Oud-LUR vir gesondheid, medebeskuldigdes in hof vir bedrog

hof-hamer

(Argieffoto)

Brian Hlongwa, voormalige Gautengse LUR vir gesondheid, het Dinsdag saam met sy medebeskuldigdes in die Johannesburgse landdroshof verskyn op 258 aanklagte van bedrog, korrupsie, geldwassery en rampokkery.

Die ander beskuldigdes is Richard John Payne, Kingdom Lolwane, Sybil Ngcobo, Obakeng Stephen Mookeletsi, Valdis Ntsieni Ramaano en Abdul Kalam Mohammed Mahmudur Rahman.

Die beskuldigdes is op borgtog van tussen R20 000 en R50 000 elk vrygelaat. Die beskuldigdes moet ingevolge hul borgtogvoorwaardes hul paspoorte ingee en mag nie sonder toestemming van die ondersoekbeampte die land verlaat nie.

Phindi Mjonondwane, woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG), het gesê die saak spruit uit ’n verslag van die spesiale ondersoekeenheid (SOE) oor die toekenning van tenders deur die departement in die tyd, 2006 tot 2009, wat Hlongwa LUR was.

Payne en Hlongwa was kennisse en sakevennote in die tyd toe Hlongwa ’n raadslid vir die Johannesburgse metro was. 3P Consulting, ’n maatskappy waarin Payne gesamentlike eienaarskap en direkteurskap saam met Lolwane gehad het, is gekontrakteer om werk vir die metro te doen.

3P Consulting het ook later tenders by die Gautengse departement van gesondheid gekry vir die departement se omkeerstrategie en die voorbereiding en samestelling van die departement se 2007‑’08-begroting.

Ten tyde van die toekenning van die tenders aan 3P Consulting, was Ngcobo die departementshoof, Mookeletsi die adjunkdirekteur-generaal van aanbodkettingbestuur, Ramaano hoofdirekteur vir voorsieningskettingbestuur en Rahman was Hlongwa se spesiale raadgewer.

Daar is aanvanklik ’n tender ten bedrae van R68 miljoen vir ’n termyn van twee jaar toegeken, wat toe uiteindelik vir ’n verdere drie jaar verleng is met ’n kontrakwaarde van meer as R273 miljoen. Die departement van gesondheid het meer as R347 miljoen betaal vir die tender voor die verstryking van die vyfjaartermyn.

Volgens Mjonondwane het 3P Consulting ’n 5%-administrasiefooi gehef op elke faktuur wat ingedien is, ten spyte van die feit dat sodanige administratiewe fooie nie deel van die diensvlakooreenkoms was nie.

Die staat voer verder aan dat die beskuldigdes baat gevind het deur reiskoste, huisaankope, huisopknappings en goedere en dienste wat deur verskeie entiteite betaal is, ten spyte daarvan dat sommige van daardie entiteite diensverskaffers aan die departement was.

Die saak is tot 22 April 2022 uitgestel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Julius ·

So baie betrokke by bedrog en diefstal maar niks kom daarvan nie.

Frikkels ·

Nou hoor mens niks meer van Mkize en seun nie. Lyk my jy mag lieg en bedrieg, solank jy net daarna bedank, sal niks verder met jou gebeur nie!

Shakespeare ·

Net ‘n mors van belasting betalers se hardverdiende geld. Spreek hulle almal vry want dit is wat in elk geval gaan gebeur. Ons regstelsel is pateties.

jzjz05 ·

Aparthied mag uit gekruit word vir als wat sleg is en gebruik word om eie sondes te verbloem.maar so vrot was dit nooit soos vandag se nuwe Apartheid nie.

JohanR ·

En nog ‘n ANC in die hof. Gee die saak virJudge President John Hlophe hier in die Kaap. Hy sal die ANC kader in 15 minute vryspreek!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.