Oudwerker bedrieg Cell C glo uit R64 m.

Foto: Skermskoot/Google Maps

ʼn Voormalige werknemer van Cell C het Vrydag in die gespesialiseerde handelsmisdaadhof in Palm Ridge, Johannesburg, verskyn vir beweerde bedrog en korrupsie van R64 miljoen.

Mohamed Ismail Admajee (44) was voorheen ʼn inligtingstegnologiebestuurder by Cell C en daar word beweer dat hy tussen 2012 en 2019 saamgespan het met ʼn direkteur van ʼn maatskappy wat verantwoordelik was vir IT- en netwerkdienste by sy werkgewer.

“Hulle het glo die bedrae op fakture verhoog en dit het tot ʼn verlies van meer as R64 miljoen vir Cell C gelei,” het kapt. Lloyd Ramovha, Valke-woordvoerder, gesê.

Admajee is Woensdag deur die Valke in hegtenis geneem. Die Valke het verlede jaar met ʼn ondersoek na die aangeleentheid begin nadat ʼn interne oudit by Cell C gedoen is en beweerde ongerymdhede aan die lig gekom het.

Admajee moet weer op 26 Januarie in die hof verskyn wanneer hy na verwagting om borgtog sal aansoek doen. Ramovha het gesê nog inhegtenisnemings word verwag.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.