Oos, Wes, Mauritius bes

Mauritius (Foto: Michal Marek/Pexels)

Stygende rentekoerse, inflasie en treurige ekonomiese groei het Suid-Afrikaners skynbaar nie die afgelope jaar laat afsien van hul reisplanne nie.

Suid-Afrikaners het in 2023 na Mauritius gereis, gereeld alleen gereis en gewoonlik in ekonomiese klas gevlieg. Gesinne het meestal internasionaal vakansie gehou en meer as 200 babas het na ʼn vakansiebestemming gevlieg.

Dit is volgens data wat Flight Centre onlangs in ʼn verslag bekendgemaak het, wat al 2023 se reisneigings vervat. Die data is gebaseer op besprekings wat tussen Oktober 2022 en Oktober vanjaar gemaak is.

“Ons het ʼn hele paar interessante neigings in ons data van vanjaar raakgelees. Noudat reis wêreldwyd na soortgelyke vlakke as voor die Covid-19-pandemie teruggekeer het, sien ons ʼn skerp neiging in vroue wat alleen reis en ʼn toename in die vraag na vlugte na Dubai en Mauritius, asook ʼn voorkeur vir vierster-akkommodasie,” sê Flight Centre Suid-Afrika se algemene bestuurder, Antoinette Turner.

Die data wys dat Suid-Afrikaners die afgelope jaar veral graag Mauritius toe gereis het wanneer hulle buite die land reis.

Grafika: Elsabe Erasmus.

Plaaslik was Johannesburg die gewildste reisbestemming, gevolg deur Kaapstad, Durban, Gqeberha en George. Johannesburg het ʼn 16%-toename in plaaslike reisigers gesien, in vergelyking met 2022. Dubai het egter die grootste styging in reisigers vanaf Suid-Afrika gesien, met 23,9% meer besoeke as in 2022.

Die tipiese reisiger vanjaar was vroulik, tussen 50 en 59 jaar oud, en het alleen gereis.

Vroue wat alleen internasionaal gereis het, het meestal Londen, Rome, Mauritius, Dubai en Windhoek besoek.

Kliënte wat alleen reis, het altesaam 38% van die besprekings uitgemaak, terwyl ʼn vyfde (22%) in pare gereis het.

“Ons sien al hoe meer dat mense alleen reis. Hierdie kliënte is gemiddeld 52 jaar oud en wil nie meer vir ander wag om die wêreld te sien nie,” lui die verslag. Alleenreisigers en paartjies het graag Mauritius, die Victoria-waterval in Zimbabwe en Zanzibar besoek.

Altesaam 6% van besprekings in 2023 was vir gesinne en nog 6% vir klein groepe. Die oorblywende 28% van reisbesprekings was vir groot groepe mense. Volgens Flight Centre se data was die grootste groepbespreking ʼn plaaslike vlug vir 33 mense na George in die Suid-Kaap.

Nie te jonk óf te oud om te reis

Wat gesinne betref, het meer gesinne in 2023 gereis as in 2022. Flight Centre het vir altesaam 262 babas – en hul voogde – vliegkaartjies bespreek. “Ons oudste kliënt was 101 jaar oud. Dit is ʼn bewys dat jy nooit te jonk óf te oud is om te reis nie,” lui die verslag. Die gemiddelde reis vir gesinne het R65 549 gekos en was sewe dae lank. “ʼn Massiewe 68% van hierdie besprekings was vir internasionale reise.”

Hoewel ʼn lang vlug in ekonomiese klas ongemaklik kan raak, is dit uit Flight Centre se data duidelik dat die meeste mense steeds hul sente omdraai wanneer dit by die gemak van ʼn vlug kom. Amper alle reisigers (90%) wat hierdie jaar oorsee gevlieg het, het in ekonomiese klas gereis, 7% het in besigheidsklas gevlieg en 2% in premium ekonomie. ʼn Skamele 1% van reisigers het in eerste klas gevlieg. Wat plaaslike vlugte betref, het 81% in ekonomiese klas gevlieg en 19% in besigheidsklas.

“Die meeste internasionale reisigers (99,9%) het verkies om by een bestemming te stop op pad huis toe. ʼn Baie klein persentasie het vlugte gekies wat op meer as een plek stop, wat selfs minder druk op hul beursies sou plaas.”

Flight Centre Suid-Afrika voorspel Mauritius en Dubai sal volgende jaar voortgaan om voorkeur-bestemmings vir Suid-Afrikaners te wees, tesame met Phuket, Bali en Ras Al-Khaimah in die Verenigde Arabiese State.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.