Owerheid monitor situasie ná Rustenburg-damwal bars

Geen geboue is beskadig of mense beseer toe die Paardekraal-dam in Rustenburg gebars het nie (Foto:
Mpho Manyaapelo, Twitter)

Geen beserings of sterftes is aangemeld en geen huise of ondernemings is beskadig toe die Paardekraal-damwal in Rustenburg Dinsdag weens aanhoudende reën meegegee het nie.

Volgens Thapelo Matebesi, woordvoerder van die Rustenburg-munisipaliteit, het water teen Woensdag nie meer oor die wal geloop nie.

Maroela Media het vroeër berig die gebiede wat regstreeks deur die voorval geraak word, is Mfidikwe, Paardekraal, Sunrise Park, Popo Molefe en Boitekong.

Verskeie paaie en brûe, waaronder Manuka en Ben Marais, het oorstroom.

“Omdat die reën nog nie verby is nie, monitor die munisipaliteit se rampbestuurspan die situasie dag en nag. Mense word gemaan om nie die betrokke paaie of brûe oor te steek nie,” sê Matebesi.

Volgens Matebesi sal die munisipaliteit so gou moontlik probeer om die damwal te herstel.

Talle damme stampvol

Die stampvol Gariepdam (Foto: Great Karoo, Facebook)

Volgens die Vrystaatse departement van water en sanitasie was die Vrystaat se damme teen Dinsdag verreweg die volste (sowat 15 657 miljoen m³). Damme in KwaZulu-Natal staan op 4 910 miljoen m³, gevolg deur Mpumalanga op 2 539 miljoen m³ en die Wes-Kaap op 1 866 miljoen m³.

In die Vrystaat is die Koppiesdam sowat 111,5% vol, gevolg deur die Egmontdam op 102,8%, die Kalkfonteindam op 102,7%, die Gariepdam op 102,6% en die Tierpootdam op 101,8%.

Die Driel Barragedam in KwaZulu-Natal staan op 107,4%, gevolg deur die Inandadam op 101,4% en die Mearnsdam op 101,2%.

In Mpumalanga is die Vygeboomdam tans 100,3% vol, gevolg deur die Heyshopedam wat sowat 99,3% vol is en die Witbankdam waarvan die vlak op 98,2% staan.

In die Wes-Kaap staan die Steenbrasdam op 95,5%, die Bergrivierdam op 95,4% en die Wemmershoekdam op 86,9%.

Reënvalsyfers

Volgens die Suid-Afrikaanse Weerdiens (SAWD) het sommige plekke die afgelope twee dae (Maandag en Dinsdag) tot 90 mm reën gekry.

In KwaZulu-Natal het die Riverview-gebied net Dinsdag 88 mm reënval aangeteken. Ulundi het Dinsdag sowat 39 mm gekry en reënval vir Shaleburn het op 65 mm gestaan.

Rustenburg het tussen Maandag en Dinsdag sowat 72 mm reënval ontvang. Mahikeng en Marico in Noordwes het oor die twee dae sowat 60 mm reën gehad.

Pretoria het tussen Maandag en Dinsdag plek-plek tot 50 mm reënval aangeteken en Johannesburg het op plekke tussen 30 en 40 mm reënval gehad.

In Mpumalanga het eMahlaleni oor die twee dae sowat 45 mm en Secunda 36 mm reënval gekry. Thabazimbi in Limpopo het sowat 55 mm reënval gehad en Mokopane sowat 45 mm.

In die Vrystaat het Bethlehem sowat 46 mm reënval aangeteken, Ficksburg sowat 37 mm en Bloemfontein ongeveer 30 mm.

Die weerdiens voorspel Donderdag reën oor groot dele van KwaZulu-Natal, Limpopo, Mpumalanga, Noordwes, die Vrystaat, die oostelike dele van Gauteng, die oostelike dele van die Oos-Kaap en die noordoostelike dele van die Noord-Kaap.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.