Oudburgemeester Murunwa Makwarela sterf

Dr. Murunwa Makwarela, voormalige burgemeester van die Tshwane-metro. (Foto: Twitter)

Dr. Murunwa Makwarela (52), Tshwane se omstrede oudburgemeester, is Dinsdag dood.

Mcedi Ndzwanana, speaker van die metroraad, het dié nuus op X bekend gemaak. Hy het egter geen oorsaak vir Makwarela se dood verskaf nie en bloot gesê dat hy “vanoggend sy lewe verloor het”.

Volgens dr. Abel Dube, familiewoordvoerder, is Makwarela ná ʼn “kort siekbed” in die Leratong-hospitaal dood.

 

ʼn Herrie het destyds om Makwarela se kop losgebars, onder meer weens ʼn vervalste bewys dat hy van insolvensie gerehabiliteer is en bewerings dat Tshwane-raadslede omgekoop is om vir hom as nuwe burgemeester te stem.

Makwarela, ʼn voormalige Cope-raadslid, is in Maart verlede jaar uit sy pos as burgemeester geskop – nog voordat sy amptelike ampstermyn begin het – omdat hy geen bewyse van rehabilitasie kon lewer nadat hy vroeër insolvent verklaar is nie.

Ingevolge art. 47 en 158 van die Grondwet mag ongerehabiliteerde insolvente persone nie as openbare verteenwoordigers in munisipale rade, die Nasionale Raad van Provinsies of die Nasionale Vergadering dien nie. Makwarela was dus uit die staanspoor ongeskik en onverkiesbaar, hoewel hy aangevoer het dat hy wel gerehabiliteer is.

Toe Makwarela kort daarna skielik ʼn rehabilitasiesertifikaat by die stadsbestuurder ingedien het om sy werk te behou, het die Pretoriase hooggeregshof gesê die sertifikaat is vervals. Hy het daarna as burgemeester en raadslid bedank.

Die koalisie in die Tshwane-metro het gevolglik ook ʼn strafregtelike klag teen Makwarela ingedien.

Enkele dae ná sy bedanking het Action SA beweer dat een van sy raadslede in Tshwane omkoopgeld van nagenoeg R2 miljoen aangebied is om ʼn stem ten gunste van Makwarela as nuwe Tshwane-burgemeester uit te bring.

Volgens ActionSA is dié lid deur twee lede van die politieke party Defence of People (DoP) genader met ʼn aanbod om sy stem vir Makwarela as burgemeester te “koop”.

Ten tyde van sy dood het Makwarela op minstens twee aanklagte van bedrog en uitgifte tereggestaan, waarvoor hy verlede jaar ook vlugtig in die hof verskyn het. Dié sake is deur die Valke ondersoek.

Die DA se Cilliers Brink, wat verlede jaar in Makwarela se plek tot Tshwane-burgemeester verkies is, het sy dood betreur.

“Dr. Makwarela het in Maart 2023 in ʼn onstuimige tydperk in die Stad se politiek as uitvoerende burgemeester gedien. Hy was voor sy verkiesing tot burgemeester die speaker van die munisipale raad.

“Wat ook al ons verskille, en daarby nog die omstredenheid van sy amp, is ek hartseer oor sy afsterwe. Ek bid dat God sy familie sal vertroos en vrede aan hulle bring,” het Brink gesê.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Casper ·

Ore, ja hy was op 2 aanklagtes van bedrog en uitgifte aangekla maar is dood voor hy verhoor is.Nogal jammer.

Di ·

Ja mens weet nooit wanneer jou strepie getrek is nie, dan moet jy rekenskap gee

Delia ·

Ek is jammer vir sy familie. Verskoon dat ek ietwat sinies klink. Hoop n nadoodse ondersoek word gedoen vir vreemde stowwe in sy bloed/weefsel. As hy die geleentheid sou kry om te praat in n hof, wie sou hy ook nog in die moeilikheid kon bring

Adri ·

RIP Maroon-One! Ek was in 2005 Murunwa se sekretaresse. Hy was ‘n baie aangename man wat omgegee het vir sy medemens. Ek kon nie sy naam reg uitspreek nie toe sê hy vir my ek moet dit so onthou Maroon One. Sterkte aan sy vrou en kinders.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.