Gedeeltes van Oscar Pistorius se moordverhoor mag gebeeldsend word, insluitend die opening- en sluitingsargumente, het die Pretoriase hooggeregshof Dinsdag beslis.
Die atleet se getuienis sal nie uitgesaai word nie.
“Dit is in die publiek se belang dat die verrigtinge in die hof gedek moet word, binne bepaalde beperkings. Dit sal verseker dat ʼn groter aantal mense in die gemeenskap die verrigtinge kan volg, waar hulle hulself ook al mag bevind,” het regter Duncan Mlambo gesê.
Verskeie mediahuise het aansoek gedoen om die verrigtinge deur middel van video- en klanktoerusting uit te saai.
Die klankgreep van die hele verhoor mag uitgesaai word.
Pistorius het sy vriendin, Reeva Steenkamp, op 14 Februarie 2013 by sy huis in Pretoria-Oos doodgeskiet.
Die verhoor begin Maandag.