Organisasies dien kommentaar oor Bela-wetsontwerp in

Foto bloot ter illustrasie. (Foto: Unsplash / Barry Zhou)

Solidariteit en AfriForum het Woensdag kommentaar op die Wysigingswetsontwerp op Onderwyswette (die Bela-wetsontwerp) ingedien.

Volgens Solidariteit sal die Bela-wetsontwerp ʼn reuse-impak op skole se onafhanklikheid hê. Indien dit ingestel word, voer Solidariteit aan, sal beheerliggame bykans al hulle magte aan die staat afstaan, veral ten opsigte van leerdertoelating en taal.

“Die bedoeling van die staat is duidelik om die onderwysstelsel te sentraliseer,” sê Johnell van Vollenhoven, beleidsontleder verbonde aan die Solidariteit Navorsingsinstituut. “Die implementering van hierdie wysigingswetsontwerp sal tragiese gevolge hê vir onderwysgemeenskappe en die kinders wat by openbare skole hul onderrig ontvang. Dit sal sonder twyfel uiteindelik ook die gehalte van onderrig beïnvloed.”

Van Vollenhoven sê die regering het homself onbevoeg bewys deurdat hy nie sy verpligtinge nakom deur genoegsame skole te bou of hulpbronne en ondersteuning aan skole beskikbaar te stel nie. “In plaas daarvan om eerder hierdie verantwoordelikhede na te kom, wil hy ouers en beheerliggame van hul regte ontneem om sodoende meer beheer oor skole te kan uitoefen sodat hy funksionele skole kan kaap.”

Solidariteit voer aan dat die aanvaarding van die Bela-wetsontwerp in die praktyk sal beteken dat openbare skole sal teruggaan om weer staatskole te word, waar ‘n gemeenskap bykans geen insae in die onderwys en bestuur van sy skool of sy kinders sal hê nie.

“Hierdie voorgestelde wetgewing druis loodreg in teen die oogmerke van Suid-Afrika se demokrasie. Die bedoeling van die Grondwet is juis dat openbare skole met groter outonomie sal funksioneer en dat gemeenskappe die verantwoordelikheid vir die bestuur daarvoor aanvaar,” verduidelik Van Vollenhoven.

Solidariteit voer verder in sy kommentaar aan dat kanale vir meer robuuste onafhanklikheid van skole ondersoek en toegestaan ​moet ​word.

“Skole wat finansieel bekwaam en akademies sterk is, met die aktiewe betrokkenheid van hul gemeenskap, kan die departement van ‘n las verlig deur onafhanklik te word, wat die verskillende departemente van onderwys in staat sal stel om hul hulpbronne te fokus op skole wat dalk meer leiding en bystand benodig.”

Volgens Solidariteit is die indiening van sy kommentaar bloot die begin van ʼn reusestryd wat voorlê, en hoewel hy sal deelneem aan alle ander openbare deelnameprosesse, sal hy nie skroom om die howe te nader indien die regering bloot die wetgewing deur die parlement probeer stoomroller sonder om behoorlike aandag aan die uitkomste van openbare deelnameprosesse te gee nie.

“Ons sal nie toekyk hoe die departement van basiese onderwys van openbare skole staatskole maak nie. Ons sal ten volle deelneem aan elke beskikbare proses en geleentheid en selfs daarna, indien nodig. Ons sal nie die opvoeding van ons kinders prysgee vir die ideologie van politici nie. Ons sal vas staan en ons skole en onderwysers ten alle koste teen die magsbeheptheid van die staat beskerm. In Suid-Afrika het ons minder staat in ons skole nodig, nie méér nie.”

Om Solidariteit se volledige kommentaar te bestudeer, klik hier.

AfriForum verwerp ongrondwetlike amendemente wat Afrikaanse skole teiken

AfriForum het Woensdag ook omvattende kommentaar op die Wysigingswetsontwerp op Basiese Onderwyswette ingedien, waarin dit verklaar dat van die voorgestelde wysigings daarin ongrondwetlik is en Afrikaanse moedertaalonderrig bedreig.

Verder word beklemtoon dat indien hierdie wysigings geïmplementeer word, dit ’n onherstelbare, eensydige en permanente verbreking deur die ANC-regering van die grondwetlike skikking van 1994 sal wees.

Volgens Alana Bailey, AfriForum se hoof van kultuursake, dui die uitgebreide regsmening wat deel van dié organisasie se kommentaar uitmaak daarop dat daar vele gronde bestaan waarop die wetsontwerp verwerp kan word.

“Vir die Afrikaanse gemeenskap is die voorstelle dat die provinsiale onderwyshoofde voortaan die finale sê oor die toelatings- en taalbeleid van skole moet hê, die mees aanvegbare aspek hiervan. Nie alleen kom dit neer op onaanvaarbare toenemende magsentralisasie in die hande van die staat nie, maar dit verbreek ook die huidige samewerkingsmodel tussen die staat en skoolgemeenskappe, soos verteenwoordig deur demokraties verkose beheerliggame van skole.”

AfriForum is van mening dat daar geen rede is om met die bestaande bepalings van die Suid-Afrikaanse Skolewet in te meng nie. Soos wat reeds in die onlangse verlede deur verskeie uitsprake van die konstitusionele hof bevestig is, is beheerliggame as verteenwoordigers van ouers, leerders en plaaslike skoolgemeenskappe veel beter in staat om die behoeftes van hul skole te bepaal. Hulle kan die beste insette gee om te verseker dat kinders toegang tot uitnemende onderwys geniet in ’n vormende opvoedkundige en kulturele omgewing.

“Afgesien van die bedreiging vir Afrikaanse skole, is daar verdere gronde wat die wysigingswetsontwerp onwenslik maak, byvoorbeeld die vaagheid van sommige voorstelle en die toenemende en onuitvoerbare administratiewe rompslomp wat die implementering daarvan tot gevolg sal hê,” sê Bailey.

Benewens die sterk standpunt wat AfriForum in die kommentaar teen die wysigingswetsontwerp inneem, maak dit ook ’n voorstel oor ’n model op grond waarvan skole groter outonomie kan bereik. “Die kommentaar beskryf hoe verdienstelike skole administratief en finansieel meer onafhanklik van die staat kan raak, eerder as wat mag weg van die gemeenskap na die staat gekanaliseer word en skole in wanbestuur verval,” verduidelik Bailey.

“Suid-Afrika se onderwysstelsel is internasionaal berug as een van die stelsels wat die meeste staatsfinansiering kry, maar ten spyte daarvan die swakste presteer. Meer gemeenskapsbetrokkenheid en moedertaalonderrig is ’n suksesresep en daarom moet skole so ver as moontlik weg van die ideologiese magspeletjies van die ANC-regering gehou word. Ons kinders kan nie speelballe in die hande van politici wees nie. Hulle verdien die beste onderrig moontlik en as hierdie Wysigingswetsontwerp op Basiese Onderwyswette aanvaar word, gaan dit nie moontlik wees nie.”

AfriForum is bereid om mondelinge kommentaar op die wysigingswetsontwerp te lewer, asook om die outonomiemodel vir skole in meer besonderhede met die departement van basiese onderwys te bespreek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Catherina ·

In hierdie land , as iets werk BREEK ASB NET AF. Akademia….. brei verder uit ASBj

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.