Organisasies help boere met brandskade in Noord-Kaap

Brande het groot dele van Hopetown en Kimberley verwoes. (Foto: Verskaf)

AfriForum se Bo-Karoo-streektak, Saai en die Orania Beweging het vandeesweek ’n veldtog van stapel gestuur om hulp te verleen aan boere in die Noord-Kaap ná die verwoestende brande wat die afgelope paar dae in die gebied gewoed het.

Maroela Media het berig dat minstens 100 000 ha die afgelope week in die omgewing van Kimberley en Hopetown verwoes is. ʼn Brand wat Saterdag uitgebreek het, het besonder baie skade aangerig. Daar word vermoed dat die brande gestig is.

Lede van AfriForum se Bo-Karoo-streektak, die Orania-gemeenskap en talle ander organisasies het met boere van die omgewing saamgewerk om die verwoestende brande onder beheer te bring. Sterk wind die afgelope naweek het brandbestryders se werk bemoeilik en brande het na die Boshof- en Griekwastad-omgewing versprei.

“Enige skenking van boere in die vorm van voer sal opreg waardeer word en ons wil ’n ernstige beroep op mense doen om ’n donasie te maak sodat die nodige hulp by die boere kan uitkom,” sê Magdaleen Kleynhans, voorsitter van AfriForum se Bo-Karoo-streektak.

Die gemeenskapsveiligheidsentrum in Orania was die basis waar die koördinering van Orania se brandbestryders, wat gehelp het om van die brande te blus, plaasgevind het.

Gebruik die volgende bankbesonderhede indien jy ʼn finansiële bydrae wil maak.

Rekeninghouer:          AfriForum NPC

Takkode:                     261550

Rekeningnommer:      62349898398

Bank:                          FNB

SWIFT-kode:              FIRNZAJJ

Verwysing:                  Brande

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Swerwer ·

Weereens skitter die Regering in hul afwesigheid vir hulp aan die gemeenskap so dus is hulle net so medepligtig aan die brand verwoesting wat gesaai is.

Johan ·

Goeie idee maar daar is ander gebiede wat ook swaar getref is soos bv die Vaalwater en Nylstroom omgewing. Ons wil nie simpatie soek nie maar ek het as voorbeeld my hele plaas se weiding verloor asook heelwat diere.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.