Oudrugbyspeler sterf in ongeluk op pad na ma  

Tiaan Bezuidenhout is in ’n motorongeluk dood. (Foto: Verskaf)

Tiaan Bezuidenhout (26), ’n voormalige rugbyspeler en oudkaptein van die Noordwes-Universiteit (NWU) se Varsitybekerspan, is Saterdag in ’n motorongeluk op die N4 naby Kroondal in Noordwes dood.

Hy was van Mbombela (Nelspruit) in Mpumalanga na Rustenburg onderweg om vir sy ma, Lazelle, vir Moedersdag te gaan kuier.

Bezuidenhout se jare lange vriend en Blou Bul-slot, Walt Steenkamp, sê hy gaan geweldig gemis word.

“Ek het nie woorde nie, dis ’n baie groot skok. Ek sal sy liefde vir mense en sy goeie leierseienskappe altyd onthou.”

Dié boesemvriende ken mekaar al sedert gr. 1 en het graag saamgekuier.

Hulle het van laerskool tot op universiteit saam rugby gespeel en was ook tydens groot mylpale, waaronder hul onderskeie troues, aan mekaar se sy.

Walt Steenkamp en sy boesemvriend, Tiaan Bezuidenhout. (Foto: Facebook)

Bezuidenhout het sy tokse in 2018 opgehang en het voor sy dood as makelaar in Mbombela gewerk.

Volgens Steenkamp was Bezuidenhout innig lief vir sy vrou, Dominique, sy ma en kleinboet, Francois.

Leon Boshoff, ’n oudafrigter by wie Bezuidenhout destyds as studenterugbyspeler geoefen het, sê dat hy hom nie net as ongelooflike speler sal onthou nie, maar ook as mens.

“Hy het ’n groot teenwoordigheid gehad – oral waar hy gegaan het. Hy het nie baie gepraat nie, maar wanneer hy hét, het almal geluister. Hy het dit nooit afgedwing nie, dit het so natuurlik vir hom gekom.

“Ek het baie respek vir hom gehad.”

Boshoff sê ook die manier waarop Bezuidenhout na sy ma omgesien het, was bewonderenswaardig.

“Ek dink dat sy veral baie swaar gaan kry.”

Tiaan Bezuidenhout en sy vrou, Dominique. (Foto: Facebook)

Omstandighede rakende die ongeluk wat Bezuidenhout se lewe geëis het, is in dié stadium nog onduidelik. Dit blyk egter dat Bezuidenhout se voertuig teen ’n vragmotor gebots het. Hy was alleen in die voertuig.

Jonathan Mokuena, destyds NWU se afrigter, onthou Bezuidenhout ook as ’n besondere speler en mens.

“Hy was iemand op wie ek kon staatmaak om dissipline in die span te handhaaf. Ek onthou nou nog hoe hy gehuil het toe ek hom aan die begin van 2018 as ons kaptein aangewys het. Hy was ongelooflik trots om NWU te verteenwoordig en aan te voer.”

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Anoniem ·

Ai dit is werklik baie
tragies……………………….so ‘n jong lewe!!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.