Ouerpaar sterf saam

Dalene en Sakkie Schlebusch is Saterdag in ’n motorongeluk dood. (Foto: Verskaf)

Wat veronderstel was om ʼn dag van vreugde te wees, het Saterdag in ʼn tragedie ontaard toe ʼn ouerpaar van Parys in die Vrystaat saam in ʼn motorongeluk gesterf het.

Sakkie (62) en Dalene Schlebusch (60) was op pad om hul seun Zack (31) by die OR Tambo-lughawe in Johannesburg te gaan haal toe hul Toyota Fortuner gerol het.

Die egpaar is op die toneel dood verklaar terwyl Zack se verloofde, Carmen Strydom (21), en dogtertjie Zay-lene (10), beseer is en na nabygeleë hospitale vervoer is.

Carmen Strydom (regs) en Zay-lene Schlebusch (links) is ook in die ongeluk beseer. (Foto: Verskaf)

Die ongeluk het kort voor 05:00 op die R59 naby Henley on Klip plaasgevind. Dis sowat 60 km van die lughawe waar Zack pas uit die buiteland teruggekeer het. Hulle sou vir die eerste keer in sewe maande weer herenig wees.

Strydom sterk tans nog in die Netcare Union-hospitaal in Alberton aan en Zay-lene is Dinsdagmiddag uit die Netcare Clinton-hospitaal ontslaan.

Die egpaar se dogter Trix Oelofse sê hulle sal hul ouers altyd onthou as mense wat nie aldag saamgestem het nie, maar bitter baie lief was vir mekaar.

“Hulle het ook hul kinders bygestaan en gehelp waar hulle kan.”

Sakkie en Dalene was skoolliefdes en 43 jaar lank getroud. Hulle het die afgelope 40 jaar in Parys gewoon en Sakkie het as ʼn meganiese ingenieur in Sasolburg gewerk.

Oelofse sê haar pa het vroeër jare geboks en ook vir Parys se rugbyspan uitgedraf.

Dalene was ʼn tuisteskepper “wie se hande vir niks verkeerd gestaan het nie”.

Sakkie (62) en Dalene (60) Schlebusch was 43 jaar lank getroud. (Foto: Verskaf)

Sy vertel haar ouers was dol oor gholf en visvang, en dat hulle graag hul huis opgeknap het.

“Hulle het elke huis wat hulle ooit besit het, opgeknap en/of aangebou,” sê Oelofse.

Die egpaar se skoonseun Riaan Oelofse sê die familie gaan baie na die egpaar verlang.

“Dankie vir al die ondersteuning, hulp en liefde in oorvloed … tot op die einde. Julle het die wedloop voltooi en ons sal moedig voort hardloop. Dankie vir die tasse vol memories. Lief julle … vir altyd.”

 

Die egpaar laat altesaam nege kinders en skoonkinders asook 11 kleinkinders agter.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Jeffrey ·

Sjoe, dis absoluut aaklig! Kannie eens dink waardeer die naasbestaandes moet gaan nie. Baie baie hartseer. RIV

Papsak ·

Sterkte vir familie en kinders hartseer om n ouer te verloor

Carina ·

My innige simpatie aan naasbestaandes. Dit is so hartseer.

Shakespeare ·

Stukkende wêreld waar niemand jou kan verduidelik hoekom so ‘n tragedie moes plaasvind nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.