Opruimingswerk begin ná vloede in Pretoria

Skade aan Nelmapiusweg (Foto; City of Tshwane/Twitter)

Stad Tshwane se nooddienste het sy rampbestuursentrum Saterdag ontplooi om te reageer op verskeie voorvalle van oorstromings in die gebied. Swaar reën het sedert Vrydag oor die gebied uitgesak.

Reddingsoperasies word uitgevoer deur tegnici en duikers van Stad Tshwane, Gauteng-nooddienste, die Suid-Afrikaanse Polisiediens en vrywilliger-reddingsorganisasies. Insleepdienste het 27 persone uit voertuie gered toe hulle op oorstroomde paaie en laagwaterbrûe gestrand geraak het, sê Thabo Charles Mabaso, woordvoerder van die munisipaliteit.

“Twee sterftes is tot dusver aangemeld wat met die vloede verband hou. Die SAPD het Sondagmiddag op ʼn man se liggaam agter in ʼn bakkie afgekom. Die voertuig het Saterdagaand in Centurion weggespoel. Nooddienste het ook berig hulle het op die liggaam van ʼn man afgekom wat in sy huis by die Soul City- informele nedersetting in Mamelodi verdrink het.”

Oorstromings by Centurion (Foto; City of Tshwane/Twitter)

Die soektog na drie slagoffers, ʼn bestuurder van ʼn Uber-taxi en twee passasiers, wat vermoedelik deur die Olifantspruit in Midstream weggespoel het, duur ook voort in Irene.

Die soektog na ʼn man wat Saterdag saam met ʼn vriend in ʼn boot was toe hulle oor die damwal by Roodepoortdam gespoel is, het Maandag hervat.

Tydelike skuilings is in Mamelodi (Nellmapius en Mamelodi-Wes-sale), Hammanskraal (Sebothoma-saal) en Pretoria-Wes (Transoranje) opgerig.

Sowat 1 011 persone wat in skuilings geraak is en gemeenskappe wat swaar getref is deur die oorstromings maar nie tydelike skuilings benodig het nie, het ondersteuning ontvang soos komberse, matrasse, warm etes en kospakkies.

Opruimingswerk het Sondag in Centurion begin waar die stad se munisipale spanne begin het om paaie en die Centurionmeer skoon te maak. Meeste van die paaie wat geraak is, is reeds oop vir verkeer.

“Die omvang van die skade word nog bepaal. Opruimingswerk duur ook voort in Mamelodi. Geen paaie is in dié gebied gesluit nie.”

Mabaso sê ʼn beroep word op inwoners gedoen om paraat te bly en nie laagwaterbrûe oor te steek wanneer daar oorstromings is nie.

Stad Tshwane het Saterdag onder andere die volgende plasings gedeel van skade in die stad:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Perdeby ·

Die laagwater bruggies in Centrurion het baie baie jare al ‘n probleem hoekom nie bietjie moeite doen en dit verhoog nie, asook die Hotel in Centurion, die was in 2019 ook so onder water dat mense gered moet word.

Lubbe ·

Daar is oral nood hekke by die laag water brue in Centurion. Hoekom was hierdie hekke nie vroer toe gemaak om te verhoed dat mense daar deur ry nie?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.