Pa beken skuld op dogter se verkragting

Foto bloot ter illustrasie. (Argieffoto)

ʼn Pa is swaar gestraf nadat hy skuld beken het op aanklag van verkragting en molestering van sy minderjarige dogter.

Die man het sy dogter vir minstens vyf jaar, vandat sy net sewe jaar oud was, seksueel aangerand en boonop gedeeltes uit die Bybel gebruik om die gru-dade te regverdig.

Hy het haar ook laat belowe om niemand van die aanranding te vertel nie.

Nadat die slagoffer op skool oor seksuele verhoudings geleer is, het sy egter besef dat haar pa haar al geruime tyd misbruik.

Phindi Mjonondwane, woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) in Gauteng, sê die 53-jarige man het Maandag in die Roodepoort-landdroshof verskyn waar hy 18 jaar tronkstraf opgelê is.

“Die hof het gehoor dat die beskuldigde sy dogter van 2010 tot 2015 verkrag het. Dit het egter opgehou nadat sy dogter oud genoeg was om te verstaan dat dit verkeerd is,” sê Mjonondwane.

Die dogter het in haar verklaring gesê dat die opvoeding wat sy oor verhoudings en intimiteit by die skool ontvang het, haar laat besef het dat haar pa haar uitgebuit het en sy vertrouensposisie misbruik het.

“Die slagoffer het haar ma toe oor die seksuele aanranding vertel en maande nadat sy ʼn sielkundige daaroor gaan sien het, is ʼn saak by die polisie aanhangig gemaak.”

Die slagoffer se ma, wat in 1992 met die beskuldigde getroud is, is in 2019 van hom geskei toe hy eindelik vir sy misdade vervolg is.

Die pa het verskeie kere in die hof verskyn waarna hy eindelik skuldig gepleit het op die aanklagte teen hom.

Danette van Schalkwyk, die streekshofaanklaer, het in die hof aangevoer dat, hoewel die pa volle verantwoordelikheid vir sy dade geneem het, die hof in aanmerking moet neem dat sy dogter met lewenslange letsels gelaat is deur sy optrede.

In ʼn poging om sy vonnis te versag het die skuldige verskeie getuies geroep, insluitend sy eksvrou, wat getuig het dat sy nie wil hê dat hy tronk toe gestuur moet word nie, aangesien dit haar in ʼn finansiële verknorsing sal plaas.

Die gesin het glo saam ʼn sielkundige gaan sien, waartydens die moontlikheid van korrektiewe toesig bespreek is. Dit sal dan vir die pa steeds moontlik wees om finansiële bydraes tot die slagoffer se universiteitsuitgawes te maak.

Ondanks die getuies het landdros Anneline Afrika gesê dat gelyke gewig aan die erns van die misdaad en die impak wat dit op die slagoffer gehad het, toegeken moet word.

Die pa is ʼn vonnis van 18 jaar vir verkragting opgelê en vyf jaar vir seksuele aanranding.

Die vonnisse word gelyklopend uitgedien.

Mjonondwane sê die NVG verwelkom die vonnis.

“Die NVG verafsku misdade van sulke gruwelike aard en hoop dat die slagoffer vertroosting vir haar verlore onskuld sal vind.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

VaalDonkie ·

Die Bybel seg jy mag nie by jou eie dogter ingaan nie, meneer.

Jakes ·

Die beskuldigde is siek. Hy gaan harde bene in die tronk kou want sommige bendes verafsku sulke afstootlike gedrag.

Sandra ·

Sluit toe en gooi die sleutel weg. Dat jy die Bybel gebruik het om jou molestering te staaf is onvergeeflik. Jou dogter sal die letsels vir nog baie jare dra oor jou gedrag

Adrie ·

Ek hoop hy gebruik sy 18 jaar om WERKLIK te Bybel te studeer en die Here te vind en REPENT.

Erika ·

Hierdie Skepsel is siek En Boonop die Woord gebruik om dit Regverdig… Jy gaan aanspreeklik gehou word vir jou Dade..met jou Dogter wie se lewe jy vernietig het

Jannie van Niekerk ·

‘n Kind se lewe is vernietig en hy kry net 18jaar?! Ons land se regstelsel is beslis korrup. Kinderverkargters en molesteerders behoort doodstraf te kry.

Mariaan ·

Nie n man…pa..of mens nie….sommer net n gemors vd aarde…nou moet ons vir hom sorg vir 18 jaar…patetiese regstelsel…..

MrMagic ·

Hierdie nonsens dat vonnisse gelyklopend uitgedien kan word moet gestop word. En wanneer parool wel toegestaan word op een vonnis dan moet die tweede vonnis ook nog uitgedien word.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.