Pa oor seun se skietdood: ‘Dit sal vir ewig by my spook’

Sibusiso Tshabalala in die hof (7 Junie 2018). Foto: ANA

Die pa wat vandeesweek per ongeluk sy seun buite ʼn Johannesburgse skool doodgeskiet het, het Donderdag in die hof gesê die voorval sal vir die res van sy lewe by hom spook.

Sibusiso Tshabalala (51) het in die Lenasia-landdroshof verskyn waarna hy op waarskuwing vrygelaat is.

Landdros Maggie Van Der Merwe het gesê die feite van die saak is gemene saak tussen die staat en die verdediging en daarom is die beskuldigde geskik om op borgtog vrygelaat te word. “Ek kan hierdie voorval net as tragies beskryf en te oordeel na die beskuldigde se vertoon van emosies, is dit ʼn voorval wat die res van sy lewe sal affekteer. Die beskuldigde het homself aan die polisie oorgegee en gee sy volle samewerking aan die polisie,” het Van der Merwe gesê.

Sy het gesê die direkteur van openbare vervolgings moet besluit of die saak moet voortgaan of nie.

Maroela Media het vroeër berig Tshabalala het Dinsdagaand buite die Fred Norman Secondary School in Ennerdale vir sy seun gewag toe hy aan die slaap geraak het. Die seun het teruggekom en aan die passasiersvenster geklop, waarna Tshabalala geskrik, sy vuurwapen uitgeruk en verskeie skote in die rigting van die venster afgevuur het.

Sy 14-jarige seun het op pad na die hospitaal gesterf.

Tshabalala se vrou het langs hom in die hof gestaan en hy het in trane uitgebars voor die verrigtinge begin het. Hy staan tereg op aanklag van moord. Van der Merwe het gesê die staat meen egter dit was nie moord met voorbedagte rade nie en die saak word daarom as ʼn skedule 5-aanklag aangehoor.

Tshabalala se regte is aan hom verduidelik en hy is gevra of hy verstaan. “Dit was ʼn eerste en pynlike fout,” het hy geantwoord.

Luyanda Tshabalala. Foto: Facebook via Fred Norman Secondary School.

Chwewe Machaka, vir die verdediging, het Tshabalala se verklaring aan die hof voorgelees waarin hy dit stel dat hy die afgelope vyf jaar as ʼn veiligheidswag vir die SAPD in Krugersdorp werk, R10 000 per maand verdien en nog drie afhanklikes het wat steeds op skool is. Hy het gesê sy vrou is werkloos en is ook finansieel van hom afhanklik.

Tshabalala het in sy verklaring verduidelik hy het in sy motor geslaap toe hy wakker geword het van ʼn harde geluid en ʼn gepeuter aan die motor. Hy het gedink hy word gekaap en het sy vuurwapen uitgetrek en geskiet. Hy het sy seun hoor skree: “Pappa, dis ek!”

Hy het gesê dit was donker buite en hy kon nie sien dit is sy seun langs die voertuig nie.

“Ek wil graag op borgtog vrygelaat word sodat ek my seun met waardigheid kan begrawe. Hierdie voorval sal vir die res van my lewe by my spook,” lui die verklaring.

Staatsaanklaer Tumi Maunye het gesê volgens die ondersoekbeampte het Tshabalala geen vorige veroordelings nie en is daar geen rede om te glo dat hy nie hofverrigtinge sal bywoon nie.

Panyaza Lesufi, LUR vir onderwys in Gauteng, het ook die hofverrigtinge bygewoon. Sy woordvoerder het ná die verrigtinge gesê die departement verskaf ondersteuning aan die Tshabalala-gesin.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

35 Kommentare

jongste oudste gewildste
Sommer net

Dit is tragies.

Carien

Wens mens kon hom en sy vrou ‘n drukkie gee. Hopelik het hul ‘n ondersteuningsnetwerk wat hul kan bystaan.

T Maree

ons innige simpatie vir hierdie ouers. Die voorval wys net weereens hoe effek het al die kapery, rowery, plundery, moord ens in ons landsburgers. Ons is almal gedurig op ons senuwees want enige iets kan enige tyd met jou gebeur.

Johan wessels

Dit is so n tragedie. Ek kan myself indink hoe die vader voel om sy eie prag kind te skiet in so n ongeluk. Ek vertrou dat die gereg versagtende omstanigheide in ag neem. Die seun is werlik n pragtige jong seun, sy lewe is kort geknip agv ons omgewing van diefstal en mense wat nie ander se lewe respekteer nie, ons normale mens op straat moet geduurig op jou hoede wees. Ek vertrou ons nuwe polisie. Hoof sal werk aan ons land se mense veiligjeid daarvan vir n beter SA. Ek sien en merk op dat daar wel positieve… Lees meer »

leahim

My innige simpatie, die land het n misdaad nes geword waar almal elke dag vrees vir hulle lewe