Ouer, onnies in hof oor skoolgeweld

Lede van Naptosa betoog buite Mankwe-landdroshof (Foto: ANA)

ʼn Ouer en twee laerskoolonderwysers van Noordwes het in verskillende howe in die provinsie verskyn in verband met klagtes van aanranding by twee verskillende skole.

Itumeleng Lizbeth Letsepe (40) het in die Mankwe-landdroshof in Mogwase verskyn in verband met die beweerde aanranding van ʼn laerskoolonderwyser, Mpuseng Sepotokele (53). Letsepe staan tereg op aanklag van aanranding met die doel om ernstig te beseer.

Sepotokele, ʼn graad 3-juffrou, het aan die hof gesê Letsepe het haar op 22 Februarie by Leema Primary School se hek, ongeveer 60 km wes van Rustenburg, met ʼn sambreel aangerand. Skoliere het die voorval aanskou. Sy het beserings aan haar kop, regterarm en regterhand opgedoen. Sy het aan die hof gesê sy kry gereeld hoofpyn ná die aanval.

Letsepe het Sepotokele daarvan beskuldig dat sy haar seun mishandel. Haar seun het huilend by die huis gekom en beweer Sepotokele het hom geklap.

Sepotokele hou vol sy het nog nooit ʼn kind mishandel nie. Sy oorweeg ʼn vervroegde pensioen weens die besering aan haar hand. Sy voer aan sy kan nie meer skryf of merk nie en moet steeds fisioterapie ontvang.

Die saak is tot 25 Julie uitgestel.

Ephraim Ditlopo, voorsitter van die National Professional Teachers Organisation of South Africa (Naptosa) in Noordwes, het aan die African News Agency (ANA) gesê die vakbond is besorg oor die stand van veiligheid in skole. “Ons is hier [in Mogwase] om ʼn lid te ondersteun wat aangerand is deur ʼn ouer. Ons is baie besorg dat daar geen beleide is wat persone in skole beskerm nie.”

In Tlhabane, naby Rustenburg, het twee onderwysers van Motladi Kgoadigoadi Primary School in die Bafokeng-landdroshof verskyn nadat hulle na bewering twee minderjarige kinders, ʼn broer en ʼn suster, aangerand het. Die negejarige seun het ʼn besering aan sy knie opgedoen nadat die onderwyser hom na bewering in Julie 2018 met ʼn hoëhakskoen geskop het. Die 55-jarige onderwyser het op 5 Junie in die streekhof verskyn op aanklag van aanranding met die doel om ernstig te beseer. Haar saak is tot 5 Julie uitgestel.

Haar 53-jarige kollega het ook op 20 Junie in die streekhof verskyn vir die aanranding op die 10-jarige meisie. Hy het na bewering ʼn besemstok gebruik die kind mee te slaan ná sy in Januarie 2018 buite in die reën gespeel het. Die meisie se hand het geswel.

Die kinders se pa voer aan dit was ʼn poging deur die skool om hom te dwing om sy kinders na ʼn ander skool toe te vat. Sy kinders het glo vroeër by hom gekla dat iemand by die skool gesê het hulle moet na ʼn ander skool toe gaan. Dit volg glo ná ʼn verbrokkeling van die verhouding tussen die pa en die skool se bestuur toe hy aangevoer het die skool se finansies word wanbestuur. Hy het die openbare beskermer genader om ʼn ondersoek van stapel te stuur en hy is daarna as lid van die beheerliggaam verwyder.

Sy kinders is op 6 Mei vanjaar huis toe gestuur. Toe hy die distrikskantoor gekontak het, het hulle gesê hy moet die volgende dag teruggaan skool toe. ʼn Groep ontstoke ouers het hulle op 7 Mei by die skool ingewag. Hulle voer aan hy wou moeilikheid maak by die skool en het sy kinders uit die skool geskop.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Klipindiebos ·

Wanneer praat nie meer help nie. ‘n Goeie tema vir ‘n nuwe boek.

Attie. ·

Bring terug die rottang. Ses van die bestes het vir my gehelp en sal ook meeste van vandag se probleme oplos.

dissipline ·

Attie, ek laat nie enige iemand aan my kind slaan nie. Daar is weird mense daar buite (glo dit of nie, selfs onderwysers). Dissipline begin by die huis.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.