Pa stig glo brand waarin hy, dogters sterf

(Argieffoto: Miguel Roberts/AP)

ʼn 51-jarige pa en sy twee dogters, onderskeidelik nege en 13 jaar oud, is Maandag dood nadat die pa glo hul huis in die Nkowankowa-nedersetting, digby Tzaneen in Limpopo, aan die brand gesteek het.

Brig. Motlafela Mojapelo, woordvoerder van die polisie, sê die bure het omstreeks 07:00 die oggend gesien dat die huis in vlamme gehul was. Hulle het oor die heining gespring en die huis binnegegaan in ʼn poging om die pa en dogters te red.

“Hulle het een van die vensters gebreek om binne die huis te kom en kon daarin slaag om die pa, wat in daardie stadium al baie rook ingeasem het, te red. Hy is egter op die toneel dood.”

Mojapelo sê die hitte en rook het die bure egter gedwing om weer uit die huis te gaan. Die polisie, nooddienste en brandweerdiens is na die toneel ontbied.

“Nadat die brand in bedwang gebring is, is die gebrande liggame van die twee dogters in aparte kamers gevind.”

Voorlopige ondersoek dui daarop dat die pa en sy vrou geskei was en dat hul dogters by hom gewoon het. Albei dogters, geïdentifiseer as Mikateko Tonia Mboweni (13) en Tsakane Tilda Mboweni (9), was leerders aan die Meridian College in Nkowankowa.

Die pa is geïdentifiseer as Gledwin Mboweni en hy was die waarnemende streeksbestuurder van Statistieke Suid-Afrika in die Mopani-distrik in Limpopo.

Daar word vermoed dat die pa die huis met ʼn hoogs vlambare stof aan die brand gesteek het.

Lt.genl. Nneke Ledwaba, provinsiale polisiekommissaris, het die voorval veroordeel en gemeenskapslede wat huishoudelike of verhoudingsprobleme ervaar, aangeraai om professionele hulp te kry in plaas daarvan om tot uiterste stappe of geweld oor te gaan.

Die polisie ondersoek die saak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Riaana ·

Nee regtig… Moet hom nie n pa noem nie… Maar n moordenaar!!!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.