Outa eis antwoorde oor miljoene vir ‘haglike’ ablusiegeriewe by skole

Die drukgroep Organisation Undoing Tax Abuse (Outa) beweer miljoene rande van die Nasionale Loterykommissie het nie die bedoelde begunstigdes bereik nie, wat nou beteken duisende skoolkinders in Limpopo moet sien kom klaar sonder veilige, werkende ablusiegeriewe.

Die organisasie sê in ʼn verklaring hy het in Mei vanjaar oorsigbesoeke aan agt Limpopo-skole gebring, ná hy ʼn verslag getiteld “Limpopo Sanitation Report” onder oë gehad het. Die verslag, wat deur die kontrakteur Zibsifusion, aan die kommissie gegee is, het besonderhede bevat oor die vordering wat met die ablusiegeriewe by agt skole in Limpopo gemaak is.

Outa sê gevaarligte het reeds geflikker omdat die kommissie R10 miljoen toegeken het om geriewe by tien skole, nie agt nie, op te rig.

“Dié kommerwekkende onreëlmatigheid het tot ons besoek aan die skole in Limpopo gelei,” het Dominique Msibi, Outa se portefeuljebestuurder vir onderwys, Maandag gesê.

Die geld is aan Zibsifusion oorbetaal voordat die vorderingsverslag, wat Maart vanjaar gedateer is, opgestel is.

Outa sê die doel van sy besoek was om die gehalte en vordering van die werk, soos uiteengesit in Zibsifusion se verslag, self te monitor. Hy sê daar is ooglopend min bouwerk gedoen, selfs al hét Zibsifusion reeds die R10 miljoen ontvang. In die meeste gevalle het dit geblyk dat bouwerk eers onlangs, indien enigsins, begin is.

Msibi sê dit laat die vraag ontstaan waarop Zibsifusion se verslag gegrond was.

Outa het, na aanleiding van die besoek, ʼn verslag met sy bevindings saamgestel. Dit gee meer besonderhede oor die toestande van ablusiegeriewe by die skole, asook watter werk tussen November verlede jaar, toe Zibsifusion die geld ontvang het, en Mei vanjaar, toe Outa die agt skole besoek het, gedoen is.

Outa sê hy gaan die haglike toestand van ablusiegeriewe aan die groot klok hang.

Hy eis ook dat amptenare van die loterykommissie, wat betrokke was by die beweerde onreëlmatige uitbetaling van miljoene rande, verantwoordbaar gehou word.

“Die bevindings van dié besoek is net die oortjies van die seekoei wat betref ons ondersoek na die Nasionale Loterykommissie,” het Msibi gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

25 Kommentare

Gert van Wierdapark ·

Dit is HOOG TYD dat sulke soort korruptiewe optredes met mag en mening gepak word TOTDAT die krimininele self-verryking behoorlik gestraf word!!! Le beslag op Bates wat so bekom is, en gee ook Oranje pakkies vir die tronk! Die feit dat daar bykans daagliks nog korrupsie uitgewys word, is ON-RUS-BAREND verby!!! Skitterende werk OUTA!!!
.

Gert@Midstream Centurion ·

Oranje uitrustings kos nie so baie nie. Al die korruptes kan gehelp word. Wag vir die volgende STORIE binnekort.

Wonder net ·

Het hulle ooit tenders aangevra?
Meer as R10miljoen vir ablusiegeriewe by 8 skole. Dit is meer as R1miljoen per skool.
Kry elke leerling nou sy eie toilet?
Alweer ‘n projek wat tot selfverryking gelei het.
OUTA dreig ook net om iemand verantwoordbaar te hou. Daar sal niks van kom nie.

skurweberg ·

Dit het die norm geword om geen les te leer nie. As jy wolwe skaapwaters maak sal bedrog elke keer voorkom. Hierdie is maar net weer die tekens van ‘n mentaliteit wat deel is van ‘n bepaalde genetiese samestelling. Gebruik die geld waarvoor dit ge-oormerk. Die individue wat die aanstellings van personeel gedoen het moet ook nou aan die pen begin ry. Belastingbetaler.

Martin ·

Net nog n staatsinstelling wat korrup is. Meeste van die geld wat hulle inkry gaan na hul gatsakke toe.

Tobie Klarens ·

Outa is op die regte spoor. Hulle moet kyk na die honderde miljoene wat betaal is aan sport, insluitend rugby en krieket, maar wat nooit verder as “ontplooide kaders” se bankrekenings gekom het nie. Sportkaping is net so groot soos staatkaping.

