Oud-Naspers-hoof skep Afrikaanse leerstoel by US

universiteit-stellenbosch

Universiteit Stellenbosch. Foto: Facebook

Ton Vosloo, oud-Naspers-hoof en sy vrou, Anet Pienaar-Vosloo, het besluit om ʼn Leerstoel in Afrikaanse Taalpraktyk aan die US te borg. Dit kom kort nadat die Konstitusionele Hof die Universiteit Stellenbosch (US) se taalbeleid, wat voorkeur aan Engels gee, gehandhaaf het.

Die leerstoel word vir ʼn tydperk van vyf jaar geborg. Benewens die leerstoel, word geld beskikbaar gemaak vir beurse vir verdienstelike studente wat Afrikaans op nagraadse vlak aan die US studeer.

Volgens die Vosloo-egpaar is die leerstoel gemik op die verdere uitbou van Afrikaans as belangrike instrument in diens van die Suid-Afrikaanse gemeenskap as ’n geheel.

Die Afrikaanse gemeenskap het in Oktober sy ongelukkigheid uitgespreek oor die Grondwethof se eenparige uitspraak oor die universiteit se taalbeleid.

Die US se 2016-beleid gee voorkeur aan Engels as onderrigtaal, terwyl klasse in Afrikaans aangebied sal word indien dit redelik en prakties uitvoerbaar is. Maroela Media het vroeër berig dat die organisasie Gelyke Kanse ʼn aansoek gebring het om direk tot die Konstitusionele Hof te appelleer teen ʼn uitspraak van die Kaapstadse hooggeregshof wat die nuwe taalbeleid van die US gehandhaaf het. Die Konstitusionele Hof het egter berig die US mag sy nuwe taalbeleid toepas.

In antwoord op waarom hy en sy vrou na vore tree met die ondersteuning van Afrikaans, antwoord Vosloo: “In my memoires Oor grense: ’n Lewe in die media in ’n tyd van verandering, wat verlede jaar gepubliseer is, het ek ’n hoofstuk geskryf, getiteld ‘Afrikaans in ’n kreeftegang’. Daarin het ek die punt gemaak dat ek hoop begenadigde individue tree na vore vir wie dit om Afrikaans van A tot Z gaan.

“Anet en ek het die genade dat ons kan help. Afrikaans is, soos Jan Rabie geskryf het, ons suurstof. Dis nou die tyd om in te tree om hierdie ongelooflike kennisbron ter wille van ons nasie se toekoms verder uit te bou.”

Vosloo was tot 2015 vir 59 jaar in die bedryf as joernalis en redakteur. Die afgelope drie jaar het hy in joernalistiek aan die US doseer. Sy vrou, Pienaar-Vosloo, ook ’n oudjoernalis, is besig met die derde televisiereeks Mooi vir die VIA TV-kanaal.

Sy is ’n Matie wat in die kunste gestudeer het en welbekend is vir haar rol as medestigter en direkteur van onder meer die Klein Karoo Nasionale Kunstefees, Aardklop en verskeie ander feeste landswyd. Sy is ook die eerste vroulike voorsitter van die Baxter-teater in Kaapstad.

Prof. Wim de Villiers, rektor en visekanselier van die US, sê die skenking help nie net met die handhawing van Afrikaans as onderrigmedium nie, maar ook met die bevordering van Afrikaans as wetenskap- en beroepstaal binne ’n meertalige gemeenskap. “Sover ons weet is dit die eerste en enigste geborgde leerstoel in Afrikaanse taalpraktyk by enige universiteit,” voeg hy by.

Prof. Ilse Feinauer van die Departement Afrikaans en Nederlands in die US se Fakulteit Lettere en Sosiale Wetenskappe, is as bekleër van hierdie leerstoel aangewys. Sy gee sedert 1982 klas en is vanaf 1996 betrokke by die nagraadse program in vertaling wat onder haar leiding van ’n nagraadse diploma in vertaling tot ’n PhD in vertaling uitgebou is.

“Dit is vir my ’n ongelooflike eer en voorreg om hierdie leerstoel te kan beklee. Ek gee alle krediet aan prof. Wim de Villiers wat die aanvoorwerk gedoen het om hierdie leerstoel binne die departement ’n realiteit te maak.”

Volgens prof. Feinauer is daar reeds beurse aan vier honneursstudente, drie magisterstudente, twee PhD-studente en een nadoktorale genootskap in Afrikaans en Nederlands vir 2020 toegeken. “Hierdie leerstoel skep vir die departement die geleentheid om by uitstek nagraadse studente te bemagtig om in en oor Afrikaans navorsing te kan doen, ten einde ná afloop van hul studie in en met Afrikaans ’n professionele loopbaan te kan volg,” voeg sy by.

