Ouers van mishandelde baba in hof

(Argieffoto: Unsplash)

Die saak teen twee ouers wat op klagte van kindermishandeling in hegtenis geneem is, het Maandag in die Noord-Gautengse hooggeregshof in Pretoria begin.

Maroela Media het in Augustus verlede jaar berig dat die ouers van die babadogtertjie, toe ses maande oud, op strafregtelike klagte van poging tot moord, aanranding met die doel om ernstig te beseer en kindermishandeling in hegtenis geneem is.

Dít het gevolg nadat AfriForum se privaatvervolgingseenheid ingegryp het ná die saak maande lank gesloer het.

Dié eenheid het op 24 Julie 2020 twee dokters en ’n maatskaplike werker by ’n polisiestasie in Pretoria bygestaan om ’n klag van kindermishandeling teen die ouers in te dien. Dít nadat die dogtertjie vir ’n tweede keer in dieselfde hospitaal opgeneem is met beserings wat met kindermishandeling gestrook het. Die dokters het reeds in April verlede jaar ’n klag van kindermishandeling by die polisie ingedien toe die baba slegs vyf weke oud was.

Die polisie het die saak aanvanklik ondersoek, maar die klaers ingelig dat die saak teen die ouers van die rol geskrap is omdat daar volgens die landdros ’n gebrek aan bewyse was.

Die baba is tydelik in haar ouma se sorg geplaas, maar sy is daarna weer terug na haar ouers.

Die privaatvervolgingseenheid het op 28 Julie skrywes aan die departement van maatskaplike ontwikkeling en die polisie gerig waarin geëis word dat die beweerde mishandeling van die baba onmiddellik aandag moet geniet om verdere trauma vir die slagoffer te voorkom.

Albei ouers het onskuldig op die aanklagte teen hulle gepleit.

“Die staat het vandag (Maandag) sy eerste getuie, ’n aangetroude familielid, geroep. Die familielid het getuig dat die ma van die baba haar gereeld verwaarloos het en dat die baba ook ondervoed was,” sê Jacques Broodryk, veldtogbestuurder by AfriForum.

“Dit is uiters teleurstellend dat die polisie in die eerste plek met die ondersoek gesloer het, en die saak daarna boonop van die rol geskrap is ondanks sterk bewyse teen die beskuldigdes.”

Volgens Broodryk het dít daartoe gelei dat die kind weereens erg aangerand is en by die dood omgedraai het.

“Dit is ’n onskuldige kind wat nie verdien het om ’n slagoffer van haar eie ouers te word nie. Dit is hoog tyd dat hoëvlakamptenare ophou met lippediens oor geweld teen kinders en vroue, en eerder begin optree teen oortreders.”

Die saak gaan Dinsdag voort.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Kathleen ·

sulke mense moet glad nie kinders hê nie , vat a u b die baba weg en plaas haar liewer in pleegsorg , ek sal sulke mense iets aandoen , hulle moet reguit tronk toe en daar sit en vergaan . Hoe doen mens sulke goed aan ‘n onskuldige baba ?

Anoniem ·

Waarom word onskuldige kinders teruggeplaas in hul ouers se sorg waar daar nie liefde en opvoeding plaasvind nie. Die Maatskaplike sy van ons land is regtig nie meer wat dit 20 jaar terug was nie. Daar is soveel ouers wat smag om ‘n kindjie met liefde te ontvang en versorg, waarom kan mishandelde kinders nie aan hul toegestaan word nie. Ten minste sal hul veilig wees en leer wat opregte liefde en versorging is en sal ons land minder kriminele hê

Retha ·

Net so swak soos die res van die dienste wat deesdae gebied word

Misky ·

Daai landdros moet ook sommer aangekla word. Dink hy nou werklik dat 2x dokters en ‘n maatskaplike werker sal lieg oor so iets???? Skandelik man!!

Retha ·

Skandalige optrede van landdos. Nie werd om een genoem te word nie

Casper ·

Dit is uiters hartseer om so iets te lees.Die eerste poging tot vervolging het misluk a g v onbekwa.e amptenare.Die ondersoekbeampte
het nie die instruksies gelees wat die aanklaer in die ondersoekdagboek geskryf het nie.Moet tog net nie toesluit en die sleutel weggooi nie want die ander prisoniere moet ook kos kry.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.