-Kaapse onderwysdepartement geraak het. “In Desember verlede jaar, kort voor Kersfees, is skoolhoofde ʼn onregmatige opdrag gegee om skoolgeld te gebruik om tydelike werkers te betaal wat deel is van die Basic Education Employment Initiative, al laat die Skolewet skole nie toe om lenings toe te staan nie.”

Van der Merwe sê hierdie gebrekkige begrip van die wetlike raamwerk waarbinne openbare skole funksioneer, tesame met ʼn totale miskenning van kinders se grondwetlike regte, het Fedsas genoop om die klag by die MRK te lê.

In sy klag wys Fedsas uit dat die reg op basiese onderrig ʼn positiewe plig van die staat is. Van der Merwe sê dit beteken dat die reg op basiese onderrig nie ʼn reg is wat afhanklik is van die beskikbaarheid van hulpbronne of ander bepalende faktore nie. “Dit is ʼn plig wat uitgevoer moet word ongeag omstandighede. Die onvermoë om behoorlik te begroot is nie ʼn verskoning nie.”

Om sake te vererger, is die skole wat die swaarste sal kry die sogenaamde “geenfooi”-skole. “Hierdie skole het geen finansiële hulpbronne anders as wat deur die staat aan hulle toegedeel word nie. Hulle is van die provinsiale onderwysdepartement afhanklik vir alles, van potlode en papier tot water en elektrisiteit.”

Fedsas het ʼn brief aan die Oos-Kaapse onderwysdepartement geskryf waarin die organisasie eis dat die saak onmiddellik reggestel word en dat alle skole van genoeg steunmateriaal voorsien word voordat skole op 19 Januarie 2022 heropen. “Indien nie, sal Fedsas regstappe begin wat daartoe kan lei dat amptenare in hul persoonlike hoedanigheid aanspreeklik gehou kan word.”

Van der Merwe sê die dikwels arrogante onbevoegdheid van sommige regeringsamptenare maak ʼn bespotting van die Grondwet en die Handves van Menseregte. “Fedsas weier om toe te kyk hoe die regte en belange van kinders so blatant misken word en het dus besluit om die aangeleentheid onder die aandag van die Menseregtekommissie te bring.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Marius ·

Die lewe is hard en die ekonomie het ‘n harde slag op almal geslaan. Dis tyd dat almal hul deel finansieël moet bydra vir hul kinders se skool onderrig. Die skoolkinders is nie die staat se kinders nie. Daar kan niks meer vir “mahalla” wees nie. Andersins moet alle kinders wat skoolgaande is gratis onderrig, klere, skryfbehoeftes, boeke, kospakkies ens kry.

Linx ·

So waar,alles kanni verniet wees nie,nerens word genoem dat d ouers hierie benodighede moes koop nie,dt het my (n enkelouer sonder staatstoelaag) net so bietjie minder as R2000 gekos vir skool benodighede,hoekom moet ander dit verniet kry.En d mooiste is Dan het elke familie iets soos 4 en meer kinders

AW ·

Wat kan ń mens Werklik sê op hierdie berig !?

Hartseer verby, wat die kinders se “Onderig” beteken en ń SKANDE vir daardie mense “in beheer “. !!

Pieter9 ·

Oos-Kaap moet nie nou klae nie; hulle stem van ’94 af ABC… Kry bloot wat hulle verdien-kry net die kinders jammer.

Shakespeare ·

Een ding wat ek nooit sal verstaan nie. Hulle dink hul doen ‘n uitstekende “job”. Kaders bly maar ‘n useless spesie.

JL ·

Hierdie foto is so “gepose” Ek glo goed dat die tafels nie blaaie het nie, want alles word verniel, maar die tafel agter waarop die tasse lê het n blad op. Ek raak sommer naar. Kyk die algemene toestand van die klas. Die mure, kas, gemors wat opgestapel is ens. Die regering van die dag en hulle kaders is die voorbeeld wat die jongmense daagliks sien en nastreef. Vat wat jy kan en los verwoesting agter. Die toekoms is mos van geen belang nie.

Linx ·

Mooiste is “alles moet net verniet wees”,skool onderig, universiteit onderig,kinders kry,moet deur tax betalers onderhou word,ek Betaal skoolfonds&universiteit fonds d next persoon Betaal niks,en hy of sy kry n goed betaalde werk.Niks word gedien aan population wat elke Jaar net groei nie,sassa word betaal aan kinders wat kinders kry,x jammer maar ek kry net d jammer wat vir my MOMMY sé,die ander betaal my tax geld voor so hulle moet maar ly…en ophou kla

Perdeby ·

Behalwe die boeke waar moet hulle op skryf, want die tafels het nie eers ‘n blad op nie, wat ‘n skaamte!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.