Oscar Pistorius: Staat versoek vonnis van 15 jaar

Oscar Pistorius voorheen in die hof. (Maart 2014)  Foto: Chris Collingridge/TheStar/Pool/SAPA

Oscar Pistorius voorheen in die hof. (Maart 2014) Foto: Chris Collingridge/TheStar/Pool/SAPA

Die staat gaan versoek dat die hof Oscar Pistorius die minimum vonnis van 15 jaar oplê wanneer hy in April vir die moord op sy vriendin, Reeva Steenkamp, gevonnis word.

Luvuyo Mfaku, woordvoerder van die nasionale vervolgingsgesag (NVG), het Vrydag aan Maroela Media gesê die staat sal aanvoer dat die vonnis gepas moet wees vir ʼn aanklag van moord.

Pistorius sal na verwagting op 18 April gevonnis word nadat sy laaste poging om sy skuldigbevinding te appelleer by die konstitusionele hof misluk het. Die konstitusionele hof het Donderdag Pistorius se aansoek om verlof tot appèl afgekeur weens ’n gebrek aan vooruitsigte op sukses.

Die appèlhof het in Desember verlede jaar besluit om Pistorius se skuldigbevinding aan strafbare manslag om te keer.

Prof. Annette van der Merwe van die departement prosesreg aan die Universiteit van Pretoria (UP) het Vrydag gesê dit is te verwagte dat die staat sal versoek dat Pistorius die minimum vonnis vir moord opgelê word, maar dit beteken nog nie dat die hof verplig is om dit te doen nie.

“Natuurlik sal die staat vir die minimum vonnis vra, want die akkusatoriese geveg duur voort – die staat versoek die langste gevangenisstraf moontlik en die verdediging die minste straf moontlik. Ek dink die unieke omstandighede in die saak sal die hof oortuig dat 15 jaar tronkstraf onvanpas en onregverdig sal wees, en die hof sal ook bevind dat daar wesenlike en dwingende omstandighede is [om van die minimum vonnis af te wyk],” het Van der Merwe gesê. “Al die gewone versagtende en verswarende faktore word samehangend in ag geneem. Dit hoef nie uitsonderlike omstandighede te wees nie.”

Van der Merwe verwag dat die verdediging steeds sal steun op die feit dat Pistorius met algemene angsversteuring gediagnoseer is en dus moontlik minder toerekeningsvatbaar was ten tyde van die moord. “Hy kan moontlik ʼn opgeskorte vonnis opgelê word of iets soos agt jaar tronkstraf waarvan drie jaar opgeskort is,” het sy verduidelik. Die gevangenisstraf wat Pistorius reeds uitgedien het, sal uiteraard ook deur die hof in ag geneem word.

Hoewel Pistorius nou alle moontlik regsopsies benut het om sy skuldigbevinding te appelleer, kan hy steeds teen sy vonnis appelleer, het Van der Merwe verduidelik. “Die vonnis kan geappelleer word op grond van verskillende redes, soos as die straf buite die hof se jurisdiksie val, as die hof misgetas het deur onder meer versagtende faktore mis te kyk of te min gewig daaraan te gee, of as die vonnis so skokkend onvanpas is dat geen ander redelike hof dit sou oplê nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

42 Kommentare

jongste oudste gewildste
tersia

Hoekom “Vriendin” hulle nog??? Ek glo nie Reeva was Oscar se “Vriendin” nie gee ‘n “Vriendin” vir ‘n Vriend hartjies, soentjies, ‘n foto van hulle saam op valentyns dag? En slaap oor by ‘n Vriend as dit net ‘n Vriendin was hoekom sou Oscar, Reeva leed wou aandoen! Dit was meer as net ‘n Vriendin en Vriend geval REGTIG!!!!

Wouter

Oog vir n oog en tand vir n tand. Hy moet tenminste 25 jr kry. Hy is skuldig aan moord. Hy het geweet iemand was in toilet en het blindelings daarin geskiet. Omm raak te skiet, anders sou hy in die plafon in geskiet het. Hoop jy kry wat jou toekom.

Elsie

Ek weet hoe angsbevange kan ‘n man sonder bene raak. My Pa was lam in sy bene en hoe moet jy jouself kan verdedig. Ek kry Oscar so so jammer.

Mara

Dis kommerwekkend , met al die huisinbrake, die wreedheid vd aanvalle en moorde, dat n persoon aan moord skuldig bevind word om homself en sy meisie te verdedig. Nie die Hof of die Appel-hof kon bewys dit was n moord op Reeva na n argument nie. Dit was alles bespiegeling met baie persoonlike aanvalle , baie insuniasies, media dekking, lek van vals inligting ad media om sensasie te skep.,Dit was die NVG se kans om hulle beeld te poets. Ek vind dit skokkend dat Suid-Afrikaners,wat elke dag met misdaad gekonfronteer word dit reg en goed vind dat mense wat hulself… Lees meer »

PJ

Hy moet lewens lank tronk toe gaan hy het haar vermoor