Orkas aan SA kus verstom wetenskaplikes

Verbygaande visse naby Unimakeiland in die Aleoetiese Eilande van Alaska (Foto: Robert Pittman – NOAA via Wikimedia Commons)

Talle ontweide haaie het op ʼn strand in Suid-Afrika uitgespoel en die kollig geplaas op twee haaijagter-moordvisse wie se gedrag wetenskaplikes en natuurlewe-entoesiaste verstom.

Mariene bioloë is na die toneel ontbied toe stappers verlede week die gruvonds in Gansbaai, sowat 150 km suidoos van Kaapstad, gemaak het.

“Die haaie is oopgeskeur en hulle het orka-tandmerke aan hul borsvinne. Hul lewers is ook verwyder,” sê Alison Towner (37), ʼn haaiwetenskaplike by die Dyer Island-bewaringstrust.

Alle bewyse dui op Port en Starboard, ʼn berugte paar moordwalvisse wat drie dae tevore naby Gansbaai opgemerk is.

Die twee word uitgeken aan hul krom rugvinne en is goed bekend aan plaaslike inwoners.

“Ons het op 20 haaie afgekom,” sê Ralph Watson (33), ʼn mariene bioloog by Marine Dynamics, ʼn plaaslike duik- en bewaringsgroep.

Slagoffers sluit 19 platneus-sewekiefhaaie en een gespikkelde sloothaai, het hy bygevoeg.

Towner sê die slagting is merkwaardig, aangesien dit die eerste keer is dat Port en Starboard dié spesies in die gebied gejag het en “dat soveel van hulle uitgespoel het ná net een besoek”.

Dit is egter nie die orkas se mees gevreesde jagtog nie.

Kenners is van mening die twee het veroorsaak dat withaaie, een van die wêreld se grootste seeroofdiere, van die water naby Kaapstad verdwyn het.

Starboard en vier ander moordvisse is verlede jaar op kamera verfilm toe hulle ʼn withaai naby Mosselbaai doodgemaak het.

Ongewone gedrag

Argieffoto van moordvisse (Foto: David/Pixabay)

Die ongewone gedrag is nog nooit vantevore in soveel detail gesien nie.

Orkas, die oseaan se toproofdier, jag gewoonlik dolfyne in dié dele en het vantevore op kleiner haaispesies jag gemaak. Bewyse van aanvalle op withaaie was voorheen baie beperk.

Port en Starboard is vir die eerste keer in 2015 naby Kaapstad opgemerk.

“Hulle het waarskynlik van iewers anders af gekom – Wes-Afrika, Oos-Afrika, die suidelike oseaan, ons weet nie,” sê Simon Elwen (45), hoof van Sea Search, ʼn wetenskaplike navorsingsorganisasie.

Anders as ander orkas, jag die twee naby aan die kus – iets wat hul ongewone vinne ʼn algemene gesig in die streek maak.

“Binne suidelike Afrika is Port en Starboard al opgemerk van Namibië tot Port Elizabeth,” sê Elwen.

Die mariene soogdiere se tegniek is “chirurgies”, voeg Watson by, en sê die twee teiken die haaie se lewers – ʼn baie voedsame orgaan, vol olies.

“Hulle skeur die borsvin oop en dan kan die lewer maklik uitdop,” sê Watson.

Die video van 2022 wat Starboard in aksie wys, laat bioloë bekommerd, omdat dit toon dat die tegniek versprei, met studies wat bepaal het dat die swart-en-wit diere in staat is om jagtegnieke aan te leer.

Sommige Antarktiese orkas gebruik die taktiek om in groepe te jag en golwe te maak wat robbe van drywende ys afspoel, aldus navorsers.

‘n Moordvis in ‘n akwarium (Foto: Gerardo Antonio Romero/Pixabay)

In Antarktika is daar twee orka-bevolkings – nie subspesies nie – maar verskillende groepe wat aan die grense met mekaar oorvleuel, maar baie verskillende jagtegnieke gebruik. Dit is oor geslagte heen aangeleer.

Hierdie tipe gedrag is nie instinktief nie, maar aangeleer, een van die argumente dat walvisse “kultuur” het.

In die video is die vier ander orkas wat deelneem, nie bekend daarvoor dat hulle vantevore withaaie aangeval het nie.

“Dit is nou ʼn bykomende bedreiging vir haaibevolkings aan die kus van Suid-Afrika,” sê Towner.

Elwen sê dit is “fassinerend, maar ʼn groot frustrasie” om te sien hoe ʼn seldsame, bedreigde dier ʼn ander bedreigde spesie doodmaak.

Die algehele gevaar wat Port en Starboard egter vir Suid-Afrika se haaibevolking inhou, bly baie beperk.

Honderde duisende haaie word jaarliks deur vissermanne uit die see gehaal, sê Watson. “Twee moordvisse gaan nie ʼn hele spesie uitwis nie,” voeg Elwen by.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

MJ ·

Dis baie interessant, maar dis die natuur.
God het die diere so gemaak en hulle jag en eet wat hul nodig het.

Belinda ·

Solank hulle uitgelos word – miskien daai so-called klimaats-verandering wat hulle die kant toe dryf? Laat hulle die haaie vang, dis natuur en dit red ook baie lewens (vir ons)

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.