Oos-Vrystaat-boere en SAPD vergader oor verskeie kwessies

(Foto: SA Polisie)

Vrystaat Landbou (VL) was vandeesweek betrokke in die fasilitering van ʼn vergadering tussen die Harrismith Distrikslandbou-unie, Verkykerskop Landbou, Sterkfontein Landelike Veiligheid asook die Suid-Afrikaanse Polisiediens. Dit volg op ʼn versoek vanaf die Harrismith Distrikslandbou-unie om behulpsaam te wees in probleme wat dienslewering betref asook die aanspreek van klagtes deur die boerderygemeenskap in die area met senior bestuur van die SAPD in die Oos-Vrystaat.

Verskeie punte van belang is tydens die vergadering bespreek wat insluit, maar nie beperk is nie tot:
– die beskikbaarheid van hulpbronne en mannekrag;
– opleiding van polisielede;
– terugvoer wat betref ondersoeke;
– vertroue tussen die gemeenskap en die polisie; asook
– die misdaadsituasie op die Lesotho-grens.

“Intelligensie wat betref misdaad is noodsaaklik en as sodanig behoort die misdaadintelligensie-afdeling van die polisie ook ’n wesenlike rol te speel in die stryd teen misdaad,” sê Francois Wilken, president van Vrystaat Landbou. “In hierdie opsig is dit noodsaaklik dat ʼn beriggewersnetwerk bedryf word om veral op pro-aktiewe optrede te fokus. Dit kan egter ook ’n rol speel in gevalle waar die misdaad alreeds plaasgevind het.”

Die vergadering is onder andere ook bygewoon deur advokaat George Galloway, voorsitter van Harrismith Distrikslandbou-unie, en Jan van Niekerk, voorsitter van Verkykerskop Landbou-unie.

Tommie Esterhuyse, vise-president van VL, het die vergadering gelei en het aangedui dat kwelpunte wat tydens die vergadering geopper is, ’n invloed het op dienslewering en daarom is dit belangrik dat kommunikasiekanale met die relevante strukture op ʼn hoë standaard moet wees. “In die lig van die gesprekke wat onlangs met die polisieminister plaasgevind het, is dit ook belangrik dat senior bestuur in die spesifieke area kennis dra van die gemeenskap se frustrasies en daar na oplossings gesoek sal word. Die partye het ooreengekom dat meer terugvoer voorsien moet word wat betref die kwessies en ʼn opvolgvergadering is geskeduleer vir Januarie 2021.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Pietertjie ·

Dit wys net hoe onbeholpe en onbekwaam die polisie-DIENS is; dat hulle aangepor moet word om net die basiese diens te lewer waarvoor hulle deur die belastingbetalers vergoed word!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.