Pa, dogter sterf op pad skool toe

Alexus Braun is in die motorongeluk dood. (Foto: Verskaf)

’n Familie is in rou gedompel nadat ’n pa van KwaZulu-Natal en sy twee dogters Vrydag in ’n ernstige motorongeluk op pad skool toe in Uvongo betrokke was. Dié motorongeluk het die lewe van Clint Braun (38) en sy dogter Alexus (12) geëis.

Clint se jongste dogter, Rae (10), het die ongeluk oorleef, maar kritieke beserings opgedoen waarvoor sy binnekort ’n breinoperasie sal moet ondergaan. Rae weet nog nie van haar pa en sussie se dood nie.

Die dogters se ma is boonop maar sowat ’n maand voor die ongeluk oorlede.

Collette Daraujo, ’n familielid, vertel Clint was gisteroggend op pad om sy twee dogters by die skool te gaan aflaai toe hul gesinsmotor teen ’n boom langs die R620 gebots het.

Rae Braun is tans in die hospitaal. (Foto: Verskaf)

Clint het na bewering weens water in die pad beheer oor die motor verloor. Die motor het die pad verlaat en teen die boom gebots.

“Help my dogters!” het Clint glo volgens ’n omstander op die toneel gesmeek, vertel Daraujo aan Maroela Media.

KwaZulu-Natal Private Ambulance sê in ’n verklaring Clint en Alexus was met paramedici se aankoms op die toneel in die motorwrak vasgekeer. Pa en dogter is gestabiliseer voordat hulle met behulp van die Ray Nkonyeni-brand-en-reddingsdienste uit die motorwrak bevry is.

Hul toestand het egter versleg en albei is kort daarna op die toneel dood verklaar.

Rae is ná die ongeluk met onder meer lies- en breinbeserings na die Port Shepstone- provinsiale hospitaal gehaas. Sy sal na verwagting nou binnekort na die Inkosi Albert Luthuli-hospitaal in Durban oorgeplaas moet word sodat sy ’n breinoperasie kan ondergaan.

Clint Braun is in die motorongeluk oorlede. (Foto: Verskaf)

Die familie doen intussen alles in hul vermoë om geld in te samel sodat Rae na ’n private hospitaal oorgeplaas kan word.

“Dit is baie traumaties vir Clint se ma [Anthea Britz],” vertel Daraujo, Britz se niggie. “Sy was baie naby aan haar seun. Hulle het maklik twee keer ’n dag oor die foon gesels. Hy was haar enigste seun en die dogters haar enigste kleindogters.”

Klik hier om meer te wete te kom oor Rae se toestand en die geldinsameling.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Misky ·

Dit is vreeslik hartseer. Daai arme dogtertjie het nou albei ouers en haar suster verloor. Innige simpatie aan almal wat geraak word.

Nommer 7 ·

Baie tragies. Ek wonder altyd hoekom sommige mense sulke tragedies moet oorkom.

Swerwer ·

Innige simpatie en meegevoel met die familie en naasbestaandes. Mag Rau ten volle herstel en met liefde omring wees vir die res van haar lewe.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.