Ouderdom knip nie dié lugwaardin se vlerke

Christel van der Westhuizen. (Foto: Verskaf)

Die diversiteit en energie van mense wat kom en gaan op ʼn lughawe het nog altyd vir Christel van der Westhuizen ʼn unieke bekoring gehad.

Min het hierdie Suid-Afrikaanse ma van twee geweet dat sy haar in haar 40’s byna daagliks in dié opwindende warboelwêreld sal bevind as een van American Airlines se 25 000 vliegtuigpersoneellede.

“As mense my vra hoekom ek nou kies om hierdie droom na te jaag is my antwoord baie eenvoudig: hoekom dan nou nie!” vertel sy vanuit Dallas, Texas, in die VSA.

Dié voormalige fotograaf en haar man, Johan, en hul twee kinders, Lente (16) en Nicklas (14), het sewe jaar terug van Pretoria na die VSA verhuis.

“Ons is ʼn avontuurlustige familie, wat nie bang is vir verandering nie. Ek sê altyd vir ons kinders ons lewe is ʼn avontuur – ons moet nooit bang wees om nuwe plekke en kulture te ervaar nie, en as iets nie werk nie, dan verander ons dit.”

Christel was vir ʼn geruime tyd ʼn tuisbly-ma, maar vertel dat sy altyd iets gevind het om haar mee besig te hou.

Die idee om ʼn nuwe loopbaan in haar 40’s te betree het egter vlerke gekry toe sy en ʼn ander Suid-Afrikaner geselsies in ʼn restaurant aangeknoop het.

“Ek het een aand met ʼn vreemdeling, wat nou ʼn vriendin geword het, in ʼn restaurant begin gesels toe sy hoor ek en my gesin praat met mekaar Afrikaans. Die gesprek het vinnig na beroepe gelei en sy vertel toe van haar wonderlike nuwe loopbaan as lugwaardin. Toe ek hoor dat sy my ouderdom was, het sy dadelik my aandag gehad. Ek het besluit dat dit iets is wat ek wou doen.”

Drie maande later is haar aansoekvorm voltooi en ingestuur.

“My kanse was aanvanklik nie baie goed nie. Daar was net ʼn 1%-kans vir my om die werk te kry weens die talle jaarlikse aansoeke. Ja, net 1% …”

Ses weke later is sy vir haar eerste aanlyn onderhoud saam met ʼn groep aansoekers genooi. “Tot my verbasing was ek nie die oudste in die groep nie,” terg sy.

Twee maande daarna moes sy en 80 ander belowendes vir ʼn eerste regstreekse, persoonlike onderhoud aanmeld. “Ek was een van die gelukkiges wat daar en dan my aanstelling gekry het! Die feit dat ek ouer was en ʼn tweede taal kon praat, het toe eintlik in my guns getel.”

Christel saam met lede van die Amerikaanse vloot. (Foto: Verskaf)

Ses weke se intense opleiding, met praktiese oefeninge en uitdagende toetse met ʼn vereiste slaagsyfer van 90%, het hierna voorgelê.

“Ons was ʼn groep tussen 22 en 55 jaar oud en moes baie inligting in ʼn baie kort tydjie baasraak. Só vorm jy hegte bande met mense van oor die wêreld wat dit saam met jou moet trotseer.”

Omdat die groep opgelei is om op verskillende vliegtuie te werk, kon sy dadelik internasionaal begin werk.

“American Airlines vlieg na 269 binnelandse bestemmings en 92 internasionale bestemmings oor 48 lande, so hulle het vir my een van die ongelooflikste en veelsydigste ervarings van my lewe gegee.”

Tot op hede het sy die VSA platgereis en ook na bestemmings soos Nieu-Seeland, Hawaii, Mexiko en El Salvador gereis. “Ons kry meestal ook die geleentheid om die plekke waarheen ons vlieg te verken en die mense, kos en kultuur te ervaar. Boonop is die hotelle waar ons slaap dikwels sentraal geleë, so dit maak veral die inkopies lekker.”

Haar werk sorg natuurlik vir heerlike staaltjies en skinderstories, veral wanneer dit by passasiers kom.

“Mense is baie interessant. Ek het al passasiers gehad wat vir hulself skoonheidsmaskers tydens die vlug opsit en een keer het ʼn hondjie diarree op die vliegtuig gekry. Die beste is natuurlik die versoeke wat ons kry wanneer dit by kos kom. Mense dink hulle is in ʼn restaurant in die lug!”

American Airlines se groot personeelkorps sorg ook dat sy gereeld met nuwe, diverse mense in aanraking kom.

“Ons is meer as 5 000 lugwaardinne wat net in Dallas gevestig is, so die kans dat jy dieselfde persoon twee keer raakloop, is skraal. Dis heerlik.”