Attie. ·

Ons moet probeer vrede maak met die feit dat alles in SA sal hand aan hand loop met bedrog en diefstal. Dit is hoe ‘n Derdewereldland opereer. Maak ons nie vrede daarmee nie sal ons later oor niks anders kan praat of dink nie. Ons ouer mense wat nooit dit sal kan bekostig om die land te verlaat nie moet hulle beleggings so belê waar inflasie dit die minste kan wegvreet want die Rand moet een of ander tyd erg begin val.

jennefer ·

Daar is nie net n tekort aan ablusie geriewe, daar is binnekort nie genoeg skole. OUTA kan gerus verslag doen oor die bevolkingsontploffing . Skreiend die hoeveelheid jong meisies met baba,s.

Spark Plug ·

Hier kom nog n staats betaalde vakansie vir die hele familie….met baie johnny walker

Gemaskerde Sopbeen ·

Wanneer STOP ons hierdie “vooruitbetaal” nonsense? Ek word vir NIKS vooruit betaal nie……ek doen die werk, die projek word afgeteken, en DAN word fakture voorgelê vir betaling….Is dit nie hoe dit werk nie?

Feite ·

Korrupsie kan nie beveg word deur agter duisende korrupte kaders aan te hardloop nie. Daar is te veel van hulle en die wat uitgevang word, word herontplooi en met kaders vervang wat bloot ook voortgaan om strategies opsetlik hulself en diegene in magsposisies wie hulle beskerm te verryk. Die ANC moet as n kollektief geblameer word en gebeurlikheidsplanne moet deur die opposisie in plek wees om orals waar geld vloei, korrupsie te verhoed. Die ANC as n kollektief verryk hulself met die doel om die res te verarm en in chaos te dompel ten einde sonder veel weerstand verandering te implementeer, te nasionaliseer en n revolusie te ontketen om die spore van staatskaping, privaat en pensioenfondskaping en korrupsie uit te vee. Alle anti-rewolusionere organisasies gaan gesamentlik en gemeenskaplik moet opstaan teen die ANC en die se rewolusionere kaderstrukture, anders kan hulle dit maar net so wel los, totdat hulle wanneer dit reeds te laat in die dag is, geforseer gaan word om gesamentlik en gemeenskaplik op te staan!

Leon ·

Jy kry die tender vir 10 miljoen. Jy wag ‘n jaar. Nou kan jy 20 miljoen vra want pryse het opgegaan. Baie slim.

Kolonel ·

Sekerlik kan die geldspoor gevolg word en die skuldiges gevind word?
Dis seker Jan wat veroorsaak het dat iemand so met sy eie mense mors?

jakes ·

Noem een staatsinstansie wat nie korrup is nie? Die Lotery instansie moet ondersoek word. N lys van name van lotto wenners moet vir die algemene publiek beskikbaar wees. Lewensstyl ondersoeke moet gedoen word op alle persone wat by die lottery werk en dan sal ons eers besef hoe korrup hierdie instelling werklik is. El praat nie eers van begunstiges wat geld van die lottery ontvang nie.

Black Jack ·

Loterygeld verdwyn oral in sekere bevoorregtes se sakke. Wat het loterygeld gedoen vir arm gemeenskappe? Niks wat gewys kan word nie!

George in Bloem ·

Soos gewoonlik sal hier niks van kom nie. Dit sal net doodeenvoudig onder die mat ingevee word.

Anoniem ·

Stop dit dan moet net nie n kaartjie koop nie want elkeen wat n kaartjie koop spoor net die korrupsie aan en jy koop en koop en wanneer wen jy. Doen bietjie mark navorsing en vind uit hoeveel bestee n person per maand/jaar en hoeveel wen hy. Dieselfde met dobbel. Julle maak satan ryk . As jy dan so besorg is oor behoeftiges vat dan jou dobbel geld/lottery geld en skenk dit elke maand aan n organisasie van jou keuse dan sal jy tenminste waarde vir jou geld sien.

Betaal ·

Solank jy hulle belasting betaal sal hulle net aanhou daarmee en niemand gaan hulle stop nie.

wielie ·

Dir is nie net in Limpopo nie ……… Gauteng se skole se ablusie vrot ook. So erg van die kinders weier om dit te gebruik.

Ai, Outa! ·

OUTA – how can you ask? you KNOW all the money was STOLEN???

Anoniem ·

Die enigste troos wat ek het oor die Lotto korrupsie, is dat dit nie met MY geld gedoen is nie. Dis nie belasting geld nie, en ek koop nie Lotto kaartjies nie.

Wonder maar net! ·

Ek kan maar net wonder watter persentasie van die lotto wins word ” gekaap” seker ook digby die 80%?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.