Opknapwerk by militêre hospitale sloer steeds

1 Militêre Hospitaal

Die 1 Militêre-hospitaal in Pretoria. (Foto: Facebook/1 Military Hospital)

Die staande komitee oor verdediging het die departement van verdediging gemaan om dringend die verdedigingswerke-formasie (Defence Works Formation of DWF) in staat te stel om sy infrastruktuurprojekte in stand te hou.

Die komitee wil hê die DWF moet minder staat maak op die departement van openbare werke en infrastruktuur ná inligting bekom is oor herstel- en opknappingswerk aan 1 Militêre hospitaal in Pretoria en die status van opgradering aan 2 en 3 Militêre hospitale (in Kaapstad en Bloemfontein onderskeidelik).

Cyril Xaba, voorsitter van die komitee, verwelkom die departement se versekering dat die opknappingswerk by 2 Militêre hospitaal afgehandel is, maar is besorg oor projekte wat steeds nie by 1 en 3 Militêre hospitale afgehandel is nie. Die toegewyde fondse is reeds spandeer en dit laat dus vrae by die komitee ontstaan oor waarde vir geld.

“Die komitee het besluit om met die geneesheer-generaal in gesprek te tree oor die impak van die vertraging op die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag se mediese dienste. Dringende optrede is nodig om seker te maak dat die buitensporige kosteverhoging op die projek en die uitkontraktering aan privaat mediese dienste beperk word.”

Die komitee sê die besluit wat gelei het tot die verlies aan noodsaaklike vaardighede in die werke-formasie het die departement van verdediging magteloos gelaat en dit het ʼn negatiewe impak gehad op projekbestuur. “Ons hoop dat dit lesse is wat geleer is en ons hoop dat die departement vinnig die werke-formasie bekwaam kan maak.”

Die komitee se bekommernis is gebaseer op bewyse dat die departement van verdediging alleenlik op die departement van openbare werke staat gemaak het om infrastruktuurontwikkelingsprojekte te bestuur. Dit het gelei tot vertragings in die projek en verhoogde koste. “Die departement van openbare werke se onderspandering van R1,9 miljard op verdedigingsfasiliteite vir die periode 2014 – 2018 is ook ʼn groot kommernis, omdat die infrastruktuurportefeulje agteruitgegaan het en dit het gelei tot onbruikbare infrastruktuur.”

Die komitee het begrip dat dit ʼn geruime tyd sal duur om die DWF bekwaam te maak en versoek dat bykomende werk nie aanvaar moet word wat die DWF nie in staat sal wees om te kan hanteer nie.

Xaba sê die komitee is ook besorg oor aanspreeklikheid om die vertragings by 1 Militêre hospitaal te ondersoek. “Die komitee besef die direktoraat vir prioriteitsmisdaadondersoeke (die Valke) moet ruimte gebied word om hul ondersoek af te handel, maar ons versoek ook interne dissiplinêre prosesse om beamptes aanspreeklik te hou.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Blomme ·

Die geld vir die projek is lankal verdoesel en in mense se sakke… Daar gaan niks van kom nie…

Di ·

Hoogtyd dat die spul vasgevat word. 1 Militere hospitaal is besig om met die spoed van lig totaal en al ten gronde te gaan. Praat nie eers van die baie onbevoegde personeel wat daar werk nie. Eens een van die beste hospitale is nou vuil en nutteloos

007 ·

Diline, jy weet nie waarvan jy praat nie. Ek was vir 3 weke in 1 Mil met Covid. Ek het alreeds opgegge veg vir my lewe en die personeel in Saal 7 (isolasie) het aanhou baklei. Vandag kan ek my dogter vashou en ‘n man vir my vrou wees agv hulle.

Nie Verbaas ·

Ons hoef regtig nie te wonder oor waar die geld heen is nie. Dit kan ons met 99.9% akkuraatheid voorspel.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.