Opname: Studente bekommerd oor kos, handboeke

Argieffoto (Foto: Unsplash/Pixabay)

Talle Suid-Afrikaanse studente sukkel nie net om hul klasgelde te betaal nie, maar bekommer hulle daagliks oor waar die geld vir hul volgende maaltyd vandaan gaan kom. Dít terwyl hulle nie toegang het tot die nodige hulpbronne soos handboeke of data om te verseker dat hulle hul studies suksesvol kan voltooi nie.

Dit is veral dié studente wat swaar trek tydens die algehele landwye afsondering.

Só lui bevindings van ʼn navorsingsverslag wat in Mei deur die plaaslike skarefinansieringsplatform Feenix gepubliseer is.

Die verslag is opgestel nadat onderhoude met 362 studente van al 26 van die land se universiteite sowel as gegradueerdes en ouers gevoer is. Die verslag het ten doel om die impak van ʼn gebrek aan finansiering te bepaal op studente se akademiese, emosionele en finansiële perspektiewe.

Luidens die verslag het amper die helfte van studente (41%) aangedui dat die registrasie en aanvang van hul studies vertraag is. Die helfte van dié studente het aangedui dat dit weens ’n tekort aan geld is.

Amper ʼn kwart (23%) van dié studente se studies is egter vertraag omdat hulle nie hul kursusse kon slaag nie of van studierigting verander het.

Argieffoto

Luidens die verslag verdien 16% van studente tans hul eie inkomste. Dit word gedoen deur deeltyds te werk terwyl hulle studeer. Sowat 3% van die studente het selfs hul eie onderneming begin om ’n inkomste te kan verdien.

Nog ’n bekommernis wat in Feenix se verslag aandag kry, is studente se toegang tot hulpbronne. Luidens dié verslag sukkel 27% van studente om toegang tot handboeke te verkry, terwyl 46% nie toegang het tot data, skootrekenaars en rekenaars om hul opdragte te voltooi nie.

Al die studente wat aan die navorsing deelgeneem het, het aangedui dat toegang tot data noodsaaklik is om hul kursusse te slaag.

Die verslag toon verder dat die algehele landwye afsondering ook ’n negatiewe uitwerking op universiteitstudente gehad het, aangesien studente wat tydens die afsonderingstydperk op kampus gewoon het, nie skootrekenaars en data kon bekostig om hul studies voort te sit nie.

Hierdie studente sukkel ook om te betaal vir benodigdhede soos kos en vervoer.

Leana de Beer, uitvoerende hoof van Feenix, sê dit is belangrik om kennis te neem daarvan dat universiteitstudente se behoeftes verder strek as bloot finansiële steun om hul klasgeld te kan betaal. Dié behoeftes sluit in kos, akkommodasie, vervoer en data.

Die verslag verwys na die departement van hoër onderwys en opleiding se verslag van 2018-’19, waarin daar bevind is dat 8% van studente hul bekommer oor kos. “Dit beteken dat ongeveer 82 960 studente in Suid-Afrika die las dra dat hulle nie kos kan koop om te verseker dat hulle voldoende maaltye het terwyl hulle studeer nie,” het De Beer gesê.

Volgens De Beer gaan Feenix die inligting wat ingesamel is vir die opstel van die verslag gebruik om sy sakemodel aan te pas om studente holisties te ondersteun.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Prikkie ·

En so het die regering met hulle absurde en vernietigende Covid19 regulasies gesorg dat nog miljoene ouers hulle werk verloor en besighede moet sluit.

Die universiteite is nou besig om ‘n generasie studente wat bedelaars geword het te probeer oplei.

Miskruier ·

Daar is meer studente wat hul bekommer of hul ooit n werk gaan kry.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.