Natuurlik is daar nie baie ander Suid-Afrikaanse personeellede nie, daarom is die personeel en passasiers altyd nuuskierig en knoop maar net te graag met Christel geselsies aan.

“Mense is mal oor my aksent, veral as ek die aankondigings moet doen,” vertel sy laggend.

“Party weet dadelik dat ek van Suid-Afrika af is en ander het nie die vaagste benul watter aksent ek het nie.”

Christel en van haar kollegas. (Foto: Verskaf)

Natuurlik het enige nuwe beroep sy uitdagings en groeipyne, maar volgens Christel ondersteun haar gesin haar drome en loopbaan ten volle.

“My eerste jaar is maar moeilik, want ek is op ‘reserwe’, wat beteken dat ek my skedule op die dae wat ek werk ongeveer 12 uur voor die tyd kry. Dan kan hulle jou ook na enige plek in die wêreld stuur.”

Só ʼn onvoorspelbare skedule is egter reg in hierdie selferkende avontuurlustige se kraal.

“Jou beplanning moet net baie goed wees, maar my gesin is my steunpilaar. Ek is so dankbaar vir hulle en ook trots op hul aanpasbaarheid. Ná ʼn jaar raak dit net beter en makliker,” vertel sy.

Dit blyk dat ouderdom ook nie binnekort haar vlerke in dié nuwe loopbaan gaan knip nie.

“Ek leer elke dag iets nuuts en sien uit na wat die toekoms inhou en waarheen my loopbaan my oral gaan neem. The sky is the limit, mens is nooit te oud om jou drome te volg en nuwe uitdagings vir jouself te stel nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

19 Kommentare

Realis Thailand ·

Ek wens meer mense wil emigreer en sien wat die Buiteland hulle bied
Daar is duisende poste deur die wereld vir mense onder sestig reg deur die wereld
Hier waar ek woon is daar n paar duisend poste alleen met goeie salarisse

Republikein in die Wes Kaap ·

Louis, kort voor lank sal ons almal moet kies tussen ellende in SA of voorspoed in die buiteland.

Realis Thailand ·

Ek was sewentig toe ek hier in Thailand vandag presies nege jaar gelede aangekom het met een tas klere en so n bietjie moed en vandag besit ek my eie huis ,boer op n plaas, n mens is nooit te oud om te boer, nie en geniet die lewe sonder enige vrees vir misdaad en geweld
My motor staan in n afdak met die sleutel in die voertuig vir die afgelope nege jaar en ek het nie eers sleutels vir my huis gekry tot vandag toe nie
n Mens is nooit te oud as jy rerig iets wil doen nie.

Lillian ·

Geniet dit!, eks vandag spyt ekt nie my droom om lugwaardin te word, nagejaag nie.

Lizelle ·

Inspirerend! Kan net droom oor sulke geleenthede in ons liewe land.

Stephen ·

Regtig? Asof veertig die einde van jou lewe beteken. Dis werklik belaglik om dit eintlik te noem. Ek het n vriend wat nog voltyds vlieg instruksie doen. Hy word 83.

MK123 ·

Meeste lugrederye neem nie nuwe lugwaardinne in bo 30 nie, so sy is wel die uitsondering tot die reel.

Realis Thailand ·

Dit was jare gelede die geval niemeer soseer vandag nie
Ek weet van nog n vrou wie by Malaysia air oor die veertig was toe sy indiens geneem is

Vernon ·

Fantasties…in hierdie land is jou velkleur nie reg nie!! Sterkte aan jou!!!

TRP ·

So pragtige dame. Baie sterkte met hierdie reis, letterlik en figuurlik gesproke. Ek dink dit is ongelooflik.

Perdeby ·

Gelukkig vir haar is daar in die VSA nie kleur en ouderdom beperkings nie.

Niklaas ·

Sy is gewis baie mooier as die gemiddelde nooiens in ons trotse huidige S A Lugdiens. Ek dink sy mag dalks skraler ook wees.

Christine ·

Hahaha, lekker lag ek want jy praat die waarheid, dan is van hulle nog so onvriendelik en dink hulle doen jou ‘n guns.

Realis Thailand ·

Die meeste wie ek laas gesien het en dit was 22 jaar gelede waggel die gang af so skuins en is so onvriendelik soos nogiets gewees en toe ek kla word ek gese dit is bemagtiging ek moet dit aanvaar
Nooit weer met SAA gevlieg tot vandag toe

Di ·

Beste besluit wat haar gesin gemaak het om hierdie HOOL te verlaat! Sien GEEN toekoms vir ons blankes of ons kinders hier nie. ALS IN RIOOL status

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.