Oudregter, OVK herbesin oor plaaslike verkiesingsdatum

Die DA het klaar te kenne gegee dat hy nie meen’n hersiening van die kiesdatum is nodig nie. (Argieffoto: Henk Kruger/ANA)

Voormalige adjunkhoofregter Dikgang Moseneke gaan ʼn hersieningsproses van die Onafhanklike Verkiesingskommissie (OVK) lei wat moet help bepaal of die komende plaaslike regeringsverkiesing te midde van die Covid-19-pandemie uitgestel moet word.

Glen Mashinini, voorsitter van die OVK, het die aankondiging oor die hersiening en Moseneke se betrokkenheid Donderdag gedoen.

Die plaaslike verkiesings word, as alles volgens plan verloop, landwyd op Woensdag 27 Oktober gehou.

Mashinini sê voorbereidings vir die verkiesing is in ʼn gevorderde stadium en die kommissie is tevrede dat dit moontlik is om ʼn “suksesvolle verkiesing onder die huidige omstandighede te hou”. Hy sê teen gister is 40 tussenverkiesings, waarby 360 000 geregistreerde kiesers betrokke is, suksesvol gehou.

Hy sê daar is ook gekyk na die ervarings van ander lande, waaronder Malawi, Kenia en Tanzanië, op die vasteland, asook lande soos die VSA en Indonesië, waar verkiesings suksesvol te midde van die pandemie gehou is.

Volgens Mashinini is die OVK vol vertroue dat hy die verkiesing kan aanbied, maar dat hy ten spyte van dié vertroue nie onbewus is van die gevare wat gepaardgaan met die aanbied van byeenkomste wat groot getalle mense byeenbring nie.

Hy sê ook politieke partye is verdeeld oor of hulle vrylik en regverdig ingevolge die huidige rampregulasies stemme sal kan werf. Die meeste partye is van mening dat die verkiesing moet voortgaan, hoewel sommige kommer gelug het oor die beperkings wat tydens die stemwerwery sal geld.

“Ons besef dat die omstandighede van politieke partye en kandidate sal vereis om hul tradisionele veldtogstrategieë aan te pas,” sê Mashinini.

Hy sê die regte balans moet gevind word tussen die beskerming van die demokrasie en die beskerming van lewens en dat elke moontlike hulpmiddel ingespan moet word om te verseker dat dié verpligtinge nagekom word.

Moseneke is deeglik vertroud met die OVK se werkswyse en was in 1994, tydens Suid-Afrika se eerste demokratiese verkiesing, die adjunkvoorsitter van die kommissie.

Hy sal die hersieningsproses lei en voorleggings deur politieke partye en ander belanghebbendes oorweeg. Tydens die proses sal ook gekyk word na die wetlike, sosio-politiese, gesondheid- en praktiese oorwegings rakende die verkiesing.

Moseneke en sy span se verslag sal na verwagting teen Julie aan die OVK oorhandig word.

John Steenhuisen, leier van die amptelike opposisie, het reeds gesê die DA stem nie saam met dat ʼn hersiening nodig is nie. Hy sê die party is gereed om na die stembus te gaan.

“Toenemend aaklige omstandighede staar Suid-Afrikaners in die gesig en hulle smag na verandering – wat slegs by die stembus en met gereelde en tydige verkiesings teweeggebring kan word. Dit is inderwaarheid elke burger se grondwetlike plig om deel te neem aan gereelde verkiesings, hul stemme te laat hoor en mislukkende en korrupte regerings uit te stem. Ons deelnemende demokrasie berus op die OVK se mandaat om vry, regverdige en gereelde verkiesings te hou,” sê Steenhuisen.

“Die OVK het deur verskeie tussenverkiesings oor die afgelope sewe maande gewys hy kan vry en regverdige verkiesings ten spyte van die Covid-19-pandemie hou.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Lourens CFG ·

Ons moet stem die 27ste en klaar. Hou op kafoefel aub.

Hennie J ·

Dit is asemrowend hoe die ‘buck” aangegee word. Die regering was heel gelukkig om die land dood te wurg met woeste inperkings, maar is nou te slapgat om die ovk te dwing om gehoor te gee aan die grondwet. Die klomp wil nie stembus toe gaan nie want hulle weet die kiesers sal hulle vasvat.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.