‘Ou ysters’ en ‘jong ysters’: op Ambagdag kruis dié paaie

(Argieffoto: Sol-Tech)

Op Ambagdag gaan jy die klanke van klinkende metaal hoor.

Só sê Sol-Tech, wat op Vrydag (15 Maart) Ambagdag vier: almal van sweisers en  dieselwerktuigkundiges tot elektrisiëns, meulmakers, passers-en-draaiers, gereedskapmakers en megatroniese tegnici.

Op dié dag gaan die meesters in die ambagte, oftewel die ou ysters, al hulle kennis en ervaring met voornemende ambagslui deel. Sol-Tech se kampus is die verhoog vir die Ambagdag-geleentheid – die tweede een nadat dit verlede jaar vir die eerste keer aangebied is.

Volgens Stef Pretorius, netwerkkoördineerder van die Solidariteit Ambagnetwerk, is die omvang van Ambagdag vanjaar aansienlik groter; hy verwag dat hierdie opwaartse trajek in die komende jare onstuitbaar gaan voortduur.

“Ons ambagslui is onder diegene wat die heel hardste getref is deur afleggings by die groot staatsondernemings en ander werkgewers wat rassetelkaarte bo vaardighede verkies het, of weens blote onbevoegdheid of korrupsie misluk het.

“Maar ondanks dit alles, vind ʼn soort herlewing nou in sommige gemeenskappe plaas. Diegene in die ambagte – letterlik die bouers van ʼn land – het lankal besef hulle moet hande vat en sit nou as ʼn netwerk van mense in die ambagte sélf skouer aan die wiel,” sê Pretorius.

Hy beklemtoon ook dat staatsverval die behoefte aan goed opgeleide ambagslui laat toeneem. Werkgewers staan deesdae tou om Sol-Tech-studente in diens te neem weens ʼn tekort aan opgeleide ambagslui ná die verval van die eertydse tegniese opleidingskolleges én omdat Sol-Tech opleiding van wêreldgehalte bied.

“Kyk jy na die toekoms, is dit net logies: Daar is geweldig baie bouwerk of herbouwerk in Suid-Afrika nodig. Die ambagte gaan veral nou van belang wees. Dit is hierdie mense wat regdeur die geskiedenis, ná tye van swaarkry, met gereedskap in die hand en met ywer ʼn nuwe bedeling begin het. Hulle kan dit wat gebreek is, mos regmaak.

“Die werklikheid is dat 30 000 ambagslui jaarliks die arbeidsmark moet betree om aan die land se behoeftes te voldoen. Tog was daar verlede jaar slegs 6 000 wat vir sulke studie ingeskryf het, van wie 2 800 Sol-Tech-studente was,” sê Pretorius.

Die Solidariteit Ambagnetwerk verteenwoordig al meer as 10 000 lede in die ambagte, en baie van hulle gaan Ambagdag bywoon om die “polsslag van die ambagte te kom voel” en vrywillige mentorskap vir ambagstudente aan te bied. Hul finansiële bydraes help ook om ambag-opleiding uit te bou deur studiehulp aan studente te bied en opleidinginstellings vir ambagslui, soos Sol-Tech en Bo-Karoo Opleiding, op te rig.

Volgens Sol-Tech is hy by uitstek die ideale gasheer vir die geleentheid as vertoonvenster van die “nuwe ambagsman en -vrou” wat die werksetiek van die ou meesters behou.

“Die leuse vir vanjaar se Ambagdag is weereens: Yster slyp yster. Die jong manne nooi die ou manne ʼn bietjie in hulle wêreld (Sol-Tech) in en sê ‘Oom, kom kyk bietjie hoe dit nóú gedoen word’. Die ou manne probeer op hulle beurt weer die jong manne se wêrelde ʼn bietjie oopbreek deur vir hulle te vertel hoe en waar hulle hul vaardighede sal kan toepas.

“Ons wil die manne wat weet, uitbring by die outjies wat wíl weet,” sê Pretorius.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Witwax ·

Dit is baie goed, wens ek kon dit bywoon. Ek is n ambags man al vir 37 jaar. Hier by ons is daar n groot tekort aan ambags vaardighede.

Danie ·

Die rede hoekom ek vra oor blankes is dat ek gehoor het dat Soltech hul opleiding aan alle rasse oopmaak. As dit so is wat is die verhouding.

Cecilia ·

Danie my seun is by Soltech en dis die beste ding ek vir hom as jong man kon gee hy maak klaar Junie en kan dan met sy prakties begin. Ons kinders word in eg afrikaans opgelei. Nerens kon ek dieselfde standard as Soltech kry. En ekt het elke moontlike opsie oorweeg en ondersoek. Doen jouself n guns en gaan besoek daai kampus daar is nie n lekkerder gevoel vir ons as afrikaners om daar in te stap en so klomp jong seuns saam te sien n kaskar dag of al die funksies wat hulle aanbied vir ons seuns te beleef dit gee jou hoendervleis

Dawid Jakobus ·

Dankie Soltech v opleiding gee v jong mense. Ja wereld kort ambagsmanne.Stap vorentoe. Ek is ambag v 40jaar en my seun wat ek hom ondersteun om ambag te he en hy werk nou in Nederland in 2maande. Bravo

Danie ·

Ek is bly om te hoor dat dit goed gaan by Soltech en dat die opleiding in ons moedertaal gedoen word. Sterkte en mag jul seuns net hul beste lewer.

Martie ·

Dit maak nie saak watter ras opgelei word nie, solank dit net goeie opleiding is. Dis nie jou kleur wat jou bekwaamheid bepaal nie, dis jou standaard. Lei almal op wat wil opgelei wees en wys hulle ons afrikaanssprekende mense leef nie in die verlede nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.