Die Vosloos is reeds ’n geruime tyd gewaardeerde US-skenkers.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

23 Kommentare

Feite ·

Dit maak sin om direk terug te ploeg in die taal wat jou suurstof gee en vir die behoud van daardie taal in die breer SA gemeenskap. Dit maak nie sin om terug te ploeg in organisasies wie dit ten doel het om afrikaans te laat uitsluit uit die breer SA gemeenskap en te isoleer by die organisasies vir die bou van n sakeryk vir families en vriende!

Charles ·

Sjoe, nou spring hulle vinnig om, was seker nie die GEWELDIGE reaksie te verwagte gewees wat hulle ontvang het nie, nl. dat ons sal OPSTAAN! vir ons geliefde taal ! Jammer maters, maar ek meen die koel is ongelukkig reeds deur die kerk; julle gaan verswelg word deur Akademia!!!

Leon ·

Al wat ons moet hê is ‘n universiteit wat net in Afrikaans klasgee en dat al die proffesore en dosente wat nie by ander universiteite in Engels wil klasgee, om na die Afrikaanse universiteit te skuif. Dan ge hulle klas in al die studierigtings, maar net in Afrikaans.

Ja swaer ·

Vosloo voel nou skuldig omdat hy die verengelsing vd US nog heeltyd borg en heimlik ondersteun …

chris ·

Baie dankie aan T Vosloo en sy vrou vir hulle patriotiese daad om my en ander se moedertaal Afrikaans te bevorder Ek gun iemand met ander taal sy reg maar nie ten koste van Afriaans nie Prof.W de Villiers se vorige sieninge en reaksie op skenking is vir my baie effentjies as akademikus

Pieter ·

Ou Wim probeer maar net sy neus skoonhou maar almal weet sy liberale leiding het Afrikaans doodgemaak by Maties. Span sy seile na die wind.

Riana ·

Skenk eerder geld aan Akademia sodat hulle meer rigtings kan aanbied.

O aarde ·

Is ‘n Leerstoel in Afrikaans aanvaarbaar vir die Owerstes oor Honderd daar by die Victoria College? Regter Cameron sal onmiddelik die owerhede daarop moet wys dat dit onwettig is om enigsins Afrikaans by die enkeltalige Engelse universiteit toe te laat, en dat daar erens ‘n paar geaffronteerde en verlore sosiale-geregtigheid-krygers rondloop wie se grondwetlike regte aangetas word en dat Afrikaans nie ‘n plek het in Suid-Afrika nie.

Lollie ·

Uitstekende nuus! Wens baie volg hulle voorbeelde en doen meer vir Afrikaans!
As dit so aangaan sal Afrikaans beslis gered word!
Duisende dankies vir almal wat opstaan en baklei vir Afrikaans!!!

Charles ·

Opbou en Verset is eerder te bespeur by ander instansies, en nie by die ruggraatlose staatsuniversiteit nie.

Saint ·

Let op:
Die borgskap spesifiek vir n Afrikaans ge-orienteerde leerstoel.

Nou wag ons op besware deur Panayasi Lesufi en hewige uitroepe van rassisme.

Al hierdie besware is gewoon nie geldig nie. Daar word GEBORG vir n leerstoel in “AFRIKAANS”

Heinrich ·

Ek raak net so de hoenders in en warm onder die kraag dat ons by n model c skool wat afrikaans is in engels eerste en afrikaans die vergadering moet deurmaak. Dubbel tyd. Dit pla die hoof nie veel nie maar ek troos myself daar in dat afrikaans die hemel se taal is???? wanneer ek met Die Skepper praat in die Naam van Sy Seun Jesus Christus dan noem ek die probleem by die naam in Afrikaans. God se volk is min. Hulle taal? Ons sal n nuwe lied sing.

Ernst Marais ·

Gewetensgeld na die bedenklike rol wat Naspers die afgelope dekades in Afrikaner politiek gespeel het?

Dit is maar net ‘n kwessie van tyd voordat Afrikaanse publikasies vanuit die Naspers stal iets van die verlede is.
Ek betaal nie om in my taal beledig te word deur die Bassons van die lewe nie.

Frik ·

Wil Afrikaners nog “gered” word? As so luister en lees dan lyk dit of gewone Afrikaners klaar boedel oorgegee het, veral die jonges.